Pod-eenhede, beter bekend as pods, wat eens net as ’n bekostigbare kitsopsie vir sakereise beskou is, het deesdae in ’n gewilde, moderne en, in sommige gevalle, luukse verblyfopsie ontwikkel. Hoewel dit as klein bestempel word en net die basiese geriewe vir ’n vinnige oornag bied, is dit nie meer net ’n voorkeurkeuse vir sakereisigers nie, maar vakansiegangers ook! LekkeSlaap.co.za het gaan ondersoek instel na hoekom hierdie verblyftipe so gewild geword het.

Wat is ’n pod-eenheid?

Een van die eerste voorbeelde van pod-verblyf het in 1979 in Japan as pod-hotelle ontstaan. Hierdie styl het uit klein kapsule-kamers, wat hoofsaaklik net ’n bed gehad het, bestaan. Die verblyf was goedkoper en die gebou kon baie meer gaste akkommodeer ─ perfek vir diegene (hoofsaaklik sakereisigers) wat op soek was na ’n plek vir ’n vinnige oornag. Toe hierdie verblyfstyl se gewildheid so vining vlamgevat het, het ander lande ook met die idee begin rondspeel. Vandag is daar verskeie weergawes van pod-eenhede. Dis steeds klein en knus, maar bied genoeg geriewe aan gaste om ’n gerieflike wegbreek te verseker. 

The Riverstone House, Wes-Kaap  

Pod-eenhede_Riverstone House

Die Riverstone’s CouplesPod is ’n pod-eenheid op dieselfde perseel as die Riverstone House op ’n plaas net buite Wolseley. Die plaas is naby bekroonde wynlandgoedere en tussen die talle wynroetes in die omgewing geleë. Die pod-eenheid is ’n verwerkte dubbelvragskiphouer wat slaapplek aan twee gaste bied en ideaal vir paartjies is. Dit het ’n oopplan-uitleg met ’n slaap-, sit- en kombuisarea en buite is daar ’n onderdakstoep met ingeboude braaigeriewe. Die eenheid is naby die plaasdam waarin julle kan afkoel as dit in die somer lekker warm raak. Aktiwiteite in en om die omgewing sluit wynproe, wandel op die plaaspaaie en ’n besoek aan die diere in.

Pod-eenhede_Riverstone House collage

Witteberg Cottage, Vrystaat

Pod-eenhede_Witteberg Cottage

Die Witteberg Cottage is naby die winkels en restaurante in Rosendal geleë. Hierdie moderne pod-eenheid het WiFi en is perfek vir sakereisigers of gaste wat op soek is na ’n naweekwegbreek. Die kombuis is ten volle toegerus en daar is slaapplek vir twee gaste op ’n koningingrootte-bed. Julle word met ’n kaggel in die sitarea bederf vir wanneer die winter ’n draai kom maak en julle kan in die somer in die plonspoel ontspan met die Kalkoenberg in die agtergrond.

Pod-eenhede_Witteberg Cottage collage

Melozhori Private Game Reserve Waterfall Pod, Wes-Kaap

Pod-eenhede_Melozhori Private Game Reserve

Daar is net iets besonders omtrent ’n afgeleë wegbreek in die natuurskoon met berge en klowe wat jou omring. Dít is presies wat hierdie romantiese pod-eenheid in die unieke Renosterveld-streek net buite Bonnievale bied. Die eenheid skuil in die middel van die Melozhori Privaat Wildreservaat en bederf gaste met ’n stoep wat ’n warmbad en ’n uitsig oor die skilderagtige vallei het. Die eenheid maak van sonkrag gebruik, maar het steeds luukse geriewe soos lugversorging en elektriese komberse. ’n Pizza-oond sorg vir smullekker maaltye en verder kan jy voor die kaggel of op die stoep by die ingeboude braai kuier. As die landskap van die natuurreservaat jou roep, kan jy saam met die passievolle en kundige gidse ’n wildrit geniet.

Die Melozhori Private Game Reserve Valley Pod is ‘n soortgelyke eenheid wat op dieselfde reservaat geleë is.

