Rosendal het dalk minder as ’n 100 permanente inwoners, maar hierdie sonderlinge dorpie in die Oos-Vrystaat loop oor van al die stories. LekkeSlaap het gaan inloer om te luister na dié verhale en te sien watter skatte hier lê.

Ligging

Rosendal is sowat ’n halfuur se ry vanaf Ficksburg en ongeveer ’n uur en vyftig minute vanaf die Golden Gate Hoogland Nasionale Park en word deur die Witteberge omring.

Geskiedenis

Dié dorpie is in 1911 gestig toe die plaasgemeenskap ’n behoefte aan sy eie kerk en sentrale mark ontwikkel het. Boer Phillip Botha het die grond geskenk en twee name voorgestel: Rosendal en Leliesfontein. Siende dat Botha se plaas ’n oorvloed rose gehad het, was dit alles behalwe ’n moeilike keuse. Al die rotstekeninge in die grotte op die omliggende plase dui egter daarop dat die Khoisan die oorspronklike bewoners van dié geweste is.

A post shared by Ishmael Mohlabi 📷 (@ish.moh) on

Die Voortrekkers het ook deur Rosendal gereis onder leiding van Andries Potgieter, maar ná Piet Retief se koms, is daar by ’n omstrede openbare vergadering besluit om Natal die bestemming van die Groot Trek te maak en die Boererepubliek op te rig.

Verskeie bewerings word gemaak oor die oorsprong van Rosendal se pragtige rose. Sommige mense beweer dat hooi en voer wat die Britte gedurende die Anglo-Boereoorlog vanaf Suid-Amerika ingevoer het hondsroos-sade bevat het. Ander sê weer dat sendelinge die rose hierheen gebring het om die roosbottelvrug te gebruik om ’n poeier, wat ryk aan vitamiene C is, vir die plaaslike inwoners te maak.

 

Kuns

Verskeie kunstenaars vind aanklank by Rosendal. Kunstenaar Michelle Nigrini sê die lig en energie hier is fantasties. Volgens Michelle verhuis verskeie kunstenaars hierheen op soek na iets anders. Die unieke snuisterye, koffieplekke en galerye getuig beslis van andersheid. Van die bekendste kunstenaars in dié dorpie is Dahla Hulme, die Kotzé-gesin, Michele Nigrini, Willem Pretorius en Wim Rautenbach.

 

Snuisterye

Turksvy Trading

Hierdie winkeltjie word deur Sandra Lemmer besit. Sy verkoop medisyne, gebottelde lekkergoed en snuisterye.

Besigheidsure: Saterdae en Sondae vanaf 10:00 tot 16:00 | Kontakbesonderhede: 082 371 2137

 

Kaboedel Craft

A post shared by Catherine : (@the_wooden_sheep) on

Dié winkeltjie se weefstof en glasprodukte word plaaslik vervaardig. Zaria spin en weef haar eie wol en spog met ander weefkunsprodukte. Haar man, Dewald, weef matte en maak sy eie glasprodukte.

Besigheidsure: Per afspraak | Kontakbesonderhede: 083 725 2080

Black Anvil

Simon Streicher het die mes in vir sy kliënte, maar op ’n goeie manier. Hier kry jy jag-, knip-, vleis-, biltong-, kaas- en briewemesse met handvatsels van swartivoor-, tambotie- of olienhout. Dié messe word teen 1080°C in ’n spesiale oond verhard, daarna in olie afgekoel en dan verder in ’n gewone oond teen 165°C verhard.

Besigheidsure: Per afspraak | Kontakbesonderhede: 084 603 1538 / 058 211 0966

Studio Ben

André Loots is Rosendal se bekende seepmaker en wewer. Hier kry jy kelimmatte, velt- en kwiltprodukte, hekelwerk en fantastiese seep wat van kokosneute en olyfolie vervaardig word. Sy verhuur ook fietse teen R50 per dag vir besoekers wat die dorpie op ’n meer opwindende manier wil verken. 

Besigheidsure: Per afspraak | Kontakbesonderhede: 058 211 0629

Kos en Vermaak

Kos-Huis

Dié eertydse skoolkoshuis is deesdae ’n gesellige kroeg, restaurant en onthaallokaal vir klein funksies. Hier kan jy smullekker ontbyte, middag- en aandetes en drankies geniet ─ hulle is veral bekend vir hulle burgers en tjips!

