Suid-Afrika se mere, damme, riviere en bergstrome bied ’n pragtige buitelugervaring vir enige natuurliefhebber, maar vir ’n varswaterhengelaar is dit die allerbeste uitdaging: ’n plek om jou piekniekmandjie staan te maak, jou visstok uit te haal en in ’n skouspelagtige omgewing vis te vang. Hierdie ervaring is natuurlik soveel beter as jy op die koop toe behoorlik kan afskakel en jou gesin vir die naweek kan saamvat om ook die natuur te geniet en in jou vangs te deel. Daarom het LekkeSlaap blyplekke regoor Suid-Afrika gaan soek waar jy vir ’n naweek kan wegbreek én op die perseel kan visvang ─ van forel tot baars en kabeljou tot katvis, hier is iets van alles.  

Thorn & Feather

Vermaaklikheid, Wes-Kaap

Thorn & feather vermaaklikheid tuinroete garden route accommodation fishing group stay

Thorn & Feather sit rég op die oewer van die Duiwenhoksrivier aan die rand van ’n Afromontane-woud in Vermaaklikheid. Hierdie troeteldiervriendelike verblyf buite Riversdal en Stilbaai bied privaat toegang tot die rivier deur middel van ’n jetty en word eksklusief aan ’n groep van tot ses volwassenes en drie kinders verhuur. Terwyl jou geliefdes op die stoep by die binnebraai of op die dek met sy swembadjie en pragtige uitsig kuier, kan jy jou piekniekmandjie vat en na die riviermonding roei om kabeljou, leervis, witsteenbras en gespikkelde knorder te vang. As die gesin in die waterpret wil deel, is watersporttoerusting ook teen ’n ekstra fooi te huur. 

Kliek hier vir die tariewe.


Platbos Log Cabins

Naby Rawsonville, Wes-Kaap

Platbos log cabin rawsonville accommodation  remote stay fishing accommodation

Dié selfsorghouthuise skuil in ’n prentjiemooi vallei aan die hange van die Slanghoekberge buite Rawsonville. Sonder elektrisiteit en met die hulp van sonkrag en gastoebehore sal jy en drie geliefdes gehaltetyd hier kan deurbring. Sit op die stoep en gooi ’n vleisie (of ’n vissie) oor die ketelbraai of stap na die waterval via die fynbosroete, en wanneer die dam voor hierdie pragtige houtkothuise lekker vol is, loop die vis sommer ook vir ’n heerlike kunsvlieghengel-ervaring. Onthou om vooraf oor die damvlak navraag te doen en dat ’n voertuig met ’n hoë grondvryhoogte benodig word om die huisies te bereik. 

“Omgewing, ligging en afstand van Kaapstad was alles perfek. Die dam is asemrowend wanneer dit windstil is. Ons is verras deur die waterskilpad se besoek onder ons dek.”

– Henda K. oor Platbos Log Cabins

Kliek hier vir die tariewe.


Star Dam Estate

Natalse Middellande, KwaZulu-Natal

star dam estate group stay midlands meander accommodation kwaZulu-Natal KZN accommodation fishing stay

Hoe klink ’n privaat jetty in die middel van die KwaZulu-Natalse Middellande waar jy kan lyn natmaak? Star Dam Estate skuil in die Dargle-vallei en hier is vier luukse selfsorghuise met plek vir onderskeidelik ses, agt, twaalf of veertien gaste wat saam of apart bespreek kan word ─ elk met hul eie jetty. Gaste kan hul eie kano’s en ski-toerusting saambring, die bergfietsroetes op die perseel aanpak of perdry, maar as jy ’n kranige kunsvlieghengelaar is, bring jou visstok saam om ’n paar blinklywe te vang! Onthou, vissersbote is ook op die landgoed te huur.

Kliek hier vir die tariewe.


Breathe River Retreat

15 kilometer vanaf Parys, Vrystaat

breathe river retreat free state parys accommodation

Kom kuier op die oewer van die Vaalrivier buite Parys en staan die kans om karp, geelvis en katvis uit die water te trek! Breathe River Retreat bied vyf moderne, losstaande eenhede, elk met slaapplek vir vier en gaste kan by die boma of lapa kuier en om die kampvuur sit en vertel hoe groot die vis was wat jy vandag gevang het. Gaste kan ook kajakvaar en entoesiastiese voëlkykers sal gaande wees oor die meer as 450 voëlspesies wat hier voorkom. 

