So gaan kuier ek, ’n gebore Kapenaar, aan die hange van ’n twee biljoen jaar oue vulkaan by Kwa Maritane Bush Lodge in die Noordwes. En ek kan met vrymoedigheid sê, as jy nog nie daar was nie, móét jy eenvoudig by die Pilanesberg Nasionale Park gaan draai.

Gebore en getoë in die Kaap se Noordelike Voorstede, ken ek nie rêrig dié deel van ons land nie en is ek baie opgewonde toe die Legacy Hotel-groep, dié lodge se trotse eienaars, my nooi om te kom kuier. Ek pak my tassie, laai my kamera se battery en bespreek my vliegtuigkaartjie, want dis mos ver! Gewoonlik sukkel ek met my kat wat wil saamgaan as ek reis, maar dié keer smokkel my liewe moeder haarsélf in my tas saam en ons tweetjies durf ’n vlug na die Goudstad aan! Op Lanseria  huur ons ’n motor vir die naweek en sit voet in die hoek sowat 140 kilometer noord van Johannesburg. Daar gekom, is dit vinnig duidelik dat dié lodge dinge net so ’n bietjie anders doen.

Daar gekom, is dit vinnig duidelik dat dié lodge dinge net so ’n bietjie anders doen.

Die uitsig vanaf Kwa Maritane se restaurant se stoep | Foto: Hesté Nortier

Ons is effe vroeg om in te klok, maar gebruik die geleentheid om rustig op die restaurant se stoep te sit en ’n glasie yskoue witwyn en ’n heerlike pizza te geniet. Dit is beslis die beste plek om tyd te verwyl!

Heerlike pizzas en ’n koue drinkdingetjie by die restaurant | Foto: Hesté Nortier

’n Vriendelike personeellid kom haal ons in die restaurant en vergesel ons kantoor toe sodat ons kan inklok. Alles verloop seepglad en elke persooneellid weet presies wat hulle moet doen. Wandile, die gasvryheidsbestuurder, verwelkom ons en reël dat ons tasse na ons kamer geneem word. 

Ons luukse kamer | Foto: Hesté Nortier

Die verrassing is groot toe ons die koel kamer binnestap en ’n spesiale mandjie met ’n verskeidenheid kaas, beskuitjies en selfs ’n botteltjie vonkelwyn op die tafel aantref! Ons is poegaai en ná ’n vinnige skuinslê, peusel ons aan die einste versnaperinge voor ons na die wildsentrum stap waar ons vir die sonsondergang-wildrit aanmeld.

Ons word bederf met ’n verrassing | Foto: Hesté Nortier

Die gidse is professioneel en ná ’n verskriklike reënbui (sien foto hieronder) is die reuk van die baie droë Laeveld werklik iets besonders.

Die reën het ons ’n bietjie gevang, maar nietemin het ons sommer vinnig uitgedroog | Foto regs: Bishan Ruder

Die reën is darem nie koud nie en trek vinnig oor. Gelukkig vir ons is die diere só dankbaar vir die reën dat hulle dadelik kom gesig wys en ons sien leeus, sebras en selfs ou Skillie Skilpad kom drink water uit die poeletjies wat op die grondpad vorm.

Al die diere is baie dankbaar vir die reën | Foto’s: Hesté Nortier

Ná ’n vinnige stop om ’n skemerkelkie sommer so langs die wildkyk-voertuig te geniet, sien ons ook vir Langnek en sy maat, Grootvoet, voor ons koers na die boma kies om onder die sterre te braai. Dié boma-braai is baie gewild en is elke Woensdag- en Saterdagaand beskikbaar. Dis by die tarief ingesluit, maar moet vooraf bespreek word.

Die son begin sak en ons verkyk ons aan die reuse | Foto links: Hesté Nortier – Foto regs: Bishan Ruder

By die boma kry ons ’n gemmerbierdrankie. Die klank van tradisionele Afrika-musiek en die reuk van braaivleis lei ons aan ons neuse al die pad tot by ons gedekte tafel onder die sterre. 

Die boma-braai is werklik ‘n belewenis | Foto links: Verskaf – Foto regs: Hesté Nortier

Daar is kos te kies en te keur en ons smul aan, onder andere, lamstjoppies, boerewors, soetpatat, stampmielies, gegeurde rys en hoendersosaties. 

Daar is oorgenoeg vermaak en heerlike kos | Foto’s: Hesté Nortier

Natuurlik is die nagereg ook nie te versmaai nie en vrugteslaai, verskillende roomyssoorte, melktert en sjokolademousse laat ’n soet smaak in die mond wanneer ons weer op die trokkie klim en terugry lodge toe. 

Daar is iets vir almal en ons is trommeldik geëet | Foto’s: Hesté Nortier

Dis skuins voor 22:00 en steeds redelik warm toe ons besluit om in die swembad af te koel voor ons gaan inkruip. Die lodge het twee massiewe swembaddens en in die aand is dit ’n goeie idee om ’n bietjie daar te ontspan. Ná dié verfrissende afkoelsessie, klim ons met warm harte en gemoedere, in die kooi.

Die volgende oggend besluit ons om onsself met ’n behandeling by Kwa Maritane se spa te bederf en ons sit soos twee wafferse dames luuks op gemakstoele met ons voete in die lug terwyl ons oor die veld uitkyk. Vir meer as ’n uur is die wêreld vergete en ná baie lag, giggel (omdat dit kielie) en ontspanning, is dit tyd om huiswaarts te keer ─ geverfde toonnaels en al!

Die spa se behandelings is hemels | Foto’s: Hesté Nortier

Soos ons die lodge verlaat, speel mense tennis, kinders plons in die swembad rond en ’n gesin geniet hulself gate uit op die putt-puttbaan. Die wildtrokkie het ’n klomp kinders agterop ─ dié is deel van die lodge se Junior Rangers-program wat kinders, onder andere, oor die natuur leer, wys hoe om spoor te sny en Jannie en Sannie teen ’n klein fooi kan besighou terwyl Ma en Pa ’n rukkie dut of rustig ’n boek lees.

Die swembad, rotsklimmuur en tennisbane sal gaste ure besighou | Foto’s: Hesté Nortier

Suid-Afrika is beslis die koningin van Afrika en die Pilanesberg Nasionale Park is vir seker een van die skitterendste diamante in haar kroon!

Die son sak oor die Laeveld en dis tyd om te groet | Foto: Hesté Nortier

***

Baie dankie aan Legacy Hotels dat julle my genooi het en spesifiek Gavin Curtis vir al sy hulp met die reëlings.

Baie dankie aan Wandile vir sy gasvryheid en goeie diens by die lodge.

Baie dankie aan Bishan Ruder vir die gebruik van sy foto’s.

Hooffoto: Bishan Ruder