Amerika spog in flieks met die bekende Route 66, Australië se Great Ocean Road is ’n nasionale erfenis, en Noorweë se Trolstigen-roete laat ’n mens se adrenalien pomp selfs al kyk ’n mens net na die foto’s. Raak jy soms moeg daarvoor om te dink die gras is altyd groener aan die anderkant van die pad? LekkeSlaap het 5 roetes op eie bodem ontdek wat nie net spog met groen(er) weivelde nie, maar ook met woude, berge, strande, sonsondergange, koppies en wild. Langs die pad noem ons ook ’n paar interessante dorpies met (rug)sakpas-verblyf vir reisigers wat ’n rukkie wil vertoef. Kom verken Suid-Afrika se mooiste roetes waarop jy kan ry én bly!

Roete 1: N2-Tuinroete

Ry kringe in die bos langs die kus! Dié 200 km lange roete kry sy naam by die ryk plantlewe wat hier voorkom. Die flora op hierdie roete is só seldsaam en divers dat dit as ’n Internasionale Natuurerfenisterrein erken word. Fynbos floreer vanaf Mosselbaai tot by Stormsrivier en Knysna spog met pragtige kuswoud ─ die Outeniekwabos en die Tsitsikamma is altyd ’n lus vir die oog!

Vertoef hier: 

Plettenbergbaai word tereg “die juweel van die Tuinroete” genoem. Dié kusdorpie is ’n welbekende matriekvakansie-bestemming, maar oud en jonk stem saam: “Plett is pret!” Plett is ook naby verskeie besienswaardighede op die Tuinroete wat dit die ideale oornagbestemming maak. As jy op soek is na ’n lekker sakpasblyplek, oorweeg gerus Nothando Backpackers Lodge. Dié lodge het ’n kroeg waar gaste kan ontspan ná ’n lang dag op die pad, ’n gemeenskaplike kombuis en braaigeriewe vir ’n gesellige aand buite.

Kliek hier vir nog rugsakreisigersverblyf in die omgewing.

Ander groot dorpe op die roete: Mosselbaai, George, Knysna en Stormsrivier.
Doendinge: Reksprong by Bloukrans Bungy, voëlkyk by Birds of Eden of Radical Raptors, swem by die hoof- of Robbergstrand, perdry by Hog Hollow, fietsry by Buffalo Hills MTB, staptogte in Wildernis-, Outeniekwa-, Tsitsikamma-, of Goukamma-natuurreservaat.
Besienswaardighede: Robberg Natuurreservaat, Knysna Koppe, Tsitsikamma Nasionale Park, Stormsrivier Hangbrug en die Dalene Matthee Groot Boom.

Pretfeit: Een derde van die Kaapse Floraryk kom langs die Tuinroete voor. En alhoewel dié ryk net 6% van Suid-Afrika se grondoppervlak bedek, bestaan dit uit 45 000 verskillende plantspesies waarvan meer as 69% nêrens anders voorkom nie.

Roete 2: N12-Skatkusroete

Waar reisigers kulturele skatte ontdek! ’n Hele paar van Suid-Afrika se bekendste slagvelde, dorpe, besighede, goud- en diamantmynstreke is op hierdie roete. Dié roete, wat strek vanaf Emalahleni in Mpumalanga tot in George in die Wes-Kaap, neem jou ook op ’n skattejag na verskeie natuurwonders soos Die Krugerwildtuin, Witwatersrandrif, Die Groot Gat en rotstekeninge in Oudtshoorn.

Vertoef hier:

Oudtshoorn steek kop uit en skop stof op aan die einde van hierdie roete. Dit is die ideale plek om bene te rek en te rus ná die lang pad. Die wêreld se “Volstruishoofstad” is ook die grootste dorpie in die Klein-Karoo, en dit is hiér waar Amber Lagoon Backpackers Lodge jou hart sal steel. Dié selfsorgkothuis is van riet en steen, en die lodge bied genoeg skadu en ’n groot swembad vir die warm Karoo-dae. 

