Dit is nooit te vroeg om jou vakansie in die Kruger te begin beplan nie, en met elke verandering van die seisoen is daar nuwe dinge om in hierdie massiewe toeriste-trekpleister in die land te ervaar. Verblyf in en rondom die Krugerwildtuin word gewoonlik al vróég volbespreek, so dit is nooit te gou om te begin dink aan waar jy wil uitspan in die noorde van die land nie. LekkeSlaap het ’n paar verblyfopsies rondom die Wildtuin uitgekies, vir diegene wat die rustigheid van hul eie plekkie wil geniet, maar steeds naby genoeg aan die Wildtuin vir dagbesoeke wil wees.

Lalamo Guest House

Hierdie gastehuis is net een kilometer vanaf die Krugerwildtuin se Phalaborwa-hek, en ná ’n dag se wildkyk kan jy heerlik by die kroeg en restaurant op die perseel uitspan. Daar is ook ’n swembad om van die Limpopo-hitte te ontsnap. Dié gastehuis het dubbelkamers, kamers met twee enkelbeddens of gesinskamers om van te kies en die lugversorging in die kamers is ’n bonus!

Kaia Tani Exclusive Guesthouse

By hierdie troeteldiervriendelike verblyf kan jy in kamers bly wat in ’n Afrika-styl versier is, ook net een kilometer vanaf die Krugerwildtuin. Die gastehuis het ’n biblioteek en ’n kroeg wat ten volle gelisensieer is en ’n uitsig oor die rotsswembad op die perseel bied. Daar is wasgoeddienste, lughawependeldienste en reëlings kan vir masseerbehandelings getref word. Die gastehuis kan jou ook bystaan om besprekings vir safari’s en ander uitstappies te maak.

Sunbird Lodge

Hierdie lodge is minder as tien minute se ry vanaf die Krugerwildtuin se Phalaborwa-hek en daar is tien eenhede om van te kies ─ van dubbelkamers tot kamers met twee enkelbeddens. Elke kamer het lugversorging en ’n TV met sekere DStv-kanale. Jy kan ook in die swembad spring en braai op die perseel, en ’n daaglikse skoonmaakdiens en WiFi is ingesluit.

SleepOver Orpen Gate

As jy op soek is na ’n sakpas-basis vir daguitstappies na die Krugerwildtuin, is hierdie plek vir jou. Daar is verskeie kamers om van te kies wat elkeen lugversorging en ’n en suite-badkamer het. Die verblyf bied ’n daaglikse skoonmaakdiens, gemeenskaplike braaigeriewe en ’n geriefswinkel waar pasteie en verhit-en-eetmaaltye verkoop word vir wanneer jy ná ’n dag se verkenning terugkom.

Nthakeni Bush & River Camp

By hierdie boskamp langs die Mutale-rivier kan jy in ’n grasdak-kothuis of op die kampeerterrein uitspan. Dit is ongeveer vyf kilometer vanaf die Krugerwildtuin se Pafuri-hek en natuurliefhebbers sal mal wees oor die voëlspesies en unieke flora wat hier te sien is. Gaste wat kamp het boonop hul eie privaat badkamer met ’n stort en toilet, so dis nie nodig om van gemeenskaplike badkamers gebruik te maak nie! Die hoofkamp het ’n rotspoel en klein kioskwinkel. Daar is ook ’n lieflike swembad en gaste kan selfry-bosritte en boswandelinge geniet, voëlkyk en daguitstappies na die Krugerwildtuin onderneem.

Buffalo Rock Tented Camp

Hierdie oord bied verblyf wat alles insluit naby die Numbihek in die Krugerwildtuin. Daar is twaalf tent-chalets met ’n safari-styl en elke chalet het ’n en suite-badkamer met ’n stort en toegang tot ’n privaat buitestort. Maaltye is ingesluit en word in die gesellige opelugboma bedien. Oop 4×4-voertuie word vir wildritte gebruik en begeleide boswandelinge kan ook gereël word.

Bush Villas on Kruger

Kruger acommodation

Hier kan jy in een van twintig pragtige grasdakvillas, net vyf minute vanaf die Phalaborwa-hek uitspan. Die villas skuil tussen drie damme in groot, bosagtige tuine met groot koorsbome wat skadu bied. Wanneer julle nie die Wildtuin verken nie kan julle by die swembad met sonstoele uitspan, of by die dam op ’n vang-en-vrylaat-basis visvang. Daar is ’n supermark naby en begeleide uitstappies na die Krugerwildtuin en die plaaslike gemeenskapsprojekte, waarby Bush Villas on Kruger betrokke is, kan ook gereël word.

Honeyguide Tented Safari Camp – Khoka Moya

Honeyguide Tented Safari Camp_Krugerwildtuin

Honeyguide Tented Safari Camp – Khoka Moya is ‘n luukse tentkamp in die Manyeleti Wildreservaat wat aan die Krugerwildtuin grens. Die kamp bied ’n meeslepende Afrika-boservaring met uitstekende wildkykgeleenthede. Die vyftien tente is ruim en goed ingerig met en suite-badkamers en privaat dekke wat ’n uitsig oor die bosveld bied. Gaste kan in die kamp se hoofarea ontspan, wat ’n swembad, sitkamer en eetarea insluit. Die kamp bied ook ’n verskeidenheid aktiwiteite, insluitend begeleide wildritte en boswandelings onder leiding van ervare gidse en spoorsnyers.

Loer ook na sy susterstentkamp: Honeyguide Tented Safari Camp – Mantobeni.

Nkambeni Safari Camp

Nkambeni Safari Camp_Krugerwildtuin

Nkambeni Safari Camp is ’n gerieflike safari-lodge wat naby die Numbi-hek se ingang van die Krugerwildtuin geleë is. Die kamp bied ’n verskeidenheid verblyf-opsies, insluitend luukse tente en chalets wat almal met ’n pragtige uitsig oor die dam spog. Elke eenheid het geriewe soos lugversorging en ’n privaat dek en die perseel spog met ’n restaurant en bomabraai. Die Danger Ranger Bush Pub bederf jou met ’n uitsig oor die watergat waar seekoeie gereeld baljaar. Ander aktiwiteite sluit, onder meer, wildritte in die oggend en middag, staptogte in die bos en nagritte in die Krugerwildtuin in.

Shindzela Safari Camp

Shindzela Safari Camp_Krugerwildtuin

Shindzela Safari Camp is ’n rustieke dog luukse kamp in die Timbavati Privaat Natuurreservaat. Die kamp bied ’n intieme en outentieke Afrika-boservaring, met net agt tente wat elkeen gerieflik ingerig is en onbeperkte WiFi het. Die kamp se hoofarea, eetarea, sitarea en kroeg het elkeen ’n uitsig oor die watergat. Daar is ook ’n swembad en, as die weer dit toelaat, kan julle om die boma kuier en die dag se stories met mekaar deel. Shindzela Safari Camp bied ’n verskeidenheid aktiwiteite, soos daaglikse wildritte en boswandelings, en voëlkykers kan hul oë vir die 350 voëlspesies wat in die omgewing te sien is oophou. Shindzela is ’n omgewingsvriendelike kamp en maak van sonkrag en gas gebruik.

Ndzhaka Tented Camp

Ndzhaka Tented Camp_Krugerwildtuin

Ndzhaka Tented Camp is ’n privaat tentkamp in die hartjie van die Manyeleti Wildreservaat. Die kamp is in ’n digte deel van die woud op die N’waswitsontso-rivier se oewer weggesteek. Die kamp is bekend vir sy ongerepte omgewing en bied ’n eksklusiewe bosveldervaring met net ’n handjievol tente wat elkeen ’n en suite-badkamer het. Ná ’n opwindende dag van wildkyk, spoorsny en voëlkyk word aandetes saans op ’n oop vuur voorberei waar julle kan kuier.

Buffelshoek Tented Camp

Buffelshoek Tented Camp_Krugerwildtuin

Buffelshoek Tented Camp is ’n luukse tentkamp in die privaat Manyeleti Wildreservaat. Daar is net vyf ruim grasdaktente wat elkeen ’n en suite-buitelugbadkamer en ’n privaat dek met ’n bosvelduitsig het. Die eetarea word met lanterns belig wat soortgelyk is aan die hemelruim as ’n mens saans opkyk. Wildritte soggens en saans word ook by die verblyf ingesluit. 

Wanneer moet jy die Wildtuin besoek?

Baie mense se gunstelingtyd van die jaar om die Wildtuin te besoek is in die wintermaande. Dit is dan droog so die diere migreer na die water toe en jy kan vir ure by die riviere en damme vertoef om te kyk hoe hulle in die water baljaar. Dit is ook makliker om dan diere raak te sien, aangesien die plantegroei nie so dig is nie. Die diere is dan ook meer aktief deur die dag, veral vroegoggend en laatmiddag, aangesien dit nie so warm is nie en hulle meer energie het om te gebruik. Dit raak wel koud in die aande gedurende hierdie maande, so dit is belangrik om warm klere in te pak, veral as jy op wildritte wil gaan!

Die somer bied weer ’n hele ander ervaring. Die Wildtuin spog met groen, ruie plantegroei tydens die somerreënseisoen en die damme en riviere is vol. Einde November en begin Desember is veral ’n opwindende tyd om in die Wildtuin te wees, aangesien daar dan baie diere gebore word. Om te kyk hoe die welpies en bokkies vir die eerste keer nuwe dinge ervaar, is besonders! Voëlkykers sal ook mal wees oor hierdie tyd van die jaar, aangesien voëls wat in die somer na Suid-Afrika migreer dan in die Wildtuin te sien is. 

Gee sommer nou al vir jouself ’n lekke vakansie om na uit te sien en bespreek nóú jou plekkie in die Bosveld!


Hooffoto: Bigstock

Die blog is oorspronklik deur Ingrid Heydenrych geskryf en is verwerk en aangepas deur Bea Lingenfelder.

Lees ook:

Het jy al van dié SANPark-skatte gehoor?

9 Kuierplekke naby die Krugerwildtuin se hekke