Augustus het tot ’n einde gekom en September skitter in doudruppels op die heldergroen babablaartjies wat kop uitsteek in die wingerde, in die boorde en in die bome wat ons strate omsoom.

Dis lentetyd in die suide en oral hinkepink lammertjies op onvaste beentjies al agter hul stowwerige ma’s aan, bloeisels tooi die boorde in pastelkleure en die berge stof die sneeu van hul skouers af. Suid-Afrikaners kan nou amper elke dag uitsien na helderblou hemele en ’n son wat met elke opkoms die somer nader trek.

Die oopgetrekte dae en sonnige weer beteken dat elkeen van ons se koppe al hoe meer see se kant toe staan. Die son gooi die kollig op herinneringe aan uitgestrekte vakansiedae, sand tussen jou tone, die reuk van bamboes, en beskuit wat gedoop word in ’n koppie koffie sonder dat jy na jou horlosie hoef te loer om te sien hóé laat jy nou weer vandag by die werk gaan aankom.

Tog is daar iets van somervakansies wat die meeste van ons nie mis nie. Die skares. Die mense. Die oorverdowende gedruis van voete en toeriste wat vreemde tale praat. Jy gooi jou swemhanddoek oop en sit sy-aan-sy met vreemdes op die strand en in die water is dit maar beknop. Alhoewel ’n gonsende vakansiedorp ’n sekere aantrekkingskrag het, smag baie van ons na ’n stiller, rustiger opsie.

Vermy die toeriste-opeenhoping tydens Desember en gaan loer na ons keuse van kusvakansiedorpies sonder skares. Hierdie juweeltjies is nog nie so gewild onder die toeriste en ander vakansiegangers nie en sal dus heelwat rustiger wees. By die stiller plekkies sal jy uiteindelik kans kry om al te lekker net te sit en ontspan, ’n goeie boek te lees of bloot op ’n eindelose strand te gaan stap ─ verlate behalwe vir ’n eensame visserman-silhoeët, skulpies en seemeeue.

Kleinbaai

LekkeSlaap-blyplek in Kleinbaai: Oppiekoppie (links), Perriwinkle Self-catering Accommodation (regs bo) en Dei Gratia (regs onder).

LekkeSlaap-blyplek in Kleinbaai: Aire del Mar Guesthouse (links-bo en regs), White Shark Guest House (links-onder)

Op mooiweersdae is Hermanus ’n gunsteling onder vakansiegangers, maar dit kan soms besig raak en die verkeer is ’n absolute nagmerrie. Om hierdie rede kies mense gereeld eerder Gansbaai as hul vakansieplekkie, maar as jy regtig op soek is na die rustigste vakansie nóg moet jy eerder koers kies na Kleinbaai. Hierdie oulike dorpie in die Overberg is net 6 km van Gansbaai af en die walviskykgeleenthede is nét so goed, maar minder bekend as dié in Hermanus. LekkeSlaap het baie bekoorlike plekkies waar jy kan gaan rus as jy smag na ’n stiller en rustiger vakansie aan die Walviskus.

Morgansbaai

LekkeSlaap-blyplek in Morgansbaai: Seaside Holiday House (boonste twee), Ankervas (links-onder en regs-onder), Morgan Bay Caravan Park (middel-onder)

LekkeSlaap-blyplek in Morgansbaai: Morgan Bay Hotel (links en regs-onder), The Sullies (regs-bo en middel-bo)

Morgansbaai is aan die pragtige Wildekus in die Oos-Kaap geleë en bied ’n rustige wegbreekkans vir mense wat nie so lief is vir die skares aan die Sonskynkus nie. Wanneer almal hul tassies pak om Gonubie en die res van Oos-Londen te besoek, bly Morgansbaai dikwels vergete. Die plekkie bied ’n ellelange strand, veilige strandmeer, prentjiemooi klowe langs die strand, voetslaanpaaie, perdryroetes en kranige vissermanne moet definitief nie hul visstokke vergeet nie!

