Die Vallei van ’n Duisend Heuwels is vernoem na die talle heuwels, kranse en valleie wat die Umgenirivier omsingel. Dié rivier vloei vanaf die Drakensberge tot by die Indiese Oseaan en sluit die omgewing van Pietermaritzburg, Monteseel, Drummond, Botha’s Hill, Shongweni, Kloof, Gillits, Hillcrest, Waterfall, Pinetown en Durban in. Hier kry jy ’n kombinasie van die rustigheid op die plaas en inheemse kultuur op jou drumpel. Dit bied ook legio doendinge wat jou vakansie onvergeetlik sal maak. LekkeSlaap het gaan uitvind hoekom hierdie vallei so gewild is!

Pietermaritzburg

Butterflies for Africa

Butterflies for Africa is ’n tropiese sentrum met talle inheemse en uitheemse skoenlappers en hier is ook ’n kampie met ’n familie leeu-apies. In Duitsland staan hierdie langhaar-apies as “Liszt-apies” bekend omdat hulle so baie na dié komponis lyk. Hier is ook ’n heerlike koffiewinkel, die Blue Catepillar Kunsgalery, en ’n temawinkel wat speelgoed, dekor, aandenkings en geskenkies verkoop.

Butterflies for Africa se tariewe:
Volwassenes: R47
Kinders (3-16 jaar): R32
Pensionarisse: R40

Toegang tot die leeu-apies se afkamping:
R17 (alle ouderdromme)

Lekke blyplekke in Pietermaritzburg: Wensleydale Guest Lodge | Tancredi B&B79 On Ridge Bed & Breakfast

Botha’s Hill

1000 Hills Brewing Company

Hierdie brouery vorm deel van die 1000 Hills Sjefskool, en hiér leer studente die kuns van boetiekbierbrouery en hoe dit maaltye op die beste manier sal komplementeer. Vyf unieke biere, die “cheerleader”, die “graduate”, die “foreign exchange student, die “dean” en die “quarterback”, word hier gebrou en jy kan die broukuns by die restaurant of die Yes Chef Deli en Mikrobrouery geniet. Jy kan natuurlik ook ’n gratis toer deur die brouery doen en lekker teug aan ’n lafenissie of twee.

Lekke blyplekke in Botha’s Hill: Eagle Wind Manor | Rose Cottage | Lindisfarne B&B

Hillcrest

Inandadam en -oord

Die Inandadam en -oord is net ’n paar kilometer noord van Hillcrest en is bekend vir die Dusi Kano-marathon en die Inanda Baars-visvangtoernooi wat jaarliks daar plaasvind. Doendinge sluit boortvaarte, watersport, visvang, piekniekhou, ’n 2,5 km-voetslaanroete in die Mahlabathini Reservaat, asook ’n bergfietsroete van 90 km om die Inandadam in.

Lekke blyplekke in Hillcrest: Friar Tuck B&B | Rambling Rose | Fawncastle Estate

Kloof

Umgeni Stoomtrein

Kom saam op ’n prettige treinrit op een van Suid-Afrika se oudste treine. Dié roete begin by Kloofstasie en stop dan op die koloniale stasie in Inchanga, waarna almal dan lekker saam kuier in ’n teetuin. Jy kan ook piekniek hou hier, en daar is ’n spoorwegmuseum om te besoek. Carols by Candlelight is veral ’n gewilde en jolige rit wat jy vir seker nie wil misloop nie!

Let wel: Standaardekskursies op die laaste Sondag van elke maand en spesiale ekskursies op die eerste Sondag van elke maand.

Bespreek hier!

Krantzkloof Natuurreservaat

Droom jy nog altyd van ’n piekniek by die rivier of in Natal? By Krantzkloof Natuurreservaat kan jy by die Nkutu- en die Kloof Falls-piekniekareas onder die bome gaan ontspan of ’n vleisie op die kole gooi met die braaigeriewe wat beskikbaar is. Daar is ook verskeie voetslaanroetes soos Mukulu, Noordelike en Suidelike Lus, Baken, Woud, Langskadu Kloofvalle, Molweni, Mphiti, Nkutu, Pumula en Uva. ’n Roete is beskikbaar vir elke fiksheidsgraad.

Phezulu Safaripark

As jy lus is vir ekstra opwinding, gaan maak ’n draai by Phezulu Safaripark. Hier geniet jy nie net ’n egte Zoeloe-kultuurervaring nie, maar ook ’n krokodil- en slangpark, een van die beste kunsvlytwinkeltjies in die provinsie, en ’n Swazi-kerswinkel. En vir diegene wat lus is vir ’n uitdaging, is daar veldloop-wedrenne in Julie en November. Jy kan sommer ’n aand of twee ook hier oornag!

