“As Swakopmund se mis so goud en koper skyn, die juweel van die Skedelkus op die heup van die woestyn … ” ─ Valiant Swart

As die Namibwoestyn aan jou een kant is en die Atlantiese Oseaan aan jou anderkant, móét daar iets besonders in die middel skuil ─ en dís Swakopmund! Dié woestyndorp is sowat 350 kilometer van Windhoek af en het deur die jare van ’n hawedorpie tot die vierde grootste dorp in Namibië gegroei. Al kan Swakopmund vandag as ’n stad bestempel word, heers daar steeds ’n ouwêreldse betowering wat in die Duitse boustyl weerspieël word. LekkeSlaap het ’n draai in ons buurland se immergewilde kusdorp gaan maak en vertel graag waarom Swakopmund deel van jou volgende Namibiese toer moet wees!

Speeltyd

Van luilekker middae op die strand en langs die viswaters, tot adrenalienbelaaide sweefsessies en 4×4-ritte oor enorme duine ─ Swakopmund sal beslis die hele gesin vermaak!

Wees weer kind

Die Nasionale Marine Akwarium naby die hawe neem jou op ’n verkenningstog soos min wanneer jy deur die glastonnel stap en van aangesig tot aangesig kom met galjoene, Weskus-steenbrasse, baardmanne, skeurtandhaaie, skaamhaaie, Afrika-pikkewyne, swartsterte, seekatte, groen skilpaaie, pypvisse en anemone. Ná dié opwindende ervaring kan jy en die jongspan op die strand roomys eet en in die branders baljaar!

A post shared by Lauren Fisher (@fishlauren) on

Job se geduld

Menige visserman reis jaarliks van heinde en verre om aan die Namibiese kus te kom visvang en met goeie rede ─ die koue Benguela-seestroom is ideaal vir strandhengel ─ kabeljou, galjoen en steenbras is volop. Wat Swakopmund se strand nóg meer besonders maak, is dat jy met jou 4×4 tot by die see kan ry en dan heeldag op die strand kan kuier. Onthou om ’n piekniekmandjie en sonsambreel in te pak sodat die hele gesin in die ontspanne uitstappie kan deel. Jy kan ook van die jetty af visvang terwyl die japsnoete lyfplankry. As jy ’n entjie verder wil ry, is Walvisbaai en Hentiesbaai ook bobaas-visvangbestemmings met visvangplekke soos Bennie se Rooi Lorrie, Tolla se Gat en Sarah se Gat.

A post shared by Kondwanie Chirembo (@kondwanie) on

Murg in jou pype

Buiten branderplankry, vlieërbranderry en perdry kan jy ook ’n lugballonvlug aanpak waartydens jy die woestyn uit die wolke kan aanskou. ’n Besoek aan Swakopmund is natuurlik nie volmaak sonder om met ’n sandplank teen die duine af te gly nie. As jy brawer is kan jy boonop die sandduine met ’n 4×4 aandurf en as die adrenaliengogga jou behóórlik byt, kan jy selfs valskermsweef!

’n Fees vir die oog

As jy van rondsnuffel hou, sal Swakopmund se strate jou ure lank besig hou. Daar is boekwinkels, boetieks, kunsgalerye en straatmarkies met Afrika-kuns en ander handwerk om elke hoek en draai. Nadat jy ’n handjievol modestukke en aandenkings aangeskaf het, kan jy ’n draai by die jetty se restaurant gaan maak waar jy die dag met ’n skemerkelkie en soesji kan afsluit.

A post shared by Iryna (@lisovenchik) on

Outyd

Swakopmund is in 1892 as ’n Duitse hawedorpie gestig en die Duitse argitektuur vanuit die laat negentiende en vroeë twintigste eeu blyk duidelik in die geboue se vloei en swier wat ook as Jugendstil of Art Nouveau beskryf kan word. Maak seker jy kry ’n paar van dié geboue onder oë:

Woermannhaus dateer ongeveer uit 1905 en was aanvanklik ’n Duitse handelskantoor. Daarna het dit 40 jaar lank as ’n skoolkoshuis gedien en in die 1970’s is dit opgeknap en in ’n openbare biblioteek omskep.

​Die munisipaliteitsgebou is in 1907 gebou en was eers die ou poskantoor, telefoonskakelbord en werkerskwartiere.