McDougallsbaai

LekkeSlaap-blyplek in McDougallsbaai: Voetbaai Chalets (links) en Old Mill Beach Cottage (regs)

LekkeSlaap-blyplek in McDougallsbaai: Old Mill Beach Cottage (links), Bietjies (regs-bo) en Beach House Accommodation - Mr Mussel and Sole Mate (regs-onder)

McDougallsbaai is ’n bewaarde geheim in die Richtersveld, ’n gedeelte van die Noord-Kaap wat dalk beter bekend is vir woestyn en veldblomme as strande. Alhoewel die strande dalk nie die eerste ding is wat in jou gedagtes opkom wanneer jy aan die Richtersveld dink nie, is McDougallsbaai naby Port Nolloth tog ’n uitstekende plekkie om te kom uitspan. Gaste kan by een van LekkeSlaap se oulike plekkies aanklop en lekker lyfplankry of met ’n kajak in die branders baljaar. Wees net gewaarsku! Die water daar aan die Atlantiese Kus kan maar lekker koud raak! Die strande in McDougallsbaai word dalk nie deur toeriste deurgetrap soos elders nie, maar tog is daar gedurende die somer lewensredders aan diens, so dis lekker veilig vir swemmers.

Velddrif

LekkeSlaap-blyplek in Velddrif: River Time Cottage (links-bo), LaShalom Self Catering Unit (regs-bo en links-onder), Heron House (regs-onder), Port Owen Marina (middel-onder)LekkeSlaap-blyplek in Velddrif: Riverhouse-Velddrif (links), River Time Cottage (regs-bo) en Le Marina Bed and Breakfast (regs-onder)Velddrif is ’n bekoorlike dorpie aan die Weskus, naby die Bergriviermond. Hierdie bekoorlike vissersdorpie word té dikwels misgekyk omdat vakansiegangers sonder om twee keer te dink gewoonlik Paternoster of Langebaan toe piekel. Tog is Velddrif ook die besoek werd aangesien die uitgestrekte soutpanne derduisende flaminke lok. Die dorpie staan ook bekend vir sy bokkoms, so as jy van dié egte Weskus-soutlekkerny hou en boonop na ’n rustige kusvakansie met ’n uitsig smag, draai die stuurwiel in Velddrif se rigting. Jy sal nie spyt wees nie.

Oesterbaai

LekkeSlaap-blyplek in Oesterbaai: Oyster Inn (links) en Oyster Bay Lodge (regs)

LekkeSlaap-blyplek in Oesterbaai: Oyster Bay Lodge (links) en Oyster Bay Sea Kaya (regs)

Sodra die son sy wolkekombers afskud, stroom baie Oos-Kapenaars na St. Francisbaai met die gevolg dat dié dorpie dikwels stampvol is op mooiweersdae en vakansies. So volgende keer as jy begin dink aan ’n kuswegbreek in die Oos-Kaap, oorweeg gerus Oesterbaai. Hierdie piepklein kusdorpie is net 22,5 km wes van St. Francisbaai en is absoluut pragtig met sy lang, uitgestrekte strande waar perdry ’n gewilde manier is om die dag deur te bring. Pak jou tassies, bespreek by een van LekkeSlaap se pragtige opsies in Oesterbaai, saal jou perd op en gaan verken die verlate strande van dié kusdorpie wat dikwels onderskat word.

Daar het jy dit! LekkeSlaap het namens jou gaan rondsnuffel en die allerbeste kusbestemmings gevind wat min vakansiegangers en toeriste al ontdek het. Desembermaand sluip vinnig nader en die gewilde vakansiedorpe is dikwels al vol bespreek wanneer jy begin dink aan verlof insit. Vermy dus die skares dié Kersfees en kies een van ons minder bekende plekkies om by te rus. En as Desember nog té ver voel, is lente mos ’n goeie verskoning om solank ’n kusplekkie op die proef te stel.