Ons weet dis hartverskeurend om jou vierpootkinders by die huis te los wanneer jy met vakansie gaan. Met LekkeSlaap.co.za se handige troeteldiervriendelik-filter is daar geen rede waarom Wagter nie saam met jou kan reis nie. Ons het dit goedgedink om hierdie lys naweekwegbreke buite Johannesburg bymekaar te maak waar troeteldiere welkom is, mits dit vooraf met die gasheer gereël word. So, rol af en kyk ’n bietjie watter blyplek jou oog vang ─ as jy weer sien, is dit jy, Wagter en die langpad!

Twikataani Private Game Lodge, Hekpoort

By Twikataani Private Game Lodge slaap jy in unieke chalets met ’n Indonesiese styl op ’n privaat wildsplaas in die Magaliesberge. Elke chalet het ’n en suite-badkamer en koffie- en teemaakgeriewe, én jou ontbyt is ingesluit. Daar is ook ’n kroeg, swembad, Jacuzzi, bioskoop, spa, gimnasium en braaigeriewe, en jy kan op die perseel wildkyk. As jy vir Wagter saambring, moet jy seker maak hy is goed gemanierd en sal nie die wild op die perseel pla nie. Bring ook asseblief sy eie beddegoed en ’n bewys van sy anti-bosluismedikasie saam.

Die Withuis, Rosendal

Hierdie ruim selfsorgkothuis is in die middedorp in Rosendal geleë en spog met ’n pragtige uitsig op die berge. As jy en jou wederhelfte op soek is na ’n troeteldiervriendelike plekkie vir die naweek is dié erf wat ten volle omhein is, ideaal. Die slaapkamer en leefarea lei via skuifdeure na die dek, en daar is ook ’n plaasstyl-plonspoel, braaigeriewe, ’n sambreel en buitestoele sodat julle lekker buite agteroor kan sit. Wagter is hiér ook welkom ─ hy word net nie op die meubels toegelaat nie.

Ridge Road Estate, Clarens

Ridge Road Estate skuil in Clarens aan die voorheuwels van die Maluti- en Rooiberge en bied selfsorgverblyf in The Country House met ’n Franse styl en slaapplek vir twaalf en die Windmill Cottage met slaapplek vir ses. Elke huis het ’n goed toegeruste selfsorgkombuis, braaigeriewe en ’n privaat swembad. Hiér word maksimum drie troeteldiere teen ’n ekstra koste toegelaat, so onthou asseblief om dit vooraf met die gasheer te bespreek.

Die Kliphuis, Standerton

Bespreek ’n wegbreek by dié bekoorlike boetiekhotel met ’n interessante geskiedenis en baie karakter in Standerton. Dié elegante sandsteenplaashuis bied B&B-verblyf in kamers met en suite-badkamers en koffie- en teemaakgeriewe en daar is ’n restaurant, kroeg en ’n pragtige tuin. Jou vierpootkinders kan by jou in die kamer slaap, maar word nie op die bed toegelaat nie, so onthou tog hulle bedjies!

The Ancient Copper Shed, Potchefstroom

Hoe klink ’n selfsorgwegbreek met ’n uitsig oor ’n wildsplaas net buite Potchefstroom? Verblyf word in drie selfsorg-grasdakeenhede wat elkeen slaapplek vir vier gaste het aangebied, maar die Egypt-eenheid is spesifiek ideaal vir troeteldiere omdat dit met ’n omheinde area in die tuin spog. Daar is ook ’n kaggel in die sitarea, ’n stoep, ’n buitestort, ’n boma-braai en eetbare kruie in die tuin.

The Nelsbells Cottage, Clarens

Dié ongekunstelde Victoriaanse huis spog met ’n stoep wat reg rondom die huis strek en is stapafstand vanaf Clarens se middedorp waar jy ’n rits kunsvlyt- en handwerkwinkeltjies sal raakloop. Daar is ’n hoofhuis met drie slaapkamers, ’n oopplan-leefarea met ’n kaggel en ’n ten volle toegeruste kombuis, en ’n tuinwoonstel met slaapplek vir twee, ’n en suite-badkamer en koffie- en teemaakgeriewe. Bring vir Wagter saam en verken dié kunstenaarsdorpie!

De Buck Guest Farm, Reitz

Ontsnap na hierdie groot drieslaapkamerplaashuis in die hartjie van die Oos-Vrystaat. Daar is springbokke, swartwildebeeste, blesbokke en waterbokke op die plaas en meer as genoeg ruimte vir bergfietsry, voetslaan en visvang ─ jy kan selfs jou eie vierwielmotorfiets saambring om die plaaspaaie te verken! Tref vooraf die nodige troeteldier-reëlings met die gasheer en met jou volgende wegbreek sit jy en jou beste vriend langs die braaivleisvuur onder die Vrystaatse sterre.

Saamrus Guest Farm, Magaliesburg

Hierdie gasteplaas is in ’n woudagtige vallei tussen ’n stroompie en die Magaliesberge se voorheuwels geleë. Bespreek een van die selfsorgplaaskothuise en geniet ’n rustige wegbreek saam met jou gunsteling-mense en -troeteldiere in die natuur. Elke kothuise is ten volle toegerus en spog met ’n troeteldiervriendelike, omheinde tuin. Maak asseblief seker Wagter is teen vlooie behandel en onthou om sy hondebed en -bak saam te bring.

***

Met hierdie lekke lys troeteldiervriendelike blyplekke naby Johannesburg is daar geen rede om Wagter volgende naweek by die huis te los nie. Kies jou gunsteling, bespreek en geniet ’n luilekker, sorgelose wegbreeknaweek ─ jy, én Wagter, verdien dit!