Nie eens Jan Tuisbly mag tans sy karretjie ry nie, maar pleks van jou lot betreur oor die oop vlaktes en langpad waarna jy verlang, kan jy ’n bietjie jou perspektief verskuif en ópkyk! Dis reg, maak nie saak hoe groot of klein jou isolasie-spasie is nie, buite jou venster roep die hemelruim se uitgestrekte sterrevelde jou om daar te kom wandel.

LekkeSlaap het vir Jurg Wagener, eienaar van Sterland Guest Houses and Star Gazing in Sutherland ’n paar vrae gevra oor die Suidelike Halfrond se bekendste konstellasies, hoe Sterland se gewilde sterrekykaande werk en wat jy moontlik in die naghemel kan uitken tot tyd en wyl jy by die huis sit. 

Wil jy meer oor Sutherland weet? Lees dan hier.

things to do sutherland

Die Sterland-span

Jurg en sy vrou, Rita het in 2002 na Sutherland verhuis “met die groot voorneme om af te tree”. Maar, vertel Jurg spottend, hy en Rita het toe “eintlik aangetree” en begin om gaste-eenhede en kampeerterreine op die dorp oop te maak. 

Die Wageners was drie jaar in Sutherland toe Jurg eendag besluit dis verregaande dat hy op Sutherland bly, gaste onthaal wat by SALT sterrekyk en nie self dié stokperdjie beoefen nie. Hy koop toe summier ’n teleskoop. Deesdae is hy basies elke aand, behalwe Oukersaand en Oujaarsaand (“spesiale dae vir my familie en vrou”), onder die sterre besig.

the sterland team
Bo: Jurg Wagener en ’n sterrekykuitstappie. Onder: Rita Wagener in haar botaniese tuin en Jaco Groenewald by sy fossieluitstalling. Foto’s: Schalk Schreuder en verskaf.

Saam in die Sterlandspan is Rita, wat in Sutherland grootgeword het en ’n besondere kennis van die veld en die streek se medisinale plante het, en Jaco Groenewald, ’n geoloog wat sy fossielversameling by Sterland uitstal. Jaco het onlangs ’n dinosourus-fossiel in die area opgegrawe! 

Die Sterlandspan sorg dat elke gas se besoek merkwaardig is en voorsien graag leiding oor wat jy als in die dorp, veld en lug kan sien. Van die sterre tot die veldplante tot die fossiele wat daaronder versteek lê, by Sterland “ontmoet sterstof aardstof”. “Ons het baie planne,” sê Jurg. “Die tafel is gedek. Nou kort ons net voete.” 

Kom maak jou onder die sterre by een van Sterland se eenhede tuis.

sterland accommodation sutherland

Sterland La Pari Pari | Sterland Annex | Sterland Skrywershuisie | Sterland Kampering

Jurg leer ons van sterrekyk

1. Hoe verskil die Noordelike en Suidelike Halfrond se konstellasies?

Daar is 88 konstellasies oor die hele wêreld en min of meer die helfte kan jy in die Suidelike Halfrond sien. 

2. Wat is die groot konstellasies of sterre wat ’n mens in die Suidelike Halfrond kan sien?

Verskillende konstellasies is op verskillende tye van die jaar sigbaar en daar is ook so baie dat ek op my sterrekykaande probeer om nie té veel te noem en mense se koppe te laat draai nie. So, elke kwartaal as jy opkyk in die lug gaan jy iets anders sien en ek fokus dan op die beelde wat op daardie stadium sigbaar is. 

Tans is die konstellasie Orion (die Jagter) en Taurus (die Bul) baie sigbaar en in die Bul se maag is die groepie sterre bekend as die Plejades*, of die Sewe Susters, te sien. Met die Plejades se sensus het daar egter fout gegaan, want daar is nie sewe nie, maar eintlik 21 sustersterre! 

Pleiades Nasa
Die Plejades of Sewe Susters is eintlik 21 sustersterre wat in ’n massa saamhang. Groot foto: NASA, klein foto: Wikimedia Commons

Gemini (die Tweeling) is ook tans te sien en ’n bietjie later die maand sal Leo (die Leeu) maklik wees om te herken. Die oomblik as Orion “gaan slaap” (onder die horison verdwyn) sal Scorpio (die Skerpioen) verskyn. Die Skerpioen en die Jagter is nie maatjies nie. Hulle is altyd 180º uitmekaar, maar albei kan op hul eie tyd mooi deur ’n teleskoop gesien word. 

*Elke konstellasie bestaan uit kleiner sterre of sterregroepe wat saam ’n patroon vorm en die konstellasie sy naam gee. So kry jy byvoorbeeld die Taurus-konstellasie, maar deel van sy patroon is die Plejades- en Hyades-sterregroepe waarvan Aldebaran die helderste ster is.