Lekke blyplekke in Kloof: The Old Stone House | Phezulu Safari Park | Bizafrika Guest Lodge & Conferencing

Shongweni

Shongweni Natuurreservaat

Vir die avontuurlustige siele is daar boot- en kanovaarte en watersportsoorte, asook visvang-geleenthede (hoofsaaklik baars, babers, kurpers en karp) op die Shongwenidam, wildritte, rotsklim teen die sandsteenkranse en voetslaan- en selfry-roetes, maar dis nie al nie! Jy kan ’n lekker piekniek hou en kyk hoeveel van die 260 voëlspesies jy kan gewaar. Daar word ook jaarliks ’n vlermuis-safari gehou waartydens jy kan sien hoe die vlermuise in die ou damwal nesmaak.

Ingangsfooi:
Volwassenes: R37
Kinders & pensionarisse: R25

Shongweni Plaas- en Kunsmark

Hierdie mark vind elke Saterdag van 06:30 tot 11:30 plaas en allerhande produkte is te koop. Van melk en brood tot koeke, pasteie en nog baie meer! Dié mark is rolstoel- en troeteldiervriendelik en daar is ’n speelarea vir kinders (gratis vir kinders onder 4 jaar).

Lekke blyplekke in Shongweni: Ollivanders Estate | Treehouse River Lodge | Clifton Country House

iSithumba- en eNanda Avontuurpark

Dié twee parke is deel van Durban Green Corridors, ’n organisasie sonder winsbejag wat poog om ons jeug te ontwikkel, die ekonomie te bevorder, en die omgewing te bewaar.

iSithumba is ’n plattelandse Zoeloedorpie in die Vallei van ’n Duisend Heuwels wat spog met skilderagtige bergpieke en kranse, suisende riviere, groen valleie en talle woude. Doendinge sluit bergfietsry- en voetslaanroetes, voëlkyk, begeleide toere, perdry, kroeë en piekniek-geleenthede in.

eNanda is op die oewer van die Inandadam en is ’n puik bestemming vir avontuursport. Avonturiers en adrenalienvrate kan uitsien na bergfiets-, 4×4- en voetslaanroetes, kano- en kajakvaart en snorkel.

Lekke blyplekke in die omgewing: Warrens Guest House | Maple Tree Manor | Grassroots Bed and Breakfast

Pinetown

Giba Gorge Bergfiets- en Avontuurpark

Die Vallei van ’n Duisend Heuwels bied oorgenoeg opwindende doendinge. Maar as jy nog nie genoeg gehad het nie, kan jy gerus ’n draai maak by Giba Gorge Bergfiets- en Avontuurpark. By dié park is daar iets vir ’n ieder en ’n elk – van fietsry tot perdry – alles op verskillende roetes wat wissel van baie maklik tot baie gevorderd, dit hang maar net af waarvoor jy jou wil inlaat!

Lekke blyplekke in Pinetown: 103 Bandb | The Bell Inn | Park Lane B&B

Robsons Brourery

By Robsons kan jy ’n bierproe-toer doen waartydens Brian Stewart, die hoofbrouer, die geheim van egte bier verklap. Jy kan sommer ook jou bagasie by ’n strandhuisie aflaai en jou asemrowende uitstappie met een van dié biere gaan afsluit.

Lekke blyplekke in Durban: Quayside 906 | The Palace All-suite | Oceanic

Bekende jaarlikse geleenthede wat in dié wêreld gehou word, sluit die Dusi Kano-marathon in Februarie, die Comrades-marathon in Junie, die Hill2Hill MTB-wedren in September en die Tsogo Sun Amashova Durban Classic in Oktober in.

Het jy geweet?

– Andrew Birknett en Sbonelo Zondi het 770 km gedraf en 1600 km geroei in hul voorbereiding om die 2014 K2 Dusi Kanomarathon te wen.
– Die gemiddelde ouderdom van mans en vroue wat aan die Comrades deelneem is 40.
– Hill2Hill vier hierdie jaar hul 12de bestaansjaar.
– Die eerste Amashova Durban Classic is die “Natal Mercury/Pick n Pay National Classic” genoem en slegs 150 deelnemers is toegelaat.

Die Vallei van ’n Duisend Heuwels is ook ’n vallei van ’n duisend doendinge en waar mense die passie deel om ons erfenis en natuurskoon te bewaar. Bespreek nou jou verblyf in die Vallei van ’n Duisend Heuwels en maak jou volgende uitstappie na KwaZulu-Natal een vir die boeke!

Hooffoto: Valley of a Thousand wows by Hambajalan (Facebook-blad)