Dis altyd lekker om die stad te besoek en ’n draai by al die immergewilde besienswaardighede en interessante museums te maak, maar soms, en veral deesdae, wil ’n mens sommer net in die kar klim en ’n bietjie ry ─ ver weg van die alewige stadsgedruis, aaklige toetergeluide en verdomde verkeersknope. Gelukkig is daar sommer ’n hele rits kleindorpies naby Johannesburg wat net wag om verken te word. Of jy nou in die bui vir ’n wegbreek in die bos of ’n luilekker vakansie op die dam se oewer is, of iewers in ’n woud wil gaan wegkruip, LekkeSlaap.co.za het ’n behoorlike lys dorpies waar jy ’n slag die stadsliggies vir ’n helder sterrehemel kan verruil.

Magaliesburg

76,6 km vanaf Johannesburg

Hekpoort, 1791, Gauteng
’n Uitsig oor die ruwe landskap. Foto: Idwala Le Ingwe

Dié dorpie is net sowat ’n uur se ry van die stad af en skuil aan die voet van die Witwatersberg ─ die eintlike Magaliesberge is sowat agt kilometer noord van hier af. Omdat dit so lekker naby die stad is, is dit ’n uitstekende keuse vir ’n op-die-nippertjie-wegbreek en dus ’n baie gewilde toeristebestemming. Die ruwe landskap is absoluut pragtig en daar is talle aktiwiteite wat jou toelaat om tyd in die natuur deur te bring. Voetslaan na een van die watervalle, verken grotte in die Wieg van die Mensdom, bespreek ’n interaktiewe toer oor die geskiedenis van die mensdom by die Maropeng-besoekerssentrum, bewonder die omgewing vanuit ’n lugballon, of zzrts deur die bome saam met Canopy Tours

Hartbeespoort

88,8 km vanaf Johannesburg

Kosmos, Hartbeespoort, 0261, Noordwes
’n Seiljag op die Hartbeespoortdam. Foto: Stillwaters Waterfront Apartments

Hartbeespoort of “Harties” is ’n klein oorddorp op die Hartbeespoortdam se oewer en is in die 1920’s gestig toe konstruksie aan die dam begin het. Dit is verskriklik gewild onder Gautengers omdat dit so naby die stad is, maar ook omdat jy hiér deur ’n idilliese bosveld-atmosfeer omring word, met die majestueuse Magaliesberge as agtergrond. Maak beslis ’n draai by die Harties-kabelkarretjie vir ’n panoramiese uitsig oor die area. Die damwal is iets om te sien op sy eie, maar die dam is ook ’n gewilde watersport-bestemming. As jy van Suid-Afrikaanse films hou, kan jy ook by die The French Toast Coffee Cafe gaan inloer wat spesiaal vir die film French Toast gebou is. Hulle bedien heerlike maaltye en spog met ’n kleiner weergawe van die Eiffeltoring en ’n slotbrug waar jy en jou wederhelfte ook julle liefdeslot kan hang.

Cullinan

106,9 km vanaf Johannesburg

Cullinan, Pretoria, 1000, Gauteng
Edwardiaanse argitektuur in Cullinan. Foto: Dolphin Whisper Premier House

Cullinan is ’n prentjiemooi dorpie op die diamantroete en is na sir Thomas Cullinan vernoem, wat in die ou dae ’n bekende diamantmagnaat was. Hierdie bekoorlike dorpie het gewild geraak ná die ontdekking van die Cullinan-diamant ─ die grootste juweel wat nog gevind is! Bespreek ’n myntoer en leer hoe hierdie edelgesteentes gevorm, bewaar, ontdek en gesny word voordat dit ons juweliersware versier. Stap in die hoofstraat af en word deur al die oulike winkeltjies in dié straat betower. Daar is kantlinne, handgemaakte kerse, silwerware en seep, ’n funksie-lokaal en teater wat met herwinbare materiale versier is en ’n boheemse atmosfeer skep, restaurante met lewendige musiek en smullekker kookkuns, en ou Edwardiaanse argitektuur om om elke hoek en draai te bewonder.

Parys

110,2 km vanaf Johannesburg

Vaal de Grace 381, Parys, 9585, Vrystaat
Die Vaal de Gráce Gholflandgoed in Parys. Foto: Vaal De Grace 381

Dié plattelandse dorpie lê op die suidelike oewer van die Vaalrivier in die Vredefortkoepel ─ die oudste en grootste meteorietimpakplek ter wêreld. Parys is eintlik ’n boerderygemeenskap, maar deesdae is dit meer bekend as ’n gewilde naweekbestemming vir diegene wat uit die Goudstad wil ontsnap. Die strate is met kunsgalerye, antiekwinkels, koffiewinkels en bierbrouerye besaai, die ligging langs die rivier maak dit ideaal vir riviervlotvaart en visvang, én daar is twee gewilde gholfbane, Vaal de Gráce en Parys Gholflandgoed, met agtien putjies en ’n klubhuis wat sommer as die negentiende putjie dien. Lees ons blog vir meer opwindende aktiwiteite in dié dorpie.

Bela-Bela

167,5 km vanaf Johannesburg

R101, Bela-Bela, 0480, Limpopo
Bewareas en wildplase vorm die Waterberg-biosfeerreservaat. Foto: Buyskop Lodge, Conference and Spa

Bela-Bela, voorheen bekend as Warmbad, skuil in die hartjie van die Waterberg, omring deur natuurreservate en die bosveld, maar is na die gewilde warmwaterbronne wat hiér te vind is, vernoem. Dié warmwaterbronne is ryk aan minerale en het glo genesende eienskappe, en daarom is daar ’n rits welweessentrums en spa’s in die dorp wat voordeel uit dié bronne trek. Die omliggende bewareas en wildplase wat die Waterberg-biosfeerreservaat vorm, is egter ook ’n groot trekpleister, en jy sal by baie die geleentheid kry om olifante, buffels, renosters, leeus en luiperds raak te sien.

