In my Alma Mater se Afrikaansklas sou ek nooit kon droom om eendag oor ons interskole-aardsvyand se tuisdorp te skryf nie. Maar op ’n koel herfsoggend trek ek my Redemption-leerskoene aan en is ek slaggereed om Wellington via die Lady Loch-brug in te vaar! Dié Bolandse dorpie skuil aan die voet van Groenberg teen die Krommerivier en word tereg as die hart van die Kaapse Wynland beskou. Die Wellington Toerismekantoor het LekkeSlaap genooi om ’n dag in dié wingerddorpie deur te bring en ek en  my kollega, Adriëtte, het hierdie geleentheid met albei hande aangegryp.

Vroeg uit die vere: The Perfect Place

Dis Saterdagoggend en Wellington se strate kry lewe ─ ouers neem kinders na sportwedstryde en inwoners doen hul weeklikse inkopies. Ek het nog nie my oggendkoffie gedrink nie en ontbyt by The Perfect Place in Kerkstraat klink bobaas.

Dié restaurant se ou houtvloer en hoë plafon skep ’n ouwêreldse atmosfeer wat ’n mens sommer met die intrapslag wegvoer. Daar is allerlei oudhede in die restaurant en die kabinet vol klassieke karretjies herinner my aan my pa se Volkswagen-versameling. Boerseep, room, kinderrokkies en houtkieries is ook te koop ─ Adriëtte gaan dalk nog terugkom om ’n kierie aan te skaf! Die jongspan kan in die sandput en op die swaai baljaar terwyl Ma en Pa ’n welkome koppie tee geniet. Boonop is The Perfect Place ’n gewilde bymekaarkomplek vir vriendinne en sakemiddagetes word dikwels hier gehou. Hoewel die restaurant nie saans oop is nie, kan ’n privaat aandfunksie gereël word.

Ons stap deur na die agtertuin en bestel dadelik boeretroos. Die kelners werskaf om vir ’n sestigste verjaarsdag voor te berei en ek teug sielsgelukkig aan ’n cappuccino. Ons ontbyt word bedien ─ ’n Mini Perfect Special en roosterbrood met ’n hoender-mayonnaise-vulsel. Die kos is geurig en oorgenoeg om daai oggendhongerkolletjie te vul.

Van toeka tot nou: Wellington Museum

Ons stap oor die pad na die Wellington Museum waar die vriendelike Shandré op ons wag. Dié museum het sy deure in die vroeë 1970’s geopen toe ’n handjievol toegewyde inwoners besluit het om Wellington, sy mense en die omliggende area se erfenis te bewaar, en dis voorwaar ’n goudmyn! Van ossewaens, die eerste treinspoor vanaf Kaapstad en die eertydse klavierfabriek wat die grootste in die Suidelike Halfrond was, tot die voormalige leerfabriek, droëvrugteproduksie en wêreldklas-wyn.

Shandré ken haar storie en ons luister verwonderd na verhale oor Wellington se eie Klopse wat steeds op 1 Januarie die dorp opvrolik, Bainskloofpas wat in 1853 deur Andrew Geddes Bain sonder formele ingenieursopleiding gebou is, en die gebou waarin die waens destyds gemaak is wat vandag ’n moderne motorhandelaar is. Elke verhaal is uniek en eie aan ons geliefde platteland, maar as ek al die stories oorvertel, gaan ek nooit my sperdatum haal nie!

Pragtige erfenisgeboue is oral te sien in dié dorp.

Wellington se Erfenisroete is egter noemenswaardig en sal jou op ’n reis na vergange dae neem. Dit sluit die NG Moederkerk, biblioteek, stadsaal, Cummings-gebou, Bliss Hall en Ferguson Hall in. Die laasgenoemde twee geboue is na onderwyseresse vernoem wat Andrew Murray vanaf Amerika laat kom het om hom met Christelike hoëronderrig vir meisies te help. Murray was ’n opvoedkunde-pionier wat ’n blywende spoor in Wellington en ander Bolandse dorpe getrap het. Sy klavier en ’n groot deel van sy 250 publikasies word in die museum bewaar en hoewel die boeke nie uitgeneem mag word nie, kan belangstellendes dit hiér kom naslaan. Dit is boonop uiters gepas dat kinders die museum male sonder tal besoek om navorsing vir skooltake te doen en die Egiptiese uitstalling kry groot aftrek.

Woorde wapper in die wind: Die Breytenbach Sentrum

Die Breytenbach Sentrum is volgende aan die beurt en ons beland onverwags midde ’n indrukwekkende kunsuitstalling! Ons spoor Anne-Ghrett op om die verhaal agter dié besonderse gebou, wat meer as 150 jaar oud is, te hoor. Die gebou was aanvanklik ’n hotel en daarna ’n skoolkoshuis. Dis in die 1950’s deur die Breytenbachs gekoop en die befaamde Afrikaanse digter en kunstenaar, Breyten Breytenbach, het saam met sy ouers hier gewoon. In die sewentigerjare was dit ’n daghospitaal en vandag is die Breytenbach Sentrum ’n veelsydige kultuursentrum wat Breytenbach se wense van aangee, deelname en deelword gestand doen.

