Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Western Cape

+32

Beskrywing

Toer vanaf die stadsliggies van Kaapstad na die geel Canola-velde van Caledon. Reis deur die rowwe landskap op pad na Piketberg, of die kronkelpad langs Gordonsbaai se blou horison. Ontdek die pêrel van Paarl en die lemoene van Citrusdal. Proe die Boland se wyn en die Weskus se bokkoms. Ry die skilderagtige pad van Robertson na Swellendam, en maak 'n draai in Stilbaai, Vleesbaai, Mosselbaai. Slaap salig in 'n witgekalkte vissershuisie in Jacobsbaai of 'n luukse kamer in Hermanus. Die Wes-Kaap pronk met verskeidenheid en skoonheid. Sy het eeue terug matrose betower met haar geflikflooi, en soos 'n goeie wyn raak sy net beter met ouderdom. Ervaar haar sjarme deur LekkeSlaap.

Die Wes-Kaap bied van die land se mees gewilde toerisme-aantreklikhede. Die provinsie dek 'n area van 129 370km² - amper die grootte van Engeland en Nederland! Tafelberg alleen het 'n groter verskeidenheid plantspesies as Engeland in geheel. Hierdie groot provinsie spog met 'n diverse topografie, van die bergreekse en vrugbare valleie in die Boland, die droë landskap van die Weskus, na die woudagtige Tuinroete. Elkeen van die Wes-Kaap se streke bied 'n unieke natuurskoon, en 'n gepaste toerisme-bestemming. Kapenaars ontdek self weer-en-weer nuwe plekkies en naweek doen-dinge, want in die Wes-Kaap is daar 'n oorvloed van interessante aktiwiteite.

Kaapstad, die Kaapse wynlande en die Tuinroete is die provinsie se kroonjuwele, spesifiek vanweë dié plekke se natuurskoon. Kaapstad is die provinsie se hoofstad, en ook 2014 se internasionale ontwerpstad. Die Moederstad is verlede jaar deur die New York Times koerant aangewys as die wêreld se beste toerismebestemming. Kaapstad spog met talle markies, museums en toerisme-aantreklikhede, maar hier kan jy ook luilekker op 'n Strand ontspan of in die tipiese Kaapse rustigheid op 'n stoep sit en wyn drink. Daar is verskeie strande om en in Kaapstad wat gewilde sonbaai plekke is. Clifton se vier strande is gewoonlik beknop gedurende Desember-maande, maar hier gaan jy dalk 'n internasionale ster of magnaat raakloop. Llandudno en Noordhoek is stiller strande waar jy lekker op die strand kan stap of met 'n branderplank in die see kan baljaar. Onthou net jou duikpak, die water kan snerpend koud wees! Agter Tafelberg en sy tower lê daar egter 'n diverse provinsie vol belofte en avontuur. Die geliefde Boland is 'n bekende wynstreek in die Wes-Kaap, en die streek se bekendste dorpe is Stellenbosch, Franschhoek en Paarl. Hierdie dorpe is bekend vir hulle ryk geskiedenis, historiese geboue, feeste en wyn. Besoek gerus Stellenbosch gedurende die jaarlikse Woordfees vir 'n week van kulturele verryking, of Franschhoek tydens die Bastille-fees. Fynproewers sal hul lippe aflek vir die Boland se AfriFranse kookkuns en internasionaal-bekroonde wyn en geskiedkundiges sal hulself verlustig in die talle museums en Kaaps-Hollandse argitektuur.

Die Tuinroete is 'n gewilde en skilderagtige roete wat strek vanaf Mosselbaai tot Nature's Valley. Hierdie streek is gewild gedurende Desember-vakansies, omdat die kusdorpies oor uitstekende strande, prag-akkommodasie en 'n feesstemming beskik. Die Tuinroete bied 'n wye verskeidenheid avontuursporte, van rekspring tot bergklim. Die Overberg is ook 'n bekende vakansiebestemming, en Hermanus is veral 'n gewilde opsie vanweë die walvisse wat jaarliks in die baai kom baljaar. Die rus van die Weskus lok vakansiegangers wat na stilte smag. Paternoster en Jacobsbaai is dutjiesdorpe met wit gekalkte huise en kleurvolle visserbootjies op die strande.

Die Wes-Kaap het 'n Meditereense klimaat van koue, nat winters en warm, droë somers. Die Kaapse weer is egter wispelturig en onvoorspelbaar, weens die diverse topografie en die kontrasterende Indiese en Atlantiese oseane. Die binnelandse Klein Karoo het koue, ysige winters en warm somers met donderstorms. Die Tuinroete en Overberg het koel, nat winters en gematigde, klam somers. Mosselbaai het een van die mees gematigde klimate in die wêreld, en interessant genoeg assosieër weerkundiges dit gereeld met Hawaii. Die gewildste toerisme-tydperk in die Wