Behalwe vir die feit dat CapeNature na die natuur omsien en besoekers en plaaslike gemeenskappe opvoed oor hoe om ons nauurlike omgewing te bewaar, bied hulle ook onvergeetlike ekotoerisme-ervarings waartydens jy die natuurskoon kan bewonder – van adrenaliensport soos bouldering, kloofing en kajakvaar, tot meer rustige aktiwiteite soos stap, visvang en walviskyk. 

Die natuurreservate bied sommer ’n hele rits voetslaanroetes vir besoekers van oud en jonk. Daar is kort wandelpaaie wat ideaal is vir gesinne met kinders, langer en minder uitdagende voetpaaie vir diegene wat minder ervare is, en meer uitdagende, dae lange voetslaanroetes vir kranige stappers. LekkeSlaap.co.za het ’n bietjie meer oor die uitdagende staproetes wat oor verskeie dae strek gaan loer en dié lysie minder bekende roetes vir jou saamgestel.

Swartberg Natuurreservaat

Die Swartberg-voetslaanroete

lekkeslaap, lekkeslaap swartberge, swartberge hike
’n Uitsig op die Swartberge vanaf Wildehondekloof.

Die Swartberg-voetslaanroete in die Swartbergnatuurreservaat is ’n sirkelroete wat by die De Hoek Private Resort op pad na die Swartbergpas, sowat 35 kilometer buite Oudtshoorn begin en eindig. Maak seker jy is vroeg uit die vere, want jy gaan die meeste van die tyd klimwerk doen. Dit is ’n uitdagende roete van 8,4 kilometer na Bothashoek-hut en nie vir beginners nie. Die hut is ’n basiese drieslaapkamerhut met slaapplek vir twaalf stappers, ’n kombuis, ’n kouerwaterstort en spoeltoilette. Daar is braaiplek buite, maar julle moet julle eie hout of houtskool saamdra. 

Ons stel voor jy slaap in Oudtshoorn oor, so na moontlik aan De Hoek. De Kombuys, 25 kilometer buite die dorp, is ’n lekker opsie. Hier is jou ontbyt sommer ingesluit, so jy kan lekker uitrus en ’n behoorlike maaltyd geniet voor jy die steiltes aandurf.

Afstand: sowat 20 kilometer oor twee dae
Moeilikheidsgraad: Dit is ’n moeilike staptog en nie vir beginners nie.
Beste tyd om te stap: September tot Oktober of April tot Mei
Kostes: R130 per persoon per nag
Reservaatpermit: R50 per volwassene per dag en R30 per kind per dag
Aantal stappers: Minimum drie stappers tot maksimum twaalf stappers word op die roete toegelaat.
Kontak: 087 087 8250 of 087 087 3002 of 087 087 3943 

Die Donkey-roete

lekkeslaap, hike, gamkaskloof hike, Die Hel, Calitzdorp lekkeslaap
Die Gamkaskloofvallei naby The Retreat at Groenfontein.

Die Donkey-roete is ’n staproete soos geen ander! Behalwe vir die uitstekende uitsigte word jy deur donkies wat jou bagasie vir jou dra, vergesel. Die roete is 25 kilometer lank en duur vier dae — ’n unieke ervaring wat biodiversiteit, geskiedenis en erfenis kombineer om stappers ’n onvergeetlike ervaring te verseker.

Tussen 1830 en 1962 was daar geen paaie na die afgesonderde Gamkaskloofvallei, of Die Hel soos dit ook bekendstaan, en die inwoners kon slegs met ’n paar voetpaadjies die berge na Calitzdorp en Prins Albert oorsteek. Die inwoners moes die paadjies gebruik om produkte vanuit die vallei na die markte te vervoer en om voorrade na die gebied terug te bring — en hoe het hulle al daardie goedere vervoer? Met donkies!

Die roete neem jou terug in tyd, op dieselfde roete wat die inwoners en donkies daardie tyd aangedurf het. Die roete kronkel verby antieke rotskunsterreine, kenmerkende pionierargitektuur en interessante plantspesies, en jy word deur die donkies en lede van die plaaslike gemeenskap, wat as gidse en donkiehanteerders opgelei is, vergesel. Op pad smul jy aan plaaslike kookkuns en die bekende port uit die streek. 

As julle op soek is na gastehuisverblyf naby die staproete se beginpunt kan julle by The Retreat at Groenfontein bespreek, waar ontbyt en aandete ingesluit is. Vir selfsorgopsies kan julle na Groenfontein Guest Farm, Adam se Huisie, Bailey’s Riverside Cottage en Kraal Cottage loer.

Afstand: 25 kilometer oor vier dae
Moeilikheidsgraad: Die roete is matig tot straf en stappers moet fiks wees om die roete te kan voltooi.
Kostes: op versoek beskikbaar
Ingesluit: alle etes, peuselgoed, beddegoed, handdoeke, gidse, donkies, CapeNature-reservaatfooie en vervoer oor die Swartbergpas
Kontak: 073 593 4007 of 083 628 9394 of info@donkeytrail.com

Hottentots-Holland Natuurreservaat

Die Boland-voetslaanroete

Hottentots Holland mountains, Hottentots Holland lekkeslaap, Hottentots holland nature reserve, boland hiking trail
Die Hottentots-Hollandberge agter Lalapanzi Lodge.

Die rotsagtige berge, helder veldblomme en natuurlike poele maak die Hottentots-Holland Natuurreservaat ideaal vir uitdagende staproetes. Die oornagstaproetes bied twee oornagplekke, een met twee hutte en nog een met een hut. Al die roetes begin en eindig by die parkeerarea langs die kantore. Stappers moet fiks, ervare en goed toegerus wees vir uiterste weer wat vinnig kan draai.

Daar is ’n paar roetes om van te kies, die Sphinx-roete, die Orchard-roete, die Landdroskop Jeep Track-roete en die Boesmanskloof-roete. Die roetes kan bymekaar gesit word om ’n langer staproete te vorm. Van Nuweberg, waar die parkeerarea en kantoor is, stap jy 12 kilometer na die Landdroskop-hut toe, van Nuweberg tot by die Boesmanskloof-hut is dit 14 kilometer in die teenoorgestelde rigting, en van Boesmanskloof tot by Landdroskop is dit 17,6 kilometer.

Daar is oornaghutte by Landdroskop en Boesmanskloof. Elke hut het slaapplek vir 30 stappers in vier kamers wat apart bespreek kan word. Stapelbeddens, matrasse en water word voorsien, en hout kan by die ingangshek na die natuurreservaat gekoop word. Let asseblief daarop dat vure slegs in die aangewese areas toegelaat word.

Ons dink Trail’s End in die Elginvallei is ideaal vir oorslaap voor en ná die staproete. Dié hotel is ’n gunsteling onder buitelug-liefhebbers en spog met bergfiets- of drafroetes, ’n verhitte 20 meter-swembad, ’n restaurant en ’n gesondheidsentrum met pilates-klasse, ’n fisioterapeut, ’n masseerterapeut en ’n kiropraktisyn.

Afstand: tussen 12 en 17 kilometer per dag
Moeilikheidsgraad: Matig tot straf, en stappers moet fiks, ervare en goed toegerus wees vir uiterste weer.
Beste tyd om te stap: Lente- en somermaande sal die beste tye wees, maar die roete is ook in die wintermaande oop.
Kostes: vanaf R260 per persoon per nag
Reservaatpermit: R50 per volwassene per dag en R30 per kind per dag
Aantal stappers: Vyftien stappers
Kontak: 087 087 8250 of 028 841 4301/02 of 082 413 5258

Boosmansbos Wildernisarea

Die Wilderness-roete

wilderness trail, Boosmansbos nature reserve, Grootvadersbosch lekkeslaap, grootvadersbosch hike
In die Langeberge naby Brackenhills Privaat Natuurreservaat en Boosmansbos Wildernisarea.

Die roetes in dié reservaat is ongemerk en stappers kan hulle eie roetes volg. Let egter daarop dat julle voorbereid moet wees en genoeg kos en water, warm klere, die regte stapskoene en ’n kaart moet hê. Die Wilderness-roete is ’n twee dae lange roete wat oor 27 kilometer strek. Die eerste dag stap jy sowat vyf uur op ’n ou tweespoorpaadjie teen Loerklip uit en die tweede dag stap jy sowat ses uur lank in Saagkuilkloof af deur inheemse woude, klowe en bergfynbos. Die terrein is plek-plek nogal uitdagend, so maak seker jy weet wat jy doen. Julle sal egter met geurige bergfynbos, pragtige proteas en erikas beloon word. Wees op die uitkyk vir ’n verskeidenheid bokke, muishonde en muskeljaatkatte. Daar is ook sowat 200 voëlspesies in die reservaat, so bring gerus jou verkyker saam en kyk hoeveel jy kan aftiek!

Dit is belangrik om te let dat die oornaghut baie basies is en dat daar nie enige toiletgeriewe is nie. Gaste moet dus alles wat hulle nodig het, saam met hulle dra. Alle afval en toiletpapier moet begrawe word, en alle vullis moet weer uit die reservaat gebring word. 

Die naaste dorp is Heidelberg en hier sal jy sommer ’n rits verblyfopsies raakloop, maar as jy ’n bietjie nader wil kuier voor en ná jou staproete, kan jy by Brackenhills Private Nature Reserve, Strawberry Hill Farm of Fleckvieh Guest Farm aanklop wat almal aan die Grootvadersbosch Natuurreservaat, langs die Boosmansbos Wildernisarea, grens.

Afstand: 27 kilometer oor twee dae
Moeilikheidsgraad: Die terrein kan moeilik wees en stappers moet vir slegte weersomstandighede voorberei.
Beste tyd om te stap: Lente- en somermaande is ideaal
Kostes: op versoek beskikbaar
Reservaatpermit: R70 per persoon per dag. Kinders onder twaalf jaar word nie toegelaat nie.
Aantal stappers: Slegs twaalf stappers per dag word in die natuurreservaat toegelaat.
Kontak: 087 087 8250 of 021 659 3500 

De Hoop Natuurreservaat

Die Whale-roete

whale trail, de hoop nature reserve, de hoop nature reserve lekkeslaap, de hoop nature reserve hike
Die uitsig oor die kus langs roete. Foto: flowcomm op Flickr.

Die roete is ’n onvergeetlike ervaring en neem jou deur een van die Wes-Kaap se mees unieke en diverse natuurreservate. As jy die walvisse in die water sien baljaar, sal jy verstaan waarom hierdie staproete só spesiaal is. Die roete begin by Potberg, jy slaap sommer die eerste aand al hier oor, en neem jou sowat 55 kilometer deur welige fynbos met uitstekende uitsigte oor die kus, tot by Koppie Alleen. 

Die vyf oornaghutte skuil aan die voet van die Potberge. Elke hut het slaapplek vir twaalf stappers in drie slaapkamers met vier beddens elk. Daar is ook braaigeriewe, sonkrag, badkamers met sonkrag- of gas-geisers, toegeruste kombuise en vuurmaakhout. Stappers moet hulle eie slaapsakke en vuuraanstekers saambring. Opwasmiddel en toiletpapier word in die hutte voorsien, maar stappers moet hulle eie toiletpapier en ’n grafie vir die roete self saambring.

Wat hierdie roete so lekker maak, is dat ’n vervoerdiens beskikbaar is om jou ekstra bagasie te vervoer. Dit beteken jy kan sommer net met jou dagrugsak stap, die uitsig al langs die roete bewonder, en saans sal al jou benodighede reeds by die volgende hut wees. Wanneer julle klaar gestap het, is ’n pendeldiens vanaf Koppie Alleen terug na Potberg se ontvangsarea reeds by die prys ingesluit.

Voor en ná die roete kan julle groep lekker naby die beginpunt by een van De Hoop Natuurreservaat se blyplekke oorslaap. Ons stel Campsite Rondavels, Equipped Cottages en Vlei Cottages voor.