Dullstroom

256,1 km vanaf Johannesburg

Blue Crane Farm, 17 km buite Dullstroom, 1110, Mpumalanga
Kunsvlieghengel is besonders gewild hiér. Foto: Blue Crane Farm

Ons sou nie dié lysie kon saamstel sonder om dié pragtige dorp by te voeg nie. Dullstroom is die gewildste kunsvlieghengel-bestemming in die land, maar die middedorp spog egter ook met uitstekende restaurante en ’n hele paar handewerkwinkeltjies en kunsgalerye ─ om nie eens van die pragtige natuurskoon te praat nie! Dit herinner aan die prentjiemooi natuurskoon van die Skotse Hooglande. Die koel klimaat en skoon lug in dié streek maak dit ’n oase vir blomspesies, en daarom spog dit met skaars en endemiese spesies, soos talle orgideë en die pragtige goue aronskelk. Bring jou stapstewels of bergfiets saam, en verken die pragtige roetes wat tussendeur dié plante kronkel.

Harrismith

272,8 km vanaf Johannesburg

Plaas Klaarfontein, Harrismith, 9880, Vrystaat
Dié natuurskoon buite die dorp is asemrowend. Foto: Klaarfontein Guest Farm

Harrismith is meestal bekend as ’n aftrekplek halfpad tussen Durban en Johannesburg, en dien as ’n laaste bestemming vir inkopies vóór reisigers die Drakensbergstreek verken. Maar daar is genoeg om te doen in die omgewing om van dié dorp ’n naweekbestemming te maak. Die Sterkfonteindam daar naby is die derde grootste dam in die land en ideaal vir waterliefhebbers, die Platberg Wildreservaat bied wonderlike voëlkykgeleenthede en stap- en bergfietsroetes, en die Harrismith Gholfklub is die derde oudste gholfklub in Suid-Afrika!

Clarens

338,3 km vanaf Johannesburg

Clarens, 9707, Vrystaat
Brandwag Rock in die Golden Gate Highlands Nasionale Park buite die dorp. Foto: Fairview Cottages

Hierdie skilderagtige dorpie aan die voet van Horebberg is gerieflik naby die Golden Gate Highlands Nasionale Park geleë en word deur die Rooi- en die Malutiberge omring. Die dorp bied ’n perfekte mengsel van natuur, wild, kuns en kunsvlyt. The Artists’ Amble is ’n prettige roete met ’n rits galerye wat deur plaaslike kunstenaars bestuur word, maar as kuns nie jou ding is nie, is die boomryke strate, plaaslike restaurante met lewendige musiek en boetiekwinkels rede genoeg om die naweek in die dorpsplein deur te bring. Andersins is dit die area se buitelugaktiwiteite wat elke naweek die avontuurlustiges lok ─ van voetslaan, kunsvlieghengel, witwatervlotvaart en gholf, tot grotte om te besoek, San-skilderye om te bewonder en rotse om te klim.

Pelgrimsrus

375,3 km vanaf Johannesburg

Hoofweg, Up Town, Pelgrimsrus, 1290, Mpumalanga
’n Victoriaanse kothuis in die hoofstraat. Foto: Mona Cottage

Pelgrimsrus is ’n dorpie met ’n baie kleurvolle geskiedenis. In 1873 was die dorp dig bevolk met prospekteerders wat almal gehoop het om hiér hul fortuin te kom maak. Ongelukkig was die meeste van die goud alluviaal (goudstof) en het dit nie die fortuin waarna hulle op soek was opgelewer nie. Vandag is die dorp ’n gewilde toeristebestemming wat jou na die vervloë dae van die goudstormloop terugneem. Die dorpie het min verander vanaf sy bloeitydperk en is in 1986 tot Nasionale Monument verklaar. Kom verken een van die talle staproetes in die omgewing en stap al langs paadjies wat destyds deur die prospekteerders gebruik is om goud in die riviere, spruite en watervalle te soek.

Magoebaskloof

395,7 km vanaf Johannesburg

Rondefontein Plaas, A39-pad, Magoebaskloof, 0731, Limpopo
Alle ouderdomme is welkom
Welige woude bied ’n welkome groen oase in die Bosveld. Foto: Pavetta Country House

Magoebaskloof is ’n perfekte langnaweekbestemming vir Gautengers wat op soek is na ’n koeler klimaat. Die plaaslike inwoners noem dit “The Land of the Silver Mist” omdat die berge en valleie dikwels met ’n sagte miskombers omvou word, en dis dié mis wat tot die welige woude gelei het wat dié area ’n welkome groen oase in die Bosveld maak. Hierdie woude bied voëlkyk-, voetslaan- en bergfietsroetes, sowel as boomtoptoere, en piekniekplekke by die Dap Naudedam en die Debengeni-waterval. Die klimaat het ook die ontwikkeling van pragtuine moontlik gemaak, met plante wat meer vir kouer klimate geskik is, soos Japannese esdoringbome, kersiebome en asaleas. Hierdie tuine is oop vir die publiek en ’n ongelooflike gesig in die lente en herfs!

Nou ja toe, met só ’n lys kleindorpies naby Gauteng het jy geen verskoning om naweek ná naweek by die huis te sit nie ─ toe man, verruil ’n slag die stadsliggies vir ’n helder sterrehemel op die platteland!

Hooffoto: The Stables and The Loft @ Glenogle Farm