Vóór hordes na Hartenbos gestroom het en nog lank voor Stilbaai kwaai was, was Muizenberg die mekka waarheen die massas gedurende die somermaande migreer het. Vakansiegangers het in Valsbaai se verfrissende water kom afkoel, en die koelte wat die Kaapse wind bring geniet. Muizenberg is ongetwyfeld ’n branderplankry-paradys en, te danke aan Heather Price in 1919, is dié dorp die eerste opgetekende geval in Suid-Afrika waar iemand regop op ’n plank die branders baasgeraak het. Muizenberg is voorwaar ’n skatkis waar die verlede en hede ontmoet, maar deesdae word dié kusdorpie byna misgekyk op pad Kalkbaai of Simonstad toe.

Dié dorp lê diepgewortel in ons land se geskiedenis. Die Slag van Muizenberg in 1795 het die begin van die Britse besetting in Suider-Afrika aangekondig. Tydens dié veldslag is die Nederlandse setlaars na ʼn area net duskant Muizenberg teruggedryf ─ vandaar die naam Retreat. Muizenberg self is glo na Wynand Willem Muijs vernoem ─ een van die eerste amptenare wat die buitepos bestuur het. Dié buitepos, Het Posthuys Museum, is een van die oudste geboue in Suid-Afrika en jy kan dit gaan besoek.  

Toe die spoorweë in 1882 uitgebrei is, het vakansiegangers die dorp binnegestroom. Ná die ontdekking van goud in 1886 aan die Witwatersrand het goudmagnate Muizenberg gekies as die plek om hulle vakansiehuise te bou. Weens dié gewildheid het Muizenberg ook ekonomiese groei beleef. Die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899-1902) het nét so ’n groot rol gespeel in die toename van Muizenberg se gewildheid. Gewonde Britse soldate is van die slagveld na die kampterrein in Kenilworth gestuur om te herstel en het dan Muizenberg besoek om hulle liggame te genees. Selfs Cecil John Rhodes het met dieselfde doel ’n kothuis hier kom bou.

Besoek dié invalplekke om meer oor Muizenberg se geskiedenis en haar mense te leer

Casa Labia Cultural Centre

Berei jou nek voor, want dié statige huis se plafonne is kunswerke op hul eie. Die gebou is in 1929 volgens ʼn agtiende eeuse styl gebou om die eertydse Venesië vas te vang en was oorspronklik die graaf en gravin Natale Labia se tuiste. Vandag is dit ’n restaurant, multi-funksionele sentrum en jy kan selfs hier trou! Hoofstraat 192, Muizenberg

Polisiemuseum

Dis ’n museum van formaat wat jou keer op keer laat terugkeer! Hiér, in die voormalige Carnegie-biblioteek, kan jy uniforms en staaltjies van die Suid-Afrikaanse Polisiediens uit vervloë dae onder oë kry. Daar is selfs ’n ou opgestopte perd wat eens Muizenberg se strand gepatrolleer het. Die ou landdroshof is deel van die museum en jy kan die trappe af na die ou selle volg. Moenie die storie agter die toring mis nie! Let daarop dat dit deur die dorp se polisie bestuur word en slegs van Maandag tot Vrydag, van 08:00 tot 15:30 oop is. Hoofstraat 186, Muizenberg 

Sobeit Store & Hong Kong Charlie Sushi Cafe

’n Mens val by dié plek in as jy aan die beste soesji wil knibbel, op soek is na ’n ordentlike koppie boeretroos, of ’n interessante huisversiering of twee wil koop. Verwag die onverwagse. Hoofstraat 51, Muizenberg

Blue Bird Garage

Op Vrydagaande is dié markie die dorp se geheime kuierplek. Dis in ’n ou vliegtuigskuur en ook op die eerste Sondag van elke maand oop. Albertyn-weg 39, Muizenberg

Muurskilderye

’n Ongeverfde muur is so skaars soos hoendertande in dié dorp. Muizenberg, en veral die oudorp, spog met muurskilderye om elke hoek en draai. Vind die kleurvolle werke by Surfer’s Corner duskant die treinstasie, h/v Rhodesia-weg en Albertyn-weg, en in die oudorp in Palmer-weg en Killarney-weg. Hou maar jou oë oop, want elke dag is daar iemand nuut met ’n kwas!

Waar om te bly

Loer gerus na al die lekker plekke op ons webtuiste. LekkeSlaap bied ’n verskeidenheid verblyf in Muizenberg wat elke sak sal pas.

Muizenberg is meer as net branderplanke en Victoriaanse strandhutte. Besoek dié dorp vir ’n luilekker wegbreek en herleef die goue dae van see, sand en son!

 Hooffoto: Jeanne Carstens