“Ontspannend! Lekker visvang! Uitstekende diens!”

Marianne L. oor Breathe River Retreat

Kliek hier vir die tariewe. 


Pavetta Country House

Magoebaskloof, Limpopo

Pavetta Country House magoebaskloof haenertsburg accommodation fishing trout fishing

As jy op soek is na ’n sprokiesagtige visvangbestemming, moenie verder kyk as Pavetta Country House nie! Hier is twee selfsorgkothuise langs ’n dennewoud met ’n uitsig oor die Haenertsburg Forelvereniging se trofeedam. Die huise het slaapplek vir onderskeidelik tien gaste of vir agt volwassenes saam met twee kinders, en het albei ’n kaggel vir die wintermaande wanneer die reën en mis hierdie pragtige landskap nog méér soos ’n feëverhaal laat lyk. Onthou, hengel word slegs op ’n vang-en-vrylaatbasis toegelaat en jy mag slegs met hoeke sonder weerhake hengel, so bring jou sportmansgees, eerder as jou beste forelresep saam! 

Kliek hier vir die tariewe.


Blue Crane Farm

17 kilometer vanaf Dullstroom, Mpumalanga

Blue Crane Farm Dullstroom highlands meander fishing accommodation trout fishing

Blue Crane Farm is tussen Belfast en Dullstroom en bied verblyf in sewe gerieflike kothuise met plek vir twee tot agt gaste. Elke kothuis het ’n kaggel en ’n onderdakstoep met braaigeriewe, maar die beste van als is die damme op die plaas waar gaste reënboog- en bruinforel kan hengel! Jou geliefdes hoef egter nie binne te bly terwyl jy langs die viswaters staan nie, want daar is ook verskeie pragtige land- en watervoëlspesies om te sien en staproetes op die plaas waar gaste sebras en verskillende boksoorte kan sien.  

“Ongelooflik rustig. Lekker visgevang.”

– Eric D. oor Blue Crane Farm

Kliek hier vir die tariewe.


Tides River Lodge

Naby Malgas, Wes-Kaap

tides river lodge malgas verblyf accommodation

Tides River Lodge is in ’n beskutte baai op die oewer van die Breederivier. Hier in Malgas, net ’n entjie se ry vanaf Kaapstad, sal julle in vier eenhede, elk met die nodige selfsorggeriewe kan kom rus en kan die kinders na hartelus op die gras baljaar terwyl jy jou vislyn agter knorder en kabeljou aan laat loop. Die rivier is ideaal vir kanovaar en die De Hoop Natuurreservaat is net veertien kilometer van die lodge af vir ’n lekker daguitstappie.

Kliek hier vir die tariewe.


Rivendell Trout Estate

17 kilometer vanaf Lydenburg, Mpumalanga

Rivendeel Trout estate panorama route fishing trout fishing accommodation

Hierdie twee pragtige klipkothuisies op die oewer van die Spekboomrivier is op jou pad na Dullstroom, Pelgrimsrus, Bourke’s Luck se kolkgate en Krugerwildtuin toe. Daar is plek vir agt gaste elk, ’n lekker groot kaggel en ’n dek met braaigeriewe waar julle met die terugkomslag julle vangs in styl kan braai. Die Rivendell Trout Estate val binne die Mount Anderson Wateropvangsgebied, ’n bewarea waar koedoes, bosbokke, duikers, bosvarke en bobbejane deurbeweeg, dikwels wanneer gaste by die waterrand staan en vir reënboogforel hengel.

“Die rivierwater is skoon so mens kan die visse mooi sien, wat help met die visvang.”

– Maike K oor Rivendell Trout Estate

Kliek hier vir die tariewe. 


