Ná ’n lang dag op die pad, lê die lodge soos ’n oase en wag wanneer ons oor die laaste koppie ry ─ as my oë my nie misgis nie, is dit dan nou glad palmbome wat daar tussen die lodge-geboue staan?

Toe Letsatsi Lodge LekkeSlaap genooi het om ’n naweek by hulle op die Knersvlakte te kom kuier, het ons geweet ons gaan lekker slaap en lekker eet, maar nie eintlik besef presies hóé lekker nie ─ om nie eers van die interessante geskiedenis van dié lodge te praat nie! Ons pak toe ons tasse en kies op die N7 koers Vanrhynsdorp se kant toe.

Die lodge

Die lodge is in Vanrhynsdorp reg langs die N7 geleë en is ’n gerieflike oorblyplek vir sakereisigers wat die area besoek, vakansiegangers wat op pad is na hulle volgende bestemming, maar ook vir diegene wat op soek is na ’n ontspannende naweekwegbreek, want die lodge, en die omgewing, het beslis ’n paar aktiwiteite wat jou sommer die hele naweek lank sal besig hou.

Die luukse tweeslaapkamer-eenhede vir gesinne.

Ons ontmoet ’n vriendelike Freddie, die assistentbestuurder, by die ontvangsarea en hy neem ons op ’n toer van die lodge se geriewe. Daar is luukse eenslaapkamer-eenhede, tweeslaapkamer-eenhede vir gesinne, en tent-chalets langs die dam wat ideaal is vir paartjies. Elke eenheid het ’n koningingrootte-bed, ’n ruim en suite-badkamer en ’n buitestort wat vreeslik gewild is tydens die somer! Daar is ook lugversorging, ’n platskerm-TV met sekere DStv-kanale, en ’n paar van die eenhede het buitebraaigeriewe op die stoep ─ onthou om spesifiek vir ’n eenheid met ’n braai te vra as jy van plan is om ’n vleisie oor die kole te gooi.

Die tent-chalets langs die dam.

Die lodge bied ook braaipakke met tuisgemaakte sosaties, ys, kameeldoringhout, ’n wasgoeddiens, braaigeriewe vir groepe, vier swembaddens en ’n reuse-skaakstel op die perseel. 

Links: Die eenslaapkamer-eenhede en tent-chalets vanuit die lug. Regs: Een van die vier swembaddens.

Baie reisigers bring ook hulle troeteldiere saam en daarom het Letsatsi twee omheinde eenhede wat troeteldiervriendelik is. Jou vierpootvriende word teen ’n ekstra bedrag toegelaat, maar slegs twee per eenheid. Let asseblief daarop dat jou hond te alle tye aan ’n leiband moet wees. Die skoonmaakkostes vir meubels of beddegoed wat deur jou troeteldier beskadig is, sal op jou rekening gehef word. 

Maak seker jy hou Letsatsi se profiel op ons webtuiste dop. Hulle is tans besig met aanbouings wat een van die dae luukse, privaat villas op die koppie agter die lodge gaan insluit ─ ’n entjie van die res van die verblyf af en perfek vir ’n romantiese wegbreek!

Die geskiedenis

Die eenslaapkamer-eenhede en tent-chalets is nuut gebou, maar die tweeslaapkamer-eenhede is in die oorspronklike klooster geleë ─ ja, ’n klooster! Die terrein waarop die lodge gebou is, was destyds ’n Katolieke sendinggemeenskap wat in 1926 gestig is. In 1927 het hulle al ’n kerk, woonkamers, ’n skool, ’n graanmeul en ’n groot slypmasjien gebou, en byna tien jaar later was daar ook ’n koshuis en ’n kinderhuis. Later het die aantal lede só dramaties toegeneem weens gesinne wat hulle daar gevestig het, dat daar besluit is om ’n nuwe kerk te bou. Dié kerkgebou het drie jaar geneem om te voltooi en is toe in 1951 ingewy.

