Psst! Het jy geweet Maart is die beste tyd om die Oos-Vrystaat te besoek? Vandag vertel ons jou ’n storie van ’n stoomtreinreis na gister deur velde vol malvalekker-blommetjies. Dís nou vir jou beslis iets anders as die gewone jaarlikse uitstappies na die Ficksburg-kersiefees of Namakwaland se blomtapyt!

Gesoute plaaslike reisigers ken Namakwaland se veldblomkaart uit hul koppe uit en kan die bekendste stoomtreine opnoem sonder om twee keer te dink: “Daar’s die Diamond Express van Cullinan, Rovos Rail en … die Hogwarts Express…”. Maar weet jy van die spookasempienk-verskynsel in Ficksburg se geweste en ken jy die nostalgie van ’n propperse outydse stoomlokomotief wat sy trokke oor die vlaktes sleep? As dít nie vir jou bekend klink nie, weet ons nét waar jy dit kan beleef! Van Maart tot April sal die kosmos-veldblomme die velde volstaan en boonop hou Sandstone Estates juis dán die Stars of Sandstone-erfenisfees waar talle ou lokomotiewe weer hul stoom oor die Oos-Vrystaat se vlaktes sal blaas. Sag- tot skokpienk blommetjies en stokou stoomtreine ─ ons wed jou jy het nog nooit só ’n goeie rede gehad om Ficksburg te besoek nie!

Kosmos, want dit kos mos niks

Kosmos in elke skakering van pienk (Flickr-collage)

Kosmos is die rooskleurige blommetjies wat van Maartmaand af die Oos-Vrystaat opvrolik vir enigeen wat daar deurreis. Die woord “cosmos” het ’n Griekse oorsprong en kan rofweg vertaal word as “orde” en “heelal”, of “die skepping”. Dié fraaiste blommetjies het hul ontstaan in SA te danke aan perdevoer wat van Suid-Amerika ingeskeep is vir die Britse troepe tydens die Anglo-Boereoorlog. Kosmos, ’n inheemse Meksikaanse krui, was deel van dié mengsel en het sodoende op eie bodem beland.

So, as jy nie kan wag vir die oranje kombers van Namakwaland se gousblomme en madeliefies in Augustus nie, kies ’n slag koers na die Oos-Vrystaat om sommer nóú al jou blomme-fieks te kry.

Tjoekepaffe-tjoekepaffe-tjoe-tjoe

Tussen Fouriesburg en Ficksburg | Foto: Michel Huhardeaux (Flickr)

Daar is min dinge so nostalgies soos ’n swart-en-maroen lokomotief wat stadig voortstoom en rook uit sy skoorsteentjie blaas. Die ritmiese klak-klak-klak van die staalwiele en die nasale geluid van die horing wat oor die vlaktes blaas, sal die nostalgie hard aan enigeen se hartsnare laat pluk. Tog is daar min werkende stoomtreine oor en ken jy dalk net die spuitverf-getatoeëerde, grys en geel waens van die diesel-aangedrewe Metrorail-treine wat ons daagliks langs die paaie werk toe vergesel.

'n Paar van die erfenis-stoomtreine te siene by die Stars of Sandstone-erfenisfees | Foto's deur Aidan McCarthy

As jy van stoomtreine hou, en boonop ’n ywerige fotograaf is, kan jy maar jou tassies begin pak vir die indrukwekkende Stars of Sandstone-erfenisfees in Ficksburg. Dit is die perfekte foto-geleentheid aangesien daar verskeie erfenislokomotiewe daagliks op spesiale spore gaan loop en jy selfs in die meeste van hulle sal kan ry! Koop ’n kaartjie vir dié spesiale ervaring, steek jou kop by ’n eeu-oue stoomtrein se venster uit en kyk hoe die pienk-en-wit kosmosvelde vir jou wuif!

Doedoe, dommel en dut…

Mama Fourie's Guest Cottages | Foto: LekkeSlaap

As die kosmosprag en die stoomtrein-nostalgie jou al klaar vakansieplanne laat beraam, het ons goeie nuus vir jou! Nie net het LekkeSlaap ’n hele rits blyplekke in daardie geweste nie, maar Mama Fourie’s Guest Cottages in Fouriesburg het sommer 20% afslag vir gaste wat tussen 20 en 30 Maart vir 2 of meer aande bespreek! Om die nostalgie nóg meer aan te wakker, staan daar twee antieke bussies op die perseel ─ ’n Thames en ’n Ford. Dié twee rooi trokkies is liefderik gerestoureer en omskep in ’n kombuis en eetarea, so ’n interessante maaltyd is definitief gewaarborg! Fouriesburg is net ’n uur se ry van Ficksburg af, so jy kan maklik die erfenisfees bywoon en boonop die kosmos langs die pad gade slaan. Maartmaand is alreeds aan die gang en die tyd raak nou vinnig min, so kliek hier om nóú jou plekkie daar vas te maak!
Kosmos langs die plattelandse pad in Ficksburg | Foto: Springwater Cottages (LekkeSlaap)Indien jy eerder nader aan die erfenisfees wil wees, kan jy altyd kies om in Ficksburg self tuis te gaan. LekkeSlaap het tientalle oulike blyplekke daar ook ─ kliek hier om jou lêplekkie in Ficksburg te verseker.

Springwater Cottages | Foto: LekkeSlaap

Nou ja, daar het jy dit! Kosmos, stoomtreine, platteland, erfenis én afslag ─ ons is oortuig dis meer as genoeg redes om dié Maart die stuurwiel in ’n Oos-Vrystaatse rigting te draai!

Flickr-collage van links na regs: The most perfect flower I have ever seen” deur Angelina Earley, “Cosmos” deur Guillaume, “Bright Cosmos” deur Catherine (alles Flickr)

Hooffoto: “Cosmos 101016” deur Osanpo (Flickr)