Spring Valley

Dullstroom, Mpumalanga

spring valley cottages dullstroom accommodation trout fishing stay

Verlustig jou in ’n skouspelagtige omgewing vol golwende, gransgroen heuwels waar jy heel dag langs die viswaters kan staan en forelhengel. Spring Valley is net ’n kort entjie buite Dullstroom en bied slaapplek in een van die Spring Valley Retreat se vyf eenhede vir twee gaste elk, én in die groter en Serengeti-eenheid vir agt gaste. Kaggels kraai hier koning op kouer dae en daar is die bonus dat jou troeteldiere ook hier welkom is ─ so die hele gesin kan uit jou visvangnaweek genot put!

Kliek hier vir die tariewe. 


Old Willow No.7 Houseboat Charters

Sasolburg, Vrystaat

Old Willow No.7 Houseboat Charters huisboot accommodation vanderbiljpark boating accommodation

Visvang van ’n huisboot af? Dan is die hele rivier mos joune! Kom wees die kaptein van jou eie huisboot by Old Willow No. 7 Houseboat Charters wat nege bote op die 55 kilometer-lange Vaalrivier Barrage bestuur. Na ’n kort opleidingsessie, kry die kaptein in julle wegbreekspan ’n tydelike skipperslisensie en kan tjoeps en visstokke teen ’n ekstra koste by die instansie gehuur word vir pret op die rivier. Elke huisboot het plek vir vyf gaste en julle kan lekker op die boot se dakdek sit en die voëllewe dophou, op binnebande dryf, by verskeie vasmeerplekke naby restaurante, spa’s en kasino’s aan wal gaan, of van die dek af hengel! Kinders onder twee jaar bly gratis. 

“Dis ’n visvang-paradys daai […] My man wil nie eers terugkom [huis toe] nie. Hy het sy grootste vis nog daar gevang. Hy skat hom so ’n 10 kg-karp.”

– Doreen R. oor Old Willow

Kliek hier om die tariewe te sien.


Katrinasrust Country Estate

35 kilometer vanaf eNtokozweni (Machadodorp), Mpumalanga

Katrinasrust machadadorp accommodation

Dié privaat forelplaas buite eNtokozweni (Machadodorp) is ’n welkome toevlugsoord vir moeë stadsjapies ─ soveel te meer as hulle van visvang hou! Katrinasrust Country Estate bied verblyf in drie unieke eenhede. Van ’n koepelvormige eenheid vir twee met sy eie Kol-Kol-houtvuurwarmbad, en ’n historiese kothuis vir tien gaste met ’n vuurput en ’n kaggel, tot ’n groot kothuis vir twaalf gaste met ’n pizza-oond en ’n groentetuin, Katrinasrust hoort op jou reislysie! Hier is jou troeteldier ook welkom en julle kan die voetslaanroetes op die plaas verken, ’n piekniek pak of met jou visstok in jou hand langs die damme op die perseel ontspan.

Kliek hier vir die tariewe.


Full Circle Cottage

Kenton-on-Sea, Oos-Kaap

Full Circle Cottage eastern cape accommodation kei river

Full Circle Cottage is die perfekte wegbreek vir ’n gesin of twee paartjies en bied toegang tot jou eie jetty en 300 meter se Boesmansrivierfront. Nóg beter is dat jou troeteldier ook welkom is as jy dit vooraf reël. Gaste kan bootvaarte en riviervisvang-uitstappies teen ’n ekstra koste bespreek of hul eie bote op versoek saambring en kabeljou, knorder en leervis is die visspesies wat meestal hier gevang word. Die kothuis werk met sonkrag, dus sal julle ’n bietjie van julle gerief vir ontspanning en samesyn moet prysgee, maar die nodigste word voorsien sodat julle lekker kan kuier en gaste het ook toegang tot watersporttoerusting soos kano’s, paddle ski’s, ’n staanroeibord en visstokke. 

“Die jetty was ons gunstelingplek en is perfek vir skemerkelkies, sterrekyk en visvang.”

– Gerda H. oor Full Circle Cottage

Kliek hier vir die tariewe.


Lowestoffe Country Lodge

Hogsback, Oos-Kaap

Kom maak lyn nat op ’n 5500 hektaar-plaas in die Elandsberge naby Hogsback. Die Klipplaatrivier vloei deur die plaas en bied talle piekniekplekke en diep waterpoele waar jy vir geelvis, forel en baars kan hengel. Daar is drie ruim huise wat gerieflike plaasverblyf bied en die huise is ver uit mekaar en word deur groot grasperke omring waar kinders kan baljaar. Die weer wissel baie en sneeu is al reg deur die jaar hier opgeteken, so die kaggel sal onteenseglik ’n toevlug wees, soms selfs in die somermaande as die hitte by die huis druk! 

