Son, sterre, see en sand ─ dis die vier wonders van Namibië. LekkeSlaap kombineer dié asemrowende Namibiese verskynsels om ’n onvergeetlike wittebrood te verseker. Kom luister na die gedruis van turkooisblou branders wat liggies die voete van die Namibwoestyn se sandduine streel en klink ’n glasie op jou en jou geliefde se toekoms onder ’n skitterende sterrehemel terwyl die sekelmaan vir julle wink. Van Sossusvlei tot die Skedelkus — LekkeSlaap wys jou die beste Namibiese wittebroodblyplekke en -uitstappies wat jy nimmer sal vergeet.

Sossusvlei se Son en Sand

Sossusvlei is een van Namibië se blinkste juwele. Dié ongerepte sout- en kleipan is in Namibië se suidweste geleë en is voorwaar die toonbeeld van die Namibwoestyn se son en sand. Moenie dat die uitgestrekte wit vlaktes en dooie kameeldoringbome jou flous nie — dié woestyn is van hoek tot kant met avontuur en besienswaardighede gevul!

Sweef oor Sossusvlei

Namib Sky Balloon Safaris se warmlugballonvlugte is veral gewild onder paartjies wat ’n kombinasie van romanse en avontuur wil geniet. Dié warmlugballonreise duur gewoonlik drie tot vier uur en sluit ’n heerlike sjampanjeontbyt in. Die gids neem jou op ’n lugtoer oor die see, berge en woestyn, en Sossusvlei se duine is die eindbestemming.

As jy jou geliefde met ’n oorspronklike wittebrooduitstappie wil bederf, hoort hierdie warmlugballontoer beslis op jou lys van doendinge in Namibië.

Doringbome in Dooievlei

Dooievlei is ’n kleipan naby Sossusvlei. Dié kleipan is die nalatenskap van ’n vloed wat veroorsaak het dat ’n kameeldoringboomwoud daar gegroei het. Klimaatsverandering het egter daartoe gelei dat die bome in die harde kleiplan versteen het en nie meer deur die rivierwater bereik word nie. Die interessante en ongewone kontras tussen die donker dooie kameeldoringbome wat uit die wit kleipan steek, maak Dooievlei ’n noemenswaardige natuurverskynsel wat beslis ’n besoek verdien.

Duin 45 Daag Jou Uit

Die Namibwoestyn word as een van die oudste woestyne ter wêreld beskou en spog ook met van die hoogste sandduine. Duin 45 is ’n reus wat dikwels deur toeriste aangedurf word en is só vernoem omdat dit 45 kilometer vanaf die Sesriem-hek na Sossusvlei is. Toeriste mag hierdie duin uitklim ─ maak dus seker jy begin die tog vroegoggend sodat jy ’n besonderse sonsopkoms oor die Namibwoestyn kan beleef. ’n Kiekie teen Duin 45 se hange is beslis ’n móét vir pasgetroudes se wittebrood-album.

Ná ’n lang dag vol woestyn-avontuur verdien jy en jou geliefde ’n goeie nagrus en LekkeSlaap se blyplekke in dié woestyn skiet geensins tekort nie!

Desert Quiver Camp

Desert Quiver Camp bied gerieflike en stylvolle selfsorgverblyf net vyf kilometer van Sossusvlei se hek af. Hierdie woestynkamp word omring deur wild, granietkoppies en asemrowende uitsigte. Die kamp is modern ingerig vir selfsorg en is so uitgelê dat gaste privaatheid kan geniet, terwyl hulle ook toegang het tot gemeenskaplike geriewe, soos die swembad, boma-area en die kroeg. Dié eenhede is ideaal vir paartjies wat ’n unieke kamp-ervaring in die ongerepte Namibwoestyn wil geniet, maar tog moderne geriewe tot hulle beskikking wil hê.

Le Mirage Resort and Spa

Le Mirage Resort and Spa bied ’n ontspanne wegbreek by ’n unieke en luukse instansie in die Sossusvlei-omgewing. Dié instansie bied Camelthorn- en Oasis-kamers. Die oord het ook ’n elegante restaurant wat internasionale kookkuns en wyn bedien. Soggens kan gaste ’n buffet-ontbyt geniet, middae ’n dis van die à la carte-spyskaart af bestel en saans vir ’n vyfgangmaaltyd aansit.

Le Mirage Resort and Spa se Mystique Spa bied masseer-behandelings, hidroeterapie en skoonheidsbehandelings wat ideaal is vir paartjies wat net wil ontspan met Le Mirage se asemrowende argitektuur in die agtergrond.