Die Katolieke kerk op die perseel.

Die sendingkerk het floreer onder leiding van Vader Lazerus en hy het selfonderhoudendheid sterk aangemoedig. Groente is op die perseel verbou, hy het die nonne gehelp met die bemarking van hul handwerkprodukte, en hy het seker gemaak die enigste meul in die distrik word ingespan. Die meul is gebruik om koring van die omliggende plase tot meel te maal en dit is Saterdae saam met die oortollige vrugte en groente uit die tuin in die dorp verkoop. Jare later het die Groepsgebiedewet teen die voortsetting van die bevolkingstoename van die sendingkerk gestem en inwoners moes na Maskamsig verhuis. Die skool, koshuis en kinderhuis moes toe ook hulle deure in 1968 sluit.

Links: Die kerk en kerktoring. Regs: Die oorspronklike houtbankies staan steeds in die kerk. (Foto’s: Daniëlle Terblanche)

Die eiendom is in 2013 deur Jeán Lambrechts gekoop. Hy het die potensiaal gesien om ’n lodge daar te bou, maar wou ook die kerk en sy geskiedenis bewaar en het onderneem om dit te koop, te herstel en in stand te hou. Vandag is die ou klooster die gesinseenhede, die ou kerk is die restaurant en die nuwe kerk is steeds die kapel op die perseel. Die sierfontein in die parkeerarea is ook nog die oorspronklike fontein!

Die restaurant

Ons eerste ervaring by die Red Ox Steakhouse op die perseel is vir aandete en dis uitstekend ─ van die vriendelike verwelkoming en die atmosfeer, tot die heerlike disse waar daar glad nie op porsiegrootte teruggehou word nie! Ons vriendelike kelner, Pepsi, kom gedurig hoor of alles nog in orde is. Ná ons die Teubes Cabernet Sauvignon bestel, vertel hy ons dat die skaapstertjies wat in rooiwyn gebraai word ’n gewilde voorgereg is. Ons bestel dan natuurlik skaapstertjies, sowel as slakke in knoffelbotter en sampioene wat in spek toegedraai en gekrummel is ─ al drie voorgeregte is uit die boeke! 

Links: Die Red Ox-restaurant op die perseel. Regs: ’n Heerlike filet met pepersous en ’n bakkie slaai. (Foto’s: Daniëlle Terblanche)

Terwyl ons nog aan die heerlike rooiwyn teug, bestudeer ons die spyskaart vir hoofgereg. Red Ox bedien alles van steak, ribbetjies, beesstert, tradisionele Suid-Afrikaanse bobotie, lamsnek, stokvis en calamari, tot burgers, pizzas en slaaie! Sondae bedien hulle ook ’n buffet-ete teen R150 per persoon, wat ’n glas rooi- of witwyn, sap en nagereg insluit ─ dit is verskriklik gewild onder die plaaslike inwoners. Die beesstert op fynaartappel en groente, lamskerrie met rys, en filet met pepersous word na ons tafel aangedra, en ons eet só lekker dat ons nie by nagereg uitkom nie. Die wortel- en kaaskoeksnye en malva- en gemmerpoedingbakkies wat ons by ’n paar van die ander tafels sien, lyk egter nét so lekker.

Links: Die restaurant van binne. Regs: Meer as genoeg heerlike eetgoed vir ontbyt. (Foto’s: Daniëlle Terblanche)

By Letsatsi is ontbyt by jou verblyftarief ingesluit en word dit in buffet-styl bedien. Daar is byna alles waaraan ’n mens kan dink: eiers, spek, hoenderlewer, roosterbrood, worsies, plaatkoekies, muffins en quiche-happies, en natuurlik verskillende papsoorte, jogurt, vrugte, koffie en tee ─ en melkkos! Ek is so beïndruk met dié verrassing, dat ek maar net moet terugstap vir ’n tweede skeppie! En ek is nie al een nie … wanneer ek later deur LekkeSlaap se resensies vir Letsatsi lees sien ek Mariëtte het geskryf: “Ons is mal oor Letsatsi en sal weer teruggaan, al is dit net vir die melkkos.” Ná só ’n behoorlike ontbyt is ’n mens mos reg vir ’n opwindende dag van die area verken.

