Die rooiligte flikker in Februariemaand en ambulanse versnel op die snelweg om pleisters vir gebroke harte te bring, want die maand van liefde is in ons midde en al die truuks gaan op die proef gestel word om wederhelftes te beïndruk. Februariemaand is sinoniem met Valentynsdag en dra ’n rooi strikdas en hartjie-sjokolade wat in gegeurde papier toegedraai is. Dié maand is egter hierdie jaar nie so rooi soos gewoonlik nie en neem ’n groenigheid aan. Dis vanjaar weer ’n skrikkeljaar en gee die mans ’n welverdiende blaaskans ─ dis nou die dames se beurt om hulle romantiese kant te vertoon! Maar wat beteken ’n skrikkeldag en -jaar nou eintlik as dit by die liefde kom? Ek het dit goedgedink om hierdie populêre tradisie te ondersoek om vas te stel waarom daar films en tradisies rondom ’n skrikkeljaar geskep word. My soektog na die tema van liefde het my na Ierland gelei en liefde met ’n Ierse aanslag op eie bodem neem paartjies tot in die KwaZulu-Natalse Middellande wat die ideale landskap vir ’n romantiese skrikkeljaar skets.

Daar het egter oor die jare heen ook snaakse tradisies, wat elke vier jaar plaasvind, ontwikkel en dit alles te danke aan die Ierse folklore. 

Wat sê die slim ouens oor ’n skrikkeljaar en hoe verduidelik ’n mens dié eienaardige verskynsel? Die sinkronasie van kalenders met die lengte van ‘n natuurlike jaar het vir eeue lank heelwat verwarring veroorsaak. Gevolglik het die konsep van ’n skrikkeljaar ’n manier gebied om vir die verlore tyd op te maak. In ’n National Geographic-artikel word daar verduidelik dat die aarde se revolusies om haar eie as nie gelykstaande is aan hoe lank die aarde om die son wentel nie. As gevolg van hierdie verwarring het die meeste van die moderne wêreld die Gregoriaanse kalender met die skrikkeljaar aangeneem om te verseker dat die dae en maande in verhouding met die seisoene bly ─ en ja, hierdie jaar kry die sogenaamde maand van liefde weer ’n ekstra dag. Daar het egter oor die jare heen ook snaakse tradisies, wat elke vier jaar plaasvind, ontwikkel en dit alles te danke aan die Ierse folklore. 

In ’n moderne samelewing is dit glad nie meer ’n snaaksigheid of vreemd as ’n dame op die knie gaan om haar geliefde die groot vraag te vra nie …

Trouklokke jaag skrik op die lyf

In ’n moderne samelewing is dit glad nie meer ’n snaaksigheid of vreemd as ’n dame op die knie gaan om haar geliefde die groot vraag te vra nie, maar volgens die Ierse tradisie word dié gebaar spesiaal vir die 29ste Februarie gehou. Die Ierse tradisie is al sedert die vyfde eeu in gebruik en word toegeskryf aan Sint Brigid van Kildare se klagte aan die Ierse biskop en sendeling, Sint Patrick, dat vrouens te lank vir mans moet wag om verloof te raak. Sint Patrick het toe die ekstra dag in Februarie toegestaan vir vroue om die groot vraag te vra. Die eeue oue Ierse tradisie is later aan die Skotte oorgedra. Vrouens in Skotland het die reg gehad om aan hul geliefdes die linkerhand te vra en die wet het verder stipuleer dat enige mans wat die aanbod van die hand gewys het, ’n boete moes betaal. Dié boete het gewissel van ’n soen op die wang tot ’n betaling vir ’n syrok of ’n paar handskoene. Die handskoene het gesorg dat die vrou haar ringlose ringvinger kon wegsteek en sodoende enige vernedering sou voorkom.

Hoe gemaak op skrikkeldag sonder om jou liefie af te skrik?

Indien ’n vrou genoeg selfvertroue bymekaarmaak en besluit om die lot in haar eie hande te neem om verloof te raak, is daar egter sekere bygelowe wat in ag geneem moet word. Volgens die Grieke en die Oekraïens is dit nie ’n goeie idee om gedurende ’n skrikkeljaar te trou nie. Die Finne glo wel dat dit goeie geluk vir ’n paartjie bring as die vrou op ’n skrikkeldag die jawoord vra. Hoe dit ook al sy, die skrikkeljaar-tradisie ─ geloofwaardig of nie ─ bly ’n interessante verskynsel en dié idees kan vrouens moontlik help om die geleentheid suksesvol deur te voer:

  1. Los die ring in sy gunstelingsokkies en vra of julle die pad vorentoe saam kan stap.
  2. Pak die boerewors in ’n ring- of hartjievorm op die braai en los die ring in sy bierglas.
  3. Plaas die ring in die gholfhandskoen se ringvingergat en vra of jy deel van sy gholfgroep op WhatsApp kan wees.
  4. Los die ring in die stort se drein en noem dat dit verstop is. Hy sal waarskynlik eers in ’n paar maande se tyd daarvan werk maak.

In die gees van die eeue oue Ierse tradisie het LekkeSlaap ’n paar plekke in die KwaZulu-Natalse Middellande identifiseer wat jou so naby as moontlik aan Ierland gaan bring indien jy wil reis om die groot vraag te vra of net ’n romantiese wegbreek wil neem. KwaZulu-Natal se Middellande is tussen Pietermaritzburg en die Drakensberge geleë en die landskap word aan groen weivelde, heuwels, woude en kunstige dorpies geken. Daar is talle staproetes, damme, riviere en oulike koffiewinkels wat die gepaste milieu vir ’n romantiese uitstappie sal skep.

Ultima Thule Cottages

Dié werkende plaas is ’n lekker skuilplekkie naby die Midlands Meander, Midmardam, die dorpie Howick en die Howick-waterval. Paartjies kan tussen die diere wandel of die rustige getjirp van voëls geniet.

Sandstone Cottage Guest Accommodation

Op ’n plaas net buite Rosetta in die Kambergvallei is daar ’n romantiese atmosfeer wat op jou en jou liefie wag. Die landskappe is so reg uit die Ierse platteland en ideaal vir ’n skrikkeljaar-verlowing.

Beacon Vlei Guest Farm

Beacon Vlei skuil in die hartjie van KwaZulu-Natalse Middellande en die privaat dam en vleiland skep die ideale agtergrond vir enige moontlike verlowings wat mag opduik.

Sycamore Avenue Treehouse Accommodation

Dié boomhuis in die KwaZulu-Natalse Middellande skep waarlik ’n magiese atmosfeer en sal definitief ’n kosbare herinnering vir enige paartjie wees.

Forty Winks

Waters van liefde sal enige paartjie se liefdestenk volmaak en in die pragtige Kambergvallei in die hartjie van KwaZulu-Natal kan geliefdes kom skep uit die Springrove-dam.

Dit is inderdaad ’n maand vol liefde en in sommige gevalle effense waagmoed, en ek hoop julle lui daai trouklokke of ten minste net jou geliefde se deurklokkie vir ’n romantiese aand vol rose en vioolmusiek.

Hooffoto: BigStock
Alle ander foto’s: LekkeSlaap