Kliek hier vir die tariewe.


Kingfisher Cottages, Langhoogte Farm

Buite Montagu, Wes-Kaap

Kingfisher cottages trout fishing western Cape montagu

Op hierdie pragtige plaas buite Montagu kan jy nie net hengel nie, maar ook ingelegde forelprodukte en vars forel koop of ’n visvangles bespreek. Dit is dus die ideale bestemming vir beginnerhengelaars of diegene met kinders wat vir die eerste keer wil lyn natmaak. Die grondpad neem jou na vier eko-vriendelike klipkothuise, sommige met kaggels en braaiplekke, en ander met ’n gemeenskaplike lapa en ’n eko-swembad waar julle lekker kan uitspan. Die een kothuis, Malachite, is ook troeteldiervriendelik op versoek! Gaste moet onthou dat forelhengel teen ’n ekstra koste per kilogram geskied. 

“Ons het die rotspoele en eko-swembad vreeslik geniet! En die visvang was die kinders se hoogtepunt.”

– Ronel P. oor Kingfisher Cottages

Kliek hier vir die tariewe.


Canyon Cottage

10 kilometer vanaf Dullstroom, Mpumalanga

Canyon Cottage dullstroom highlands meander mpumalanga accommodation

Dié karaktervolle selfsorgvakansiehuis vir tien gaste is op die veilige Walkersons Privaat Landgoed buite Dullstroom en is een van die oorspronklike vissershuisies wat op dié landgoed gebou is. Die huis is in die bo-lope van ’n pragtige kloof versteek en skuil tussen hoë bome direk op die rivieroewer. Steek die kaggels aan vir ’n gesellige en warm atmosfeer, en as jy die buitelewe wil geniet, kan jy die vars berglug met ’n stappie inneem, ’n piekniekmandjie pak of jou langs die bergstrome  staanmaak en kunsvlieghengel. 

Kliek hier vir die tariewe.


Fish Eagle Log Cabin

Buite Potchefstroom, Noordwes

fish eagle log cabin north west accommodation fishing weekend

Lus vir ’n visvangnaweek in Noordwes? Mik dan na Fish Eagle Log Cabin, ’n sonkragaangedrewe selfsorghouthut vir agt gaste op die Vaalrivier se oewer in die Vredefortkoepel Wêrelderfenisgebied. Hier is niks om jou rus te versteur, buiten die gekrys van visarende en die gekabbel van die rivier en saans, as jy opkyk, sal die sterre ál wees wat die lugruim versier. Die houthut is rondom die dubbelsteenkaggel in die leefarea en die hoofslaapkamer gebou en dit is hier óf langs die rivier waar julle die meeste van julle tyd sal wil deurbring. 

“Dit was ongelooflik lekker! Ons het so lekker visgevang, 23 karp van 2,5 – 3,6 kg.”

– Yolanda A oor Fish Eagle Log Cabin

Kliek hier vir die tariewe.


Copperleigh Trout Cottages

Dargle, KwaZulu-Natal

copperleigh trout cottages forelhengel

Soos die naam tereg wys, is forel jou voorland as jy by Copperleigh kom rus. Hier is 2 selfsorgkothuise vir ’n gesin van nege (ses volwassenes en drie kinders) of vir twee gaste op ’n pragtige skaap- en beesplaas op die oewer van die Maveladam. Die groter kothuis het ’n kaggel, ’n vuurput en ’n braai en die kleiner een het ’n braai en verwarmers vir die kouer maande, maar beide bied Middellandse bekoring soos jy net hier tussen die grasgroen heuwels kan ervaar!

Kliek hier vir die tariewe.


Kry jou visstok en aas, boender die kinders in die kar en vat die pad na jou volgende visvangnaweek met hierdie lekke plekke. En onthou, daar is nog talle soortgelyke visvangvakansies op ons webtuiste.

Hooffoto: SANParks Augrabies Rest Camp is ook ’n wonderlike visvangwegbreek!