Kliek hier vir nog rugsakreisigersverblyf op hierdie roete. 

Ander groot dorpe op die roete: George, De Rust, Beaufort-Wes, Kimberley, Klerksdorp, Potchefstroom, Johannesburg en Emalahleni (Witbank).
Doendinge: Warmlugballonvlugte by Oudtshoorn Ballooning, volstruistoere by Highgate Ostrich Farm en staptogte saam TBI Advertures.
Besienswaardighede: Swartbergpas, Kango-grotte, Cango Ostrich Farm en Die Hel.

Pretfeit: Die N12-skatkusroete is 1360 km lank en loop deur 5 provinsies.

Roete 3: R101-Ou Johannesburgpad

Oud bly beter as nuut! Die ou R101 is ’n skilderagtige roete vir reisigers wat die gejaag van die N1 wil vermy. Die gedeelte van hierdie pad in Gauteng en Limpopo is ’n enkelpad wat vanaf Johannesburg tot by Polokwane in Limpopo strek. Wees op die uitkyk vir geverfde ou karre, draadkuns en interessante padstalletjies! Die sonsondergange agter die berge en bosveld is ook iets wat jy nie sommer elders in die land kan aanskou nie, so maak seker jy het jou kamera byderhand sodra die son begin sak.

Vertoef hier:

Dit is ’n rustige roete wat jou op ’n spirituele verkenningstog neem na Modimolle met die Waterberge in die agtergrond. Modimolle beteken “die voorvader se gees het geëet” en dié kunsryke omgewing is beslis kos vir die siel! Dié dorpie lê knus tussen Johannesburg en Polokwane. Verblyf hier is sentraal op die roete. Vul jou dag met kleur, kuns en ’n uitsig op Kranskop by Modimolle Funky Stay Backpackers! Die oorvloed kleur wat by dié blyplek gebruik word, weerspieël die kuns wat langs die R101 te siene is. 

Kliek hier vir nog rugsakreisigersverblyf in die omgewing.

Ander groot dorpe op die roete: Johannesburg, Pretoria,  Bela-Bela (Warmbad), Mookgophong (Naboomspruit), Mokopane (Potgietersrus) en Polokwane (Pietersburg).
Doendinge: Stap by Rhenosterpoort, gholfspeel by Koro Creek, stop by Toeka se dae, Thaba Kwena Krokodilplaas, Waterberg Zipline, Serendipity Eko-, of Wag ’n Bietjie-staproete.
Besienswaardighede: Waterbergmeander, Kranskop, talle padstalle, draadkuns, kombinasie van bosveld en berge, warmwaterbronne en Nylsvleilande met talle voëlspesies.

Pretfeit: In die 1860’s het die Jerusalem Trekkers ’n padkaart in die Bybel gevolg en ’n breë rivier ontdek. Hulle was só verwar dat hulle gedink het dit is die Nylrivier en dat die koppie langs die rivier ’n verwoeste piramide is. Dís waar die dorpie Nylstroom sy naam gekry het. Hierdie fout is gelukkig reggestel toe die owerhede die dorp herdoop het tot Modimolle ─ die naam wat die inheemse mense eeue gelede aan die koppie gegee het.

Roete 4: N2- en R61-Wildekusroete

Waar wilde winde die gewriemel van die stad wegwaai! Dié ongerepte roete in die Oos-Kaap strek vanaf Oos-Londen tot op die suidelike randjie van KwaZulu-Natal. Die Wildekus is baie ongerep en is bekend vir sy branders wat talle skepe deur die eeue vernietig het. Dis dié dat daar geglo word dat Port St. Johns waarskynlik vernoem is na die Sao Joao, ’n Portugese skip wat in 1552 hier gesink het.