Besigheidsure: Dinsdae tot Sondae vanaf 10:00 tot laat | Kontakbesonderhede: 082 660 5443 / 083 672 6208

Chrisse winkel

Oppiekoffie, 7de Laan se koffiewinkel mag dalk fiktief wees, maar dit is glad nie so vergesog nie. Hier in Rosendal het Oom Francois, oftewel die akteur Chris van Niekerk, sy eie sjoppie! Hier verkoop hy fotografiese kunswerke, antiekware en boeke, asook koffie, ’n wenner-wortelkoek, melktert, en ligte soutdisse soos vetkoek met maalveis.

Besigheidsure: Woensdae tot Sondae van 09:00 tot 16:00 | Kontakbesonderhede: 083 444 2354

Waya Waya Tavern

Kom geniet ’n yskoue bier by Waya Waya Tavern in Mautse na ’n besige dag. Dié kroeg spog met die grootste en goedkoopste biere in die Oos-Vrystaat ─ kyk veral uit vir die quarts en ciders!

Besigheidsure: Maandae tot Sondae vanaf 10:00 tot laat | Kontakbesonderhede: 058 211 0902

Markte

Daar word per geleentheid op Saterdae ’n markdag vanaf 09:00 tot 11:00 gehou. Hier kan jy uitsien na ’n groot verskeidenheid kos en vars produkte, soos konfyt, ingelegde vrugte, brode, quiches, en lemonade, om maar net ’n paar te noem.

Kom loer ook in by die Kersmark @ Rosendal wat die 16de en 23ste Desember van 09:00 tot 11:00 op Ou Rosa se stoep plaasvind. Hier kan jy allerhande kunsvlyt en heerlike kosse koop en geniet.

Doendinge

Waaipoort Permakultuurplaas

Dié plaas is besig om homself as ’n Permakultuur Navorsingsinstituut te vestig en om ’n alternatiewe voedselnetwerk daar te stel. Op Waaipoort kan jy vir ’n paar uur as vrywilliger kom dien en bome plant, groente oes en instandhoudingswerk doen.

Besigheidsure: Per afspraak | Kontakbesonderhede: 072 631 5409 / 074 950 7699

Moolmanshoek

A post shared by Konrad Steyn (@konradsteyn) on

Moolmanshoek Privaat Wildreservaat is wel 20 minute vanaf Rosendal, maar dit is definitief die moeite werd om hierdie plaas te besoek. Dit is tot ’n Natuurlike Erfenisgebied verklaar, hoofsaaklik weens die seldsame bergbamboes wat in die vallei groei. Hiér kan jy uitsien na perdry, visvang, wildritte, begeleide wandelings, kunsvlieghengel en fietsry. Jy kan natuurlik ook ’n lêplek hier vind as jou bedrywige dag sy tol geëis het.

Wynproe op die Riemland-roete

Sasolburg, Heilbron, Petrus Steyn, Lindley, Arlington, Senekal en Rosendal is op die Riemland-roete en dit is ook die toegangspoort tot die Oos-Vrystaat. In die 1800’s het die wild in hierdie omgewing heelwat jagters en verkenners gelok. Die velle is uitgevoer en gebruik om leerprodukte en rieme te maak.

Francolin Creek en Goedehoop se wynkelders is ook op hierdie roete te vinde. Al twee dié kelders skuil onder swaar, ou plaashuise wat meer as 100 jaar gelede gebou is. Hier kan jy aan heerlike Wes-Kaapse wyne, soos Groote Post, Kloovenburg, Babylons Peak en Van Loveren, in die pragtige Vrystaat-milieu teug.

Bespreek sommer ’n slaapplekkie op hierdie roete voor jy weer huiswaarts keer.

Francolin Creek | Goedehoop Guest Lodge

Verblyf

Die huisies in hierdie dorpie is beslis iets om oor te gons, want dit is ongekunsteld, kunstig, en spog met oorspronklike kunswerk, gas- of koolstowe, ketels wat fluit, antieke meubels en stoepies waar jy die natuurskoon van die Witteberge opreg kan waardeer.

Bespreek jou Witteberg-wegbreek sommer nou en verloor jouself in die verhale en lekkernye van dié unieke dorpie!

Hooffoto: Rosendal (Facebook-blad)