Dié sentrum bestaan uit verskeie areas, soos die Bôrdienghuis en Ounooi se Jaart waar teaterproduksies en funksies gehou word, die T-aansluiting waar jy ’n lafenis kan geniet en die Breytenbach-kunsgalery. Kunswerkswinkels en -opleidingsessies word gereeld gehou en plaaslike kuns word uitgestal.

Die Tuin van Digters wat vanjaar op 13 en 14 September in dié sentrum se digterstuin plaasvind, is ’n jaarlikse hoogtepunt. Tydens vanjaar se fees sal Breytenbach sy tagtigste verjaarsdag vier en die Ingrid Jonker-prys vir die Afrikaanse debuutbundel sal oorhandig word. Dié digterstuin is vol gedigte deur, onder meer, Marlene van Niekerk, W.E.G. Louw, Gilbert Gibson en Breyten Breytenbach, en dit word op mosaïek, by tuinbankies en teen bome uitgebeeld.

Daar is ook ’n tweedehandse boekwinkel en as trotse boekwurms móét ons natuurlik hierbinne rondsnuffel. Die boekwinkel is stampvol en die temas wissel van reis, sport en lekkerlees-fiksie, tot biografieë, kookkuns en die grensoorlog. Daar is selfs ’n kinderhoekie met stoeltjies.

Watertanddisse: The Stone Kitchen

Ná al die sielskos is dit tyd om ons mae te vul en The Stone Kitchen op die Dunstone Wynlandgoed is nét wat ons nodig het. Dié Bovleivallei-landgoed is na die plaas waarop die eienaars in die Verenigde Koninkryk gewoon het vernoem en beslis ’n besoek werd.

Teen dié tyd trek die herfsweer skewe bek en ’n motreëntjie sif neer. Adriëtte bestel ’n glas Dunstone Merlot en ’n kerriehoenderpot om die koue af te weer en ek smul aan die lamskenkels wat saam met botterskorsies, geroosterde beetskyfies en ’n aartappelskyfie-toring bedien word. Ons word ook met suurlemoenkoek en roomys bederf en die gesegde “magie vol, ogies toe” kry nuwe betekenis!

As jy langer op dié praglandgoed wil vertoef, kan jy in die statige Dunstone Manor tussen die eikebome oornag. Dunstone Country House bied ook verblyf in ses suites wat voorheen perdestalle was en in ’n selfsorgkothuis tussen die koejawelboord.

Waar water wyn word: Andreas Wines

’n Besoek aan Wellington is nie volmaak sonder ’n wynproe nie en dis presies wat ons by Andreas Wines kom doen. Dié boetiekwynplaas produseer net Shiraz en die wynmaker, Shaun, neem ons op ’n vinnige keldertoer.

Ons gaan na die plaashuis waar ’n leersame wynproesessie op ons wag. Shaun bied self die wynproe aan en vertel ons meer oor die plaas, die wingerd en Shiraz se oorsprong in die Franse wynstreek, Rhône. Ek is g’n wynkenner nie, maar Andreas se 2015-Shiraz is lig en saam met donkersjokolade en biltong is dit glad nie te versmaai nie.

Dié Kaap-Hollandse plaashuis dateer uit 1799 en staan as Andreas Guesthouse bekend. Die luukse kamers is ideaal as jy uit die stadsrumoer wil wegkom, of as jy ’n bruid is wat saam met jou bruidsmeisies wil oornag en vir die groot dag regmaak. Daar is ’n klompie sitareas, ’n swembad en ’n lowergroen tuin wat jou definitief rustig sal stem.

Wiegelied in Wellington: LekkeSlaap-verblyf

Buiten Wellington se ryk erfenis en wavragte wynvaatjies bied dié dorpie ook die Ou Kaya Padstal en Kwekery waar diegene met groen vingers ure tussen kaktusse kan deurbring, ’n versteekte droëvrugtewinkeltjie in die middedorp en Redemption ─ ’n immergewilde leerwinkel waar ek self my skoenversameling aanvul. Stappers kan derduisende roetes in Limietberg, Sneeukop en Hawequasberg aandurf en as die geluk aan jou kant is, kry jy dalk die raar Wit Prinses onder oë ─ ’n wit disa wat na bewering net elke 33 jaar haar gesiggie wys.

’n Dag in Wellington is heeltemal te min om dié dorpie van hoek tot kant te verken en daarom stel ons ten minste ’n naweek in dié dutjiesdorp voor.

Oude Wellington Estate | Diemersfontein Wine & Country Estate | Monte Video Guesthouse & Function VenueThe Garden Shed

Dis byna skemer en ek keer huiswaarts met hope nuutgevonde kennis oor ’n dorpie wat ek my lewe lank al ken en waarheen ek binnekort sal terugkeer. Baie dankie aan die Wellington Toerismekantoor vir die reëlings en ’n onvergeetlike dag in die Boland!

Hooffoto: Wellington Toerismekantoor