Vertoef hier:

Die Port St. Johns-omgewing is steeds ’n tuiste vir die mense van Pondoland wat vandag nog ’n baie tradisionele leefwyse beoefen. Groen klei-rondawels versier die heuwels en grootvee dwaal gereeld op die strande rond. Port St. Johns is aan die einde van hierdie roete en is gerieflik naby Tweedestrand. As jy dié omgewing behoorlik wil verken, is Amapondo Backpacker Lodge nét die plek vir jou! Dit het ’n pragtige uitsig oor die kenmerkende kuswoud in Port St. Johns en is self ook naby die strand geleë. Pondolicious Kroeg en Restaurant, ’n pooltafel en ’n pokertafel maak dit ’n gesellige bestemming. Een van Amapondo se liefdadigheidsprojekte ondersteun die plaaslike kleuterskool, so gaan vind gerus meer uit daaroor as jy besluit om ’n dag of twee daar deur te bring.

Kliek hier vir nog rugsakreisigersverblyf in die omgewing.

Ander groot dorpe in die Wildekus: Haga-Haga, Morgansbaai, Keimond, Hole in the Wall en Koffiebaai.
Doendinge: Voëlkyk by Umzummvubu Retreat, verskeie staptogte soos by Hluleka-, Mkambati, of Silaka Natuurreservaat, dolfyn- en walviskyk, swem op Eerste- of Tweedestrand.
Besienswaardighede: M’bashe- en ook Cape Hermes Vuurtoring, Silaka Natuurreservaat, The Gap and Blowhole, sonsondergang op Mount Ethesinger en die waterval by Bulolo.

Pretfeit: Die Wildekus is die tradisionele tuiste van die Mpondo- en Xhosa-stamgroepe waar prominente Suid-Afrikaners soos Nelson Mandela en Thabo Mbeki gebore is.

Roete 5: R62-Wynroete

Roete 62 is die langste wynroete ter wêreld en strek oor 850 km vanaf Robertson tot by Oudtshoorn. Dié plattelandse roete bied toegang tot 69 wynplase, ’n paar brandewynkelders, vrugteboerderye en volstruisplase. Dit strek van die groen, lowerryke Boland tot by die oop vlaktes en kliprantjies van die Klein-Karoo.

Vertoef hier:

Robertson lê in die hartjie van hierdie bekoorlike Vallei van Wyn en Rose, naby die Breederiviervallei en die Langebergreeks. Daar is meer as 50 wynplase in dié vallei, so dis die perfekte plek vir reisigers om stil te hou en die kurktrekker uit te haal. Kom klink gerus ’n glasie en bederf jouself met ’n lekker nagrus by Robertson Backpackers. Dié ou Victoriaanse plaashuis dateer uit die 1880’s en het ’n pragtige uitsig op die berge. Besoekers kan ’n rustige aandjie voor die kaggel, by die kroeg of in die braai-area geniet.

Kliek hier vir nog lekker rugsakreisigersverblyf op Roete 62.

Ander groot dorpe op die roete: Oudtshoorn, Calitzdorp, Ladismith, Barrydale, Montagu, Ashton en Bonnievale.
Doendinge: Wynproe by Graham Beck, perdry by Melozhori, besigtig kuns by Robertson Kunsgalery, voëlkyk by Bird’s Paradise en kuier by Eseltjiesrus Donkey Sanctuary.
Besienswaardighede: Talle wynlandgoedere, Ronnies Sex Shop, Joubert House en Klipdrift Brandy Distillery.

Pretfeit: Roete 62 is vernoem na die Amerikaanse Roete 66, maar waar laasgenoemde stedelike en landelike gemeenskappe tussen Chicago en Los Angeles verbind, verbind Roete 62 dorpies en wynplase tussen Kaapstad en Oudtshoorn.

Met dié lekker roetes is daar baie plekke om te verken! So, ry jy of bly jy?

Hooffoto: Cea Swart