Pod-eenhede_Melozhori Private Game Reserve collage

Mount Camdeboo Pods, Oos-Kaap 

Pod-eenhede_Mount Cambedoo Pods

Mount Camdeboo Pods is in ’n afgesonderde deel van die Kamdeboovlakte buite Graaff-Reinet geleë en spog met twee pod-eenhede wat elkeen WiFi, ’n privaat houtvuurwarmbad en ’n privaat boma het. Dit is perfek vir paartjies wat op soek is na ’n unieke ervaring en het ’n besonderse uitsig oor die Kamdeboovlakte. ⁠Die eenhede is nie omhein nie en smelt soomloos met die Groot-Karoovlaktes saam. Die wildreservaat is die tuiste van verskeie bedreigde spesies wat suksesvol gerehabiliteer is. Die eenhede se uitleg is knus, maar die moderne geriewe en onbeskryflike uitsigte is genoeg om jou hart te steel.

Pod-eenhede_Mount Cambedoo Pods collage

Buff and Fellow Eco Cabins, Wes-Kaap

Pod-eenhede_Buff and Fellow Eco Cabins

Watter styl verkies jy? Eko-vriendelike kothuise, eko-vriendelike pod-eenhede of eko-vriendelike kokosneut-villas? Ons kies sommer al drie! Hierdie eko-vriendelike verblyf staan pikant vir jou en wag op ’n buffelteelplaas net buite George. Hoewel die kokosneut-villas klein voorkom, het hierdie eenhede slaapplek vir tot ses gaste! Die Pod-eenhede is weer ideaal vir paartjies, het ’n uitsig oor die rivier en spog elk met ’n koninggrootte-bed. Ander luukshede sluit ’n houtvuurwarmbad en privaat stoep met ’n ingeboude braai in.

Pod-eenhede_Buff and Fellow Eco Cabins collage

4 Cyphia Close Cabins, Wes-Kaap 

Pod-eenhede_4Cyphia Close Cabins

Kan jy glo hierdie pragtige verblyf is net 3 kilometer vanaf Houtbaai se gewilde strand, hawe, winkels en restaurante? Die Reservoir Pod-eenheid is ‘n unieke mikro-houthut wat uit soliede, herwonne dennehout gebou is en die Fynbos Pod-eenheid is deur ’n argitek ontwerp met unieke buitelugruimtes wat die natuur in hierdie Kaapse area beklemtoon. Daar is elemente soos ’n buitebad, klip- en betonwasbakke en houttoonbanke in die eenheid. Die Fynbos Pod-eenheid is eie aan sy naam en skuil op ’n fynbosheuwel met ’n uitsig op Chapmanspiek. Verder kan jy vanuit die eko-vriendelike plonspoel die omgewing bewonder of selfs die talle voetslaanpaaie en Chapmanspiek-rylaan verken.

Pod-eenhede_4Cyphia Close Cabins collage

Naries Namakwa Retreat, Noord-Kaap 

Pod-eenhede_Naries Namakwa Retreat

Nes Coenie de Villiers in sy lied, knoop ons ook ons blommejas aan wanneer ons van Namakwaland hoor. Die Naries Namakwa Retreat is op 6000 hektaar se semi-woestyn geleë wat gedurende die veldblomseisoen in blomme getooi is. Dié pragtige en romantiese toevlugsoord is op die rand van die Spektakelberg tussen Springbok en Kleinzee geleë en die drie luukse Namakwa Berg-suites sorg vir ’n unieke wegbreek in die hartjie van dié pragland. Daar is ander verblyfopsies wat deel van die Naries Namakwa Retreat vorm, maar dis beslis die koepeldak-eenhede wat jou oë laat blink. Dié eenhede smelt met die natuur saam en is om klipformasies, wat deel van die uitleg en dekor vorm, gebou. Dit bied basiese geriewe soos tee- en koffiemaakgeriewe en ’n eerlikheidskroeg met talle drankies, maar gaste kan ontbyt en aandete in die herehuis se eetkamer geniet. 

Pod-eenhede_Naries Namakwa Retreat collage

Siedaar! Wie het gesê dat ’n mens gerieflikheid en luuksheid moet prysgee as jy kleiner en knus verblyf soek? Pod-eenhede is nog lank nie ou nuus nie, so bespreek vandag nog een van hierdie unieke wegbreekplekke. 

Hooffoto: Melozhori Private Game Reserve Waterfall Pod op LekkeSlaap.co.za