Dit bly darem maar opwindend om jou tassie te pak en ’n paar dae die realiteit te ontsnap. Ons swerflus is groter as ooit en met 2022 wat ’n lig aan die einde van die reistonnel bied, kan jy jouself vra: Wanneer laas was ek by my gunsteling-wegbreekplekkie? Of wanneer laas het ek op ’n núwe avontuur gegaan? Wel, nou is die tyd! 

LekkeSlaap deel ’n paar reiswenke wat jy hierdie jaar in jou agterkop kan hou.  

Ondersteun plaaslik

Deur toeris in jou eie land te speel, laat jou toe om kreatief en innoverend met jou reisplan te wees. Boonop is Suid-Afrika een van die lande met die grootste verskeidenheid kulture, tale, kosgeure en mense. Daar is talle feeste en geleenthede wat in 2022 wag en dit gee jou die perfekte geleentheid om daardie area te verken! Gaan eet ’n bietjie uit by die restaurant om die draai van jou gastehuis, of besoek die lojale, plaaslike markies wat elke Saterdag met hul kunsvlytprodukte spog. Om plaaslik te reis hoef jou ook nie ’n arm en ’n been te kos  nie ─ daar is verblyf wat elke sak sal pas, hetsy dit saam met jou metgesel, gesin of troeteldier is! 

Draai gerus in by Cape Dry in Montagu vir hulle gewilde lekkernye en droë vrugte.

Speel slim met jou vakansiedae

Elke jaar raak ons opgewonde oor die vakansiedae wat voorlê, en so nou en dan is daar ’n jaar waarin die vakansiedae ekstra lekker val. Die tabel hieronder wys jou wanneer jy jou verlof met vakansiedae moet kombineer, sodat jy sommer ’n behoorlike wegbreek kan bespreek ─ so maak seker jy speel slim met jou vakansiedae!

Probeer iets nuuts

Dis altyd lekker om na jou gunsteling-bestemming te ontsnap, maar as daar een reiswenk is wat jy 2022 moet onthou, is dit om iets nuuts te probeer! Dit kan enigiets wees ─ van ’n nuwe dorp, tot ’n opwindende aktiwiteit, of selfs ’n vreemde dis. Hier en daar vind jy buitengewone verblyf wat jou sommer klaar ’n nuwe wêreld laat betree. Elke dorp se strate lê vol stories wat wag om oorvertel te word, en elke dorp spog met avontuur-aktiwiteite wat uniek tot die streek is. Het jy al ooit op die rug van ’n perd op die strand gery? Of ’n fiets tussen die wingerd deur getrap? ’n Pragtige omgewing doen wonders aan ’n mens se gemoed, so hoekom bewonder jy nie die wonderlike uitsig vanuit ’n unieke bad nie? Wie weet, jy mag dalk net jou nuwe gunsteling-bestemming ontdek!

Foto: Forest Valley Cottages

Rus tydens jou roetereis

Sommige van ons dink aan roetereise as ’n lang en vervelige pad tussen die huis en jou wegbreek-bestemming, maar wat as jy hierdie lang pad stukkie-vir-stukkie ontdek? Een van ons reiswenke is om die “lang pad” in korter, opwindende reise op te breek. Nie net is dit ’n veiliger om ’n breuk te neem as jou oë begin swaar raak nie, maar Suid-Afrika is propvol gewilde roetereise wat jou met ongelooflike natuurskoon, opwindende aktiwiteite en bekoorlike verblyf al langs die pad betower. Jy hoef nie jou voet lam op die petrolpedaal te trap en die area vanuit jou venster te besigtig nie. Draai af, kuier, verken ’n bietjie en rus genoeg sodat jy jou reis na die volgende bestemming met oop oë kan afskop.

Foto: Die Skooltjie

Besoek buite seisoentyd

Talle dorpies kry ’n finansiële inspuiting wanneer die vakansieseisoene afskop, maar word dikwels die res van die jaar eensaam agtergelaat. Dis egter juis dán die perfekte tyd om rustig daardie dorpie en sy juwele te ontdek, sonder om gedurig skouers met vreemdelinge te skuur. Jy sal ook dan jou op die strand kan uitstrek sonder om iemand voor jou se agterkop te kielie! Daar is talle onbekende dorpies naby jou gunsteling-vakansiebestemming wat net so wonderskoon is en sonder die skare ’n intieme ervaring aan besoekers bied. Dis die ideale geleentheid om ’n geselsie met die plaaslike toergidse en inwoners aan te knoop.

Lees ook: Durf die onbekende Oos-Kaapse hooglande aan

Foto: Midlands Saddle and Trout Resort

Skakel behoorlik af

Daar is min dinge so lekker soos om ná ’n wegbreek uitgerus by die huis aan te kom nie, maar as jy van die huis af werk, is dit moeilik om af te skakel ─ selfs tydens ’n wegbreek. Ons top-wenk is om afgeleë verblyf te soek of selfs heeltemal die off-the-grid-ervaring aan te pak. Dit kan egter ’n uitdaging wees om met ’n groot gesin of groep vriende “af te skakel” en te herlaai, maar jy hoef nie daaroor te bekommer as die perfekte bosveldhuis vir jou wag nie. As jy nie ’n groot aanhanger van ’n draadlose-vakansie is nie, kan jy jou wegbreek-omgewing navors en opsoek watter lekker toere of aktiwiteite, soos besonderse gholfbane of velddrafroetes, daar vir jou wag. 

Reiswenke vir 2022_Die Beloofde Land
Foto: Die Beloofde Land

Met hierdie handige reiswenke sal ons jou nie blameer as jy sommer onmiddellik jou volgende reis wil beplan nie! Het jy enige reiswenke wat jy met ons wil deel? Laat weet ons gerus in die kommentaar-afdeling hieronder.

Hooffoto: Sebastian Staines, Unsplash