Die plantegroei

Net buite die restaurant is ’n pragtige versameling vetplante uit die omgewing. Het jy geweet die Knersvlakte spog met ’n hele derde van die wêreld se dwergsukkulente? Dit het ook een van die grootste konsentrasies bedreigde plantspesies en is een van die rykste en mees uiteenlopende sukkulentstreke ter wêreld. Dié miniatuur-vetplante kom in alle vorms en groottes voor, en spog soms met oulike name soos bababoudjies, krapogies en vingers-en-duimpies.

Links: Die kokerbome op die perseel. Regs: Een van oom Brink se plantversamelings buite die restaurant. (Foto: Nanje Lourens)

Oom Brink, die opsigter en interne plantkenner, laai ons in die gholfkarretjie om ons al die interessante plantspesies op die perseel te wys ─ dis ook sy versameling sukkulente wat trots buite die restaurant pronk. Maak gerus daar ’n draai en koop vir jou ’n plantjie om saam te neem huis toe. Die lodge-gronde spog met verskillende vygies, soos die Nama-vygie en douvygie, kokerbome, botterbome, die Kanniedood-aalwyn en natuurlik die Namakwa-madeliefie wat tydens die veldblomseisoen die koppies geel inkleur. Die kankerbos, of die Jantjie Berend, kom ook uit die Knersvlakte en is ’n medisinale plant wat in teevorm gedrink word om nierkwale en diabetes te beveg, én dis ’n natuurlike immuunversterker. 

Maak seker jy klop by Letsatsi Lodge aan tydens die veldblomseisoen ─ oom Brink bied dan staptoere teen die koppe uit waartydens hy jou meer van dié wêreld se plantspesies vertel, terwyl jy tussen die goudgeel, oranje en pers blommetjies stap.

Die venue

Die ou Katolieke kerk op Letsatsi se perseel is natuurlik die ideale plek vir jou en jou wederhelfte om ewige trou aan mekaar te beloof. Dié kerk spog steeds met sy oorspronklike houtbankies, muurskilderye en ’n kerkklok, en die sierfontein en orrel wat uit die 1940’s dateer, is pragtig opgeknap. Die moderne funksielokaal is stapafstand van die kerk af en spog met lugversorging, ’n kroeg vol voorraad, ’n ten volle toegeruste kombuis en ’n pragtige kuierstoep met gemaklike rusbanke, houttafels en -stoele wat ideaal is vir drankies en peuselhappies. Die lowergroen tuin is die ideale agtergrond vir ’n verskeidenheid pragtige foto-geleenthede. Die lodge is ook tans besig om ’n prentjiemooi buite-area te bou waar jy een van die dae onder die bome kan trou!

Die pragtige funksielokaal onder die bome. (Foto: Daniëlle Terblanche)

Keer op keer sien ons hoe besoekers aan dié lodge in hul resensies vertel hoe beïndruk hulle met hul verblyfkeuse was. Wessel K. dink “Letsatsi het Vanrhynsdorp van ’n oornagstop na ’n vakansiedorp verander,” en Hannelie D. meen “die lodge is baie mooi uitgelê en alhoewel die ligging reg langs die N7-snelweg is, het dit tog ’n gevoel van rustigheid en stilte.”

So, moenie langer op jou laat wag nie. Of jy nou op pad is na ’n volgende bestemming, of sommer net lus is om die Knersvlakte te verken, bespreek jou verblyf hiér ─ jy sal nie spyt wees nie!

Hooffoto: Daniëlle Terblanche
Alle ander foto’s tensy anders vermeld: Letsatsi Lodge op LekkeSlaap.co.za