Afstand: 55,7 kilometer oor vyf dae
Moeilikheidsgraad: Die roete is redelik straf en die intensiteit wissel daagliks.
Beste tyd om te stap: Tussen Junie en November tydens die walvisseisoen
Kostes: R1 920 per persoon. Indien stappers van die vervoerdiens gebruik maak, sal hulle ook R520 per eenheid (boks) moet betaal.
Reservaatpermit: R50 per volwassene per dag en R30 per kind per dag
Aantal stappers: Beperk tot groepbesprekings van ses tot twaalf stappers. Let dat kinders onder agt jaar nie toegelaat word nie.
Kontak: 087 087 8250 of 087 087 4012

Cederberg Wildernisarea

Die Cederberg-erfenisroete

cederberg lekkeslaap, cederberg hike, cederberg accommodation, Cederberg Heritage Route
Rotsformasies in die Cederberge naby Mount Ceder.

Die Cederberg-erfenisroete bied ’n versameling van ses gemeenskapsgebaseerde staproetes in die Cederberge. Die vyf korter roetes is twee tot vyf dae lange roetes, afhangend van opsionele ekstra dae wat bygevoeg kan word, en die Cederberg 100-roete is 100 kilometer lank en neem agt nagte en sewe dae om te voltooi. Al die roetes sluit verblyf, maaltye, donkiekarritte en permitte in. Die verblyf wissel van gerieflike gastehuise tot meer basiese tuisverblyf, waarvan sommiges in die prentjiemooi Morawiese sendingdorpies geleë is. Stappers word deur plaaslike gemeenskapslede begelei en hulle bagasie word na die volgende aand se verblyfplek geneem, so hulle hoef net hulle dagrugsakke te dra.

Wat die roete so spesiaal maak, is dat die Cederberg-erfenisroete baie by gemeenskapsontwikkeling betrokke is en die roetes maak grootliks van dienste wat deur die klein, afgeleë gemeenskappe in die Morawiese sendingsarea van die Cederberge verskaf word, gebruik. Die plaaslike inwoners is verantwoordelik vir die verblyf, spyseniering, bagasievervoer, tradisionele donkiekarritte en begeleiding op die roetes.

Slaap voor en ná die roetes by Cederberg Algeria – Grey Rhebok, Cederberg Kliphuis – Cedar Rouge, Mount Ceder of Kromrivier Cederberg Park oor en verken sommer die res van die Cederberge — Mount Ceder bied ’n rits aktiwiteite en Clanwilliam is beslis ’n besoek werd!

Afstand: Die Wupperthal-roete is sowat 40 km lank, die Pakhuisroete is sowat 40 km lank, die Klein Krakadouw-roete is sowat 24 km lank, die Groot Krakadouw-roete is sowat 48 km lank, die Gabriel-roete is sowat 37 km lank, en die Cederberg 100-roete is sowat 100 km lank.
Moeilikheidsgraad: Die roetes wissel elkeen daagliks tussen matig en straf.
Beste tyd om te stap: Stappers kan heel jaar lank die roetes aandurf, maar neem in ag dat dit bedags baie warm in die somer en saans baie koud in die winter raak.
Kostes: op versoek beskikbaar
Aantal stappers: vir die Wupperthal-roete maksimum tien, die Pakhuisroete maksimum agtien, die Klein Krakadouw-roete maksimum agtien, die Groot Krakadouw-roete maksimum tien, die Gabriel-roete maksimum ses, en die Cederberg 100-roete maksimum ses
Kontak: chrtrails1@gmail.com of 083 468 8030


Dit maak nie saak hoe ervare jy is nie — ’n mens moet altyd goed beplan en seker maak jy is voorbereid vir ’n staproete. Lees vooraf op oor die staproete se terrein, wat die weersomstandighede gaan wees, watter toerusting jy gaan benodig, en stoor die nodige noodnommers op jou selfoon. En dan is jy reg vir jou volgende staproete. Watter een lyk vir jou die lekke’ste?

Hooffoto: South African Tourism op Flickr
Alle ander foto’s: LekkeSlaap.co.za