3. Dit bring my by my volgende vraag. Kan ’n mens sonder ’n teleskoop veel sien? 

Ja, al het ’n mens nie ’n teleskoop nie en jy doen ’n bietjie moeite kan jy met die blote oog die sterre geniet. Met “moeite” verwys ek na ’n program soos Stellarium*. Daarmee kyk jy op die rekenaar wat in die lug gaan wees en kan dan met ’n bietjie oefening die ooreenstemmende konstellasies uitken. ’n Goeie verkyker is ook ’n baie goeie belegging om die beelde so ’n bietjie duideliker te maak.

*Stellarium is ’n webtuiste waar jy jou ligging bied en die konstellasies in jou omtrek vir jou uitgestip word, soos Google Maps van die hemelruim. Dit kan ook as ’n app op jou foon afgelaai word.

april night sky on stellarium
’n Skermskoot van die sterrekunde-webtuiste en -app, Stellarium. Jy kan kies om met of sonder tekeninge die hemelruim te aanskou.

4. Wat is die beste konstellasies wat ’n mens met die blote oog kan sien?

Daar is baie!* Huidiglik is Orion, Taurus, Gemini en Leo die sigbaarste.

*Bykans alle konstellasies kan sonder ’n teleskoop uitgeken word, dit hang net af of jy in ’n donker genoeg area is.

5. As jy vir ’n totale leek moes verduidelik waar hulle moet begin om sterre te kyk, wat is die drie mees opvallende konstellasies wat ’n mens kan uitken? 

Ek sou sê Orion, want hy het een ster aan die bokant, drie sterre in die middel en dan die een aan die onderkant. So, van watter kant jy die Jagter ook al bekyk, dit is heel maklik om te sien. Nog ’n sterrebeeld wat jy maklik kan sien is natuurlik die Suiderkruis en die twee wysers van die Suiderkruis en dan aan die teenoorgestelde kant is die Skerpioen-konstellasie wat maklik is om uit te ken.

Links: Orion se gordel (drie sterre op ’n lyn) en die twee gidssterre aan weerskante van die gordel is duidelik te sien. Regs: Die Suiderkruis wat soos ’n skewe diamant lyk is sigbaar bo ’n teleskoop. Foto’s: Wikimedia Commons

6. Sodra ’n mens die sprong na ’n teleskoop maak, waarna moet ’n mens eerste kyk? 

Ek dink die ding wat mense die meeste sal fassineer is die maan, want met die vergroting wat die teleskoop bied sal jy die kraters mooi kan sien en as die maankykgogga jou eers gebyt het, het ek nie vir jou raad nie.

7. Waaroor raak mense die meeste opgewonde tydens julle sterrekykaande?

Daar’s so baie dinge wat die mense graag wil sien, maar dit is vir hulle altyd verstommend as ek vir hulle ’n ster in konteks plaas. ’n Ster soos Betelgeuse wat deel vorm van Orion is byvoorbeeld seshonderd keer groter as die son. Antares, ’n ster in die Scorpio-konstellasie, is ’n rooi ster wat besig is om dood te gaan, maar dit is agthonderd keer groter as die son. Daar’s ’n bolvormige tros sterre, genaamd Omega Centauri, wat sowat sestienduisend ligjaar ver is en uit duisende sterre bestaan ─ in die middel van hierdie ontelbare sterre is ’n swart gat. Alhoewel ons nou nie die swart gat kan sien nie, is dit vir gaste uiters fassinerend om te weet dat daar een skuil en hulle kan dan hul verbeelding vrye teuels gee.

NASA head of orion
’n Tros babasterre aan’t vorm in die Jagter (Orion) se “kop”. Betelgeuse vorm deel van dié konstellasie. Foto: NASA

8. Wanneer is die beste tyd vir sterrekyk en wat moet die weerstoestande wees?

Jy sal enige tyd wanneer dit donker is sterre kan sien, maar, omdat dit donker móét wees, is dit moeiliker in die somer, want dit raak eers laat behoorlik nag. In die winter kan ek al sesuur met die sterrekykgroep uitgaan en is ons teen agtuur terug ─ teen daai tyd is dit miskien al minus agt grade wat so effens koel vir die gewone mens is (so trek maar altyd warm aan wanneer jy gaan sterrekyk)

As jy mooi sterre wil sien, moet jy ook vir ’n maanlose aand mik. As dit volmaan is, moet jy aanvaar, ja, jy kan sterre sien, maar jy kan nét na die helderste voorwerpe kyk. As die maan so helder skyn, leer ek die groep eerder om deur die teleskoop se oogstuk ’n maanfoto met hul fone te neem en dit maak almal baie opgewonde. Dis ’n goeie aandenking. Maar as jy duideliker sterre wil sien, moet jy uitgaan wanneer daar nie ’n maan is nie, tot miskien so halfmaan ─ daarna raak dit te oorbelig om die detail te sien.