Die Skedelkus se Strande en Sterre

Die Skedelkus is een van Namibië se mees buitengewone natuurverskynsels. Dié kusgebied strek vanaf Swakopmund tot by die Kuneneriviermond naby Angola se grens. Sterk seestrome en dik misbanke het vroeër jare veroorsaak dat handel- en vragskepe nie veilig die kus kon bereik nie en dis waar dié Atlantiese kusgebied in die 1930’s sy wêreldbekende naam gekry het. Die natuurlike elemente wat voorheen die mens in hierdie area bedreig het, dien vandag as een van Namibië se gunsteling-besienswaardighede en dié woestyn se isolasie lok jaarliks duisende toeriste.

Skedelkus Nasionale Park

Die Skedelkus word is in 1973 as een van Namibië se nasionale parke verklaar. Dié park dek 16 000 km² en is die derde grootste nasionale park in Namibië. Die park se suidelike deel, tot en met Terracebaai, kan slegs met ’n permit bereik word en besoekers kan ’n safari deur die park se noordelike deel bespreek. Nes die meeste Namibiese nasionale parke, is die Skedelkus redelik geïsoleerd, stil en ongerep. Dit is dus die ideale bestemming vir pasgetroude paartjies wat hul wittebrood in die privaatheid van Namibië se natuurskoon wil deurbring. LekkeSlaap wys jou hoe om jou dag met avontuur langs die Skedelkus te vul…

Kaap Kruis se Pelsrobkolonie

Een van die Skedelkus se bekendste besienswaardighede is die Kaap Pelsrobkolonie wat Kaap Kruis hulle tuiste het. Die kruis wat hier langs die kus staan is in 1486 deur ’n Portugese seevaarder opgerig. Sedertdien is ’n nuwe kruis opgerig en sowat 300 000 pelsrobbe is regdeur die jaar hier te sien. Die robbulle floreer veral in Oktober en die robwelpies word gewoonlik aan die einde van November en begin van Desember gebore.

Hengel by Hentiesbaai

Die Skedelkus se Atlantiese-kuslyn is enige visserman se droom en Hentiesbaai is veral ’n gewilde hengel- en diepseevisvang-bestemming. Daar is ’n oorvloed vakansiehuise by die Omarururiviermond en daar is ook visvanggeleentheid verder noord by Torrabaai en Terracebaai. Die skeepswrakke langs die kus is asemrowend om te aanskou en die area is ’n uiters gewilde vakansiebestemming, so bespreek nóú jou en jou geliefde se slaapplek om teleurstelling te vermy.

Die Skedelkus se uitsig is ongeëwenaar en die ongerepte natuurskoon bied aan wittebroodpaartjies die ideale wegbreek om hulle nuwe huweliksavontuur te geniet. LekkeSlaap het net die regte blyplekke om jou kop neer te lê in die Skedelkus-stilte.

Shipwreck Lodge

Shipwreck Lodge bied verblyf in splinternuwe sonkrag-aangedrewe eenhede wat alles insluit en boonop ’n skilderagtige uitsig oor die Skedelkus se duine verleen. Dié lodge skuil tussen die Hoarusib- en Hoanibrivier, sowat 45 kilometer vanaf Mowebaai.

Daar is agt losstaande chalets wat gaste se privaatheid in die ongerepte Namibiese natuurskoon verseker. Shipwreck Lodge bied wildritte en met net ’n bietjie geluk kan jy die woestyn se leeus en olifante in die verte sien. Jy en jou geliefde kan teen die duine uitstap en van die hoogtes af ’n glasie op julle blink toekoms klink met die Skedelkus se skilderagtige landskap in die agtergrond.

Atlantic Villa Boutique Guest House

Atlantic Villa Boutique Guest House is ’n boetiekhotel naby die strand in Swakopmund. Dié boetiekhotel bied luukse verblyf in ’n verskeidenheid kamers wat gerieflik ingerig is met alles wat jy nodig het. Daar is ’n restaurant op die perseel waar ontbyt en ander maaltye bedien word. Die gastehuis het ook ‘n kroeg en gaste-sitkamer.

Daar is heelwat opwindende doendinge in die omgewing, soos dolfyn-bootvaarte, kameelruitery, vierwielmotorfietsry, toere en perdry. Dié boetiekhotel is die ideale oorslaapplek vir paartjies wat op pad is na die Skedelkus, aangesien Swakopmund die laaste groot dorp in hierdie streek is. As jy en jou geliefde vir ’n paar dae uit die beskawing wil ontsnap, kom maak gerus hier ’n draai om julle voorraad aan te vul.

Moenie die gras onder jou voete laat groei nie ─ sink eerder jou tone in die Namibwoestynduine! Bespreek nou jou wittebrood-avontuur in Namibië en begin jou huwelik met ’n onvergeetlike ervaring in die land van son en sterre!

Hooffoto: Desert Quiver Camp (LekkeSlaap)