Die Alte Kaserne-gebou dateer uit 1905 en lyk soos ’n fort, maar g’n fort wat sy sout werd is sal met sulke groot, lae vensters staande kan bly nie! Die gebou het aanvanklik as barakke vir Duitse troepe gedien en vandag is dit ’n herberg.

Die Antonius-gebou is in 1907 gebou en was tot in 1987 ’n Katolieke hospitaal waarna dit ’n regeringskantoor geword het. In 2001 is dit in ’n ouetehuis omskep.

Die ou spoorwegstasie is in 1902 in die Wilhelminische-styl gebou en vorm sedert 1994 deel van die Swakopmund Hotel. Hiér sal die hoë vensters en geritsel in die palmtakke jou na ’n vervloë tyd wegvoer!

Een van Swakopmund se mees kenmerkende bakens is die jetty en vuurtoring. In 1905 is daar met die houtjetty se konstruksie begin, maar dit was onvoldoende en in 1914 is dit in ’n staaljetty omskep waarvan die oorblyfsels vandag nog sigbaar is. Ná die Eerste Wêreldoorlog het die jetty ’n voetslaanpaadjie geword, maar dit is later as onveilig beskou. In die laat 2000’s is die jetty en paadjie egter opgegradeer en heropen. Vandag is daar ook ’n gewilde seekosrestaurant. Op sy beurt is die vuurtoring in 1903 op ’n hoër punt by die hawe gebou nadat die oorspronklike vuurtoring deur ’n reuse-brander weggespoel is!

Teetyd

Swakopmund hoef beslis nie die knie te buig as dit by lekker eet kom nie ─ van koffiewinkels waar jy aan romerige koffie en koek kan smul, tot borde kos wat kreun onder geurige vleisdisse en vars seekos, en natuurlik ook ’n yskoue bier! Probeer gerus ontbyt by Village Café, middagete by Jetty 1905 of oesters en vonkelwyn by The Delight.

A post shared by Cheryl Dzo (@cheryl_dzo) on

Slaaptyd

Ná ’n lang dag vol avontuur en smullekker seekos aan die Namibiese kus, is dit tyd om ’n draai in droomland te gaan maak en jou krag te herwin. Swakopmund bied ’n rits verblyfopsies, so loer gerus hieronder.

Swakopmund Guesthouse

Dié gastehuis is in die middedorp en was eers ’n familiestrandhuis. Dis stapafstand van die strand en winkels af, en bied luukse en standaardkamers. Hulle buffet-ontbyt is ook die perfekte manier om ’n propvol dag mee te begin!

Ander gastehuise:

Anandi Guesthouse Swakopmund | Sandfields Guesthouse | Cornerstone Guesthouse

The Stiltz

As jy die Atlantiese Oseaan en Namib-sandduine wil bewonder, is The Stiltz jou droombestemming. Dié B&B is naby die strandmeer en riviermond. Soggens word jy met voëlsang wakker en saans word jy met ’n Weskus-sonsondergang beloon!

Ander B&B’s:

Meerkat Guesthouse | SeaBreeze Guesthouse | Desert Breeze Lodge

Swakopmund Hotel and Entertainment Centre

Dié praghotel is naby die strand en bied 90 kamers met alles wat jy nodig het ─ ideaal vir sakereisigers en vakansiegangers. Ontbyt en ander maaltye word in die restaurant bedien. Daar is ook ’n gimnasium, kiosk, fliekteater en kasino. Jy kan ook ’n konferensie, intieme of groot troue, of ander funksie hier hou.

Ander hotelle:

Villa Margherita

AC003 – Beach Cottage

As jy en jou gesin eerder op julle eie vakansie wil hou, is dié knus selfsorgstrandkothuis spesiaal vir julle. Dit lê tussen The Tug en die hoofstrand en het ’n manjifieke see-uitsig. Daar is slaapplek vir vier in drie slaapkamers en die kothuis het nodige geriewe om julle wegbreek onvergeetlik te maak.

Ander selfsorgopsies:

Starfish Selfsorg | Sandpiper Unit 5 | Swakopmund Waterfront D10 | Sand and Sea Self-Catering Apartments | Am Strand 3

Hunker jy selfs in die winter na ’n seevakansie? Pak dan die langpad na Swakopmund aan en kom kerjakker na hartelus tussen die oeroue sandduine!

Hooffoto: Swakopmund (BigStock)