Sterrekyk is ook moeiliker wanneer die wind waai, want dan kry jy beweging op ’n teleskoop, en natuurlik werk dit nie op bewolkte aande nie. Maar ek moet sê Sutherland is maar die beste plek om sterre te sien, want tagtig persent van ons dae is wolkloos en as ek terugkyk oor die afgelope vyftien jaar is daar nege uit tien aande kans om na die sterre te kyk. 

9. Enige ander nuus oor astro-toerisme in die Noord-Kaap en veral in Sutherland? 

Daar is verskeie astro-toerismebestemmings in die Noord-Kaap wat gaste kan besoek, maar Sutherland bly maar nog die voorste een en baie moeite word hiermee gedoen. Ons het ook byvoorbeeld drie keer per jaar ’n astrofotografie-naweek wat deur Peter Haarhoff aangebied word. Die fotografiegroep besoek dan vir SALT (South African Large Telescope) en neem ’n sterwiel (star trail) af. Dis ’n ingewikkelde fotografietegniek wat vereis dat jy jou kamera redelik goed ken en vinnig verstellings kan maak. 

star trail sutherland
’n Voorbeeld van ’n sterwiel. Foto: verskaf

10. Laastens, wat behels die sterrekykaand by Sterland?

Die sterkykuitstappies duur sowat twee uur en begin met ’n aanbieding in die Dam-lesingsaal, ’n reservoir wat in ’n kamer met baie prente omskep is. Hiér leer die groep ’n bietjie van die konstellasies en die grootte van die heelal. Jaco se fossielversameling is ook hier uitgestal. Wanneer die groep buitentoe beweeg, leer ek hulle eers om suid te vind met die hulp van die Suiderkruis voor hulle deur een van ses teleskope begin kyk. Die sterrekykery bring ’n mens nogal tot insig dat, wat ook al in ons land aan die gang is, dit eintlik onbelangrik is teenoor die skepping bokant ons koppe. 

Die sterrekykery bring ’n mens nogal tot insig dat, wat ook al in ons land aan die gang is, dit eintlik onbelangrik is teenoor die skepping bokant ons koppe. 

____________________________________

Waar gaan jy sterrekyk wanneer jy weer kan reis? Hier is ons voorstelle!

accommodation in sutherland

Sutherland is met goeie rede die top-sterrekykbestemming in Suid-Afrika en een van die beste ter wêreld. Die grootste optiese teleskoop in die Suidelike Halfrond is hier gevestig, die droë klimaat beteken baie min bewolkte aande en daar is min lig- en ander besoedeling om die sterre te verdof, om nie te praat van mense soos Jurg van Sterland wat leiding kan verskaf nie.

____________________________________

accommodation in maropeng

Vir Gautengers is Maropeng in die Wieg van die Mensdom ’n goeie opsie. Dit is net twee uur se ry van Johannesburg af en die besoekersentrum het ’n inwonende sterrekundige wat gereeld lesings aanbied. 

____________________________________

accommodation near golden gate

Dié natuurreservaat in die Drakensberge is mense van KwaZulu-Natal en die Vrystaat se naaste sterrekykteater. Dit is redelik ongerep en afgeleë wat die kans op lig- en ander besoedeling verklein. 

____________________________________

accommodation in cederberg

Die Sederberge se rooi rotsformasies lyk self soos ’n Mars-landskap, maar by die Cederberg Astronomical Conservancy kan gaste ook oor naweke, as die weer dit toelaat, ’n sterrekykuitstappie bespreek. 

____________________________________

accommodation in carnarvon

Met die SKA-radioteleskoop (Square Kilometre Array) wat tans in Carnarvon opgerig word, sal dié dorpie in die komende paar jaar groot aantrekkingskrag hê vir diegene wat in die ruimte belangstel. Tans bied Carnarvon ’n afgeleë ligging en ’n helder sterreruim. 

____________________________________

accommodation in kgalagadi

Só donker is die Kgalagadi dat dit op die Lugkwaliteitskaal ’n donkertemeting van 21,9 het ─ die hoogste moontlike lesing is 22! Dit is dus ideaal vir diegene wat met sterre in hul oë vakansie wil hou.

____________________________________

Gaan kyk dus vanaand hoe die sterre bokant jou kop met jou praat en leer so ’n bietjie hulle taal ─ wanneer die tyd van inperking eers verby is kan jy dan sélf na die uithoeke van die land verskiet en met die konstellasies klets. 

Baie dankie aan Jurg Wagener van Sterland vir sy tyd en kennis. 
Hooffoto: Bigstock