Of jy nou ’n aanhanger van romanse, komedie, speurverhale of rillers is ─ by dié bekende blyplekke kan jy jou drome oor beroemdheid gaan uitleef! LekkeSlaap wys jou ’n handjievol plekke wat al op jou kassie verskyn het en waar jy jou kan verbeel jy is ’n sepie- of filmster.

Kleinkaap Boutique Hotel

Centurion

Baie mense ken dié hotel dalk as Hotel Fransenburg, wat in die Afrikaanse mokumentêr, Hotel, verskyn. Jy gaan wel nie vir Danny, Jony, Ferdie of Thomas hiér raakloop nie, maar jy kan rondloop met die wete dat Schalk Bezuidenhout, Simoné Nortmann, James Borthwick en Beer Adriaanse op hierdie presiese plek gestaan het. 

View this post on Instagram

A post shared by Schalk Bezuidenhout (@schalkiebez) on

Dié mokumentêr, wat deur Stiaan Smith en Bennie Fourie geskryf is, het in 2016 sy debuut op kykNET gemaak. Dit handel oor ’n middeljarige hotelbestuurder wat sukkel om Hotel Fransenburg se deure met ’n handjievol onbevoegde personeellede oop te hou. Alhoewel ’n mens lekker lag vir dié spul wat sukkel om gaste gelukkig te hou, kan gaste wat by die Kleinkaap Boutique Hotel inklok, gerus wees dat hulle viersterdiens sal ontvang en in luukse suites sal oornag.

Gaste kan in een van die 34 kamers oornag wat óf twee enkelbeddens óf ’n ekstra lang koninggrootte-bed het. Die verblyf sluit ook ’n heerlike ontbyt in wat gaste by die restaurant, 16th Lintel, kan geniet. Al die maaltye word met vars bestanddele uit die hotel se tuin voorberei.  

Kleinkaap Boutique Hotel

Trekpleisters in die omgewing

Centurion Mall |  Voortrekkermonument |  Gold Reef City | Springbok Park | Cullinan Tours | 5 Skippas | Market @ the Sheds | Klitsgras Drumming

Karoo Vreugde

Merweville

Karoo Vreugde bied selfsorgverblyf in Merweville ─ ’n wegbreekbestemming wat waarskynlik op almal se lysie is nadat Die Boekklub sy verskyning gemaak het. Karoo Vreugde staan in die dramareeks as “Bettie se Gastehuis” bekend en is dié gastehuis wat Tom Niemandt (Armand Aucamp) by sy ouma, saam met die helfte van haar erfgeld, geërf het ─ mits hy ’n jaar lank in Merweville woon. Dis nie vir ’n stadsjapie maklik om aan die stil en stadige Karoowêreld gewoond te raak nie, maar dit was nie lank voor die kleindorpiemense in sy en ons harte gekruip het nie. Die Boekklub se karakters is fiktief, maar weerspieël tog die tipe mense wat jy in hierdie Karoodorpie sal vind. 

View this post on Instagram

A post shared by C h r i s t i a V i s s e r (@christia_visser) on

Karoo Vreugde bied slaapplek aan ses gaste. Die groot stoep is perfek vir ’n lekker braai en kuier saam met familie en vriende. Daar is ’n slaghuis op die dorp waar jy jou vleis-aankope kan doen en moenie vergeet om die historiese kerk te besoek nie.

 Karoo Vreugde

Trekpleisters in die omgewing

Huis Mervia-koffiewinkel | Dankfees | S2M Sutherland na Merweville-fietstoer | 4×4- en voetslaanroetes 

Vrede en Lust Estate

Franschhoek

Dié pragtige wynlandgoed het in 2012 beroemdheid verwerf toe ’n groot gedeelte van Semi-soet daar verfilm is. In dié film is Jaci van Jaarsveld (Anel Alexander) só desperaat om besigheid met Vrede en Lust te doen dat sy enigiets sal doen om die kontrak te kry. Om haar kanse te verbeter, huur sy ’n kêrel (Nico Panagio), min wetend dat dit die man is wat haar besigheid wil sink. Dié paartjie, wat mekaar aanvanklik nie kan verdra nie, raak smoorverlief op hierdie landgoed. Die film is net fiksie, maar ’n mens kan maklik glo dat daar enigiets op dié wynplaas kan gebeur! 

View this post on Instagram

A post shared by Diaan Lawrenson (@diaanlawrenson) on

Die paartjies in die film het in die herehuis oornag ─ ’n statige gebou wat in 1688 deur Vrede en Lust Estate se eerste eienaar gebou is. Daar is slaapplek vir agt gaste in dié huis en elke venster bied die mooiste uitsig oor die landgoed. ’n Smullekker ontbyt is ook by die pakket ingesluit.

En binnekort sien ons weer hierdie karakters op ons kassies in Semi-soet 2!

Vrede en Lust Estate

Trekpleisters in die omgewing

Hugenote Museum en Monument | Lust Bistro & Bakery | Meer as 40 wynkelders | Babylonstoren | Solms-Delta | winkeltjies | kunsgalerye

Ark Gastehuis and B&B

Williston

Wie het nou nog nie van ’n lekker road trip gedroom nie? Die film, Susters, wys hoe drie susters, vertolk deur Diaan Lawrenson, Leah en Quanita Adams, hul bande met mekaar versterk, maar ook hoe hulle elkeen weer hulself vind. Van die stad na die Karoo en al die pad tot by die see breek dié susters weg uit hul gejaagde lewens en neem ’n oomblik om na te dink oor waar hulle in die lewe is. Die Ark Gastehuis and B&B is waar die susters weer hul ou talente uitgrawe en saam sing soos hulle in hul jongdae gedoen het.

Susters

Hierdie gastehuis beloof om nét so prettig soos in die film te wees. Die gastehuis is in die bekende Williston Mall geleë en bied sewe slaapkamers en ’n huis. Die kamers is uniek en smaakvol versier en elke kamer het ’n en suite-badkamer.

Gaste kan vermaak vind op die groot perseel wat ’n karnaval met prettige ou speletjies, putt-putt en ’n plaaslike handwerkwinkel bied. Die gastehuis het ’n swembadjie, ’n braai-area en ’n gemeenskaplike sitkamer met speletjies en legkaarte. Daar is ook ’n kroeg, Doppies Bar, vir oornaggaste.

Ark Gastehuis and B&B

Trekpleisters in die omgewing

Korbeelhuise | Grafsteenroete | Winterfees

Die Tuishuise & Victoria Manor

Cradock

Die speurreeks, Spoorloos, wat in Oktober 2018 op kykNET begin het, speel in Cradock af. As jy weekliks vasgenael voor die kassie gesit het, sal die Victoria Manor ’n bekende gesig wees. Spoorloos het kykers byna drie maande lank vasgevang terwyl almal probeer uitpluis wie die wrede ontvoerder en moordenaar op die fiktiewe dorp, Digtersdal, is. 

View this post on Instagram

A post shared by Kim Syster (@kimmikaykay) on

Dié deftige hotel dateer uit 1848 en het antieke meubels en elegante ruimtes wat jou definitief óók sal ontvoer! Gaste kan in een van die en suite-hotelkamers of in een van die vier tuishuise oornag. Buiten die absolute stilte van die Karoo sal Die Karoo Comfort Zone jou ook help om te ontspan ─ dis ’n gesondheid- en skoonheidsentrum wat maserings bied. 

Die Tuishuise & Victoria Manor

Trekpleisters in die omgewing

Olive Schreiner House | Visrivier Museum | Cradock Vier-monument | Bergkwagga Nasionale Park | Namakwa Nasionale Park | Cradock Spa 

Vleidam Guest Farm

Koringberg

Dié gastehuis speel ’n baie prominente rol in die film, Koringberg ─ ’n Suid-Afrikaanse, spookagtige spanningsverhaal wat ons wys dat plattelandse dorpies nie altyd so rustig en onskuldig is nie. In dié film probeer ’n paartjie, vertolk deur Andre en Juanita Velts, ’n nuwe begin weg van die stad maak, maar bevind hulself in ’n plaashuis vol gevaar en geheime. Die kothuise op Vleidam Guest Farm is in 1920 gebou en al drie staan nog op hul oorspronklike fondasies. Gelukkig sal die pragtige uitsig en kalmte enige vrees wat gaste dalk oor Koringberg het besweer (maar ons sal wel voorstel dat gaste nie die film Koringberg kyk terwyl hulle daar oornag nie).

 Koringberg | Verskaf

Kothuis 1 en 2 het slaapplek vir vyf gaste en Kothuis 3 het slaapplek vir twee gaste. Elke eenheid het ’n en suite-badkamer, ’n verwarmer en ’n groot stoep met braaigeriewe.


Vleidam Guest Farm

Trekpleisters in die omgewing

Landboukundige toere | 4×4-roetes | Volmaanvoetslaan | Dasklippas | Swartland-wynroete | Nieuwedrift | Dunn’s Castle | Misverstanddam

Bespreek ’n plek uit jou gunsteling-reeks of -film ─ of jy nou beroemd is of nie, by dié instansies sal jy soos ’n ster voel. Wie weet, dalk sien jy tóg ’n bekende gesig!

 Susters

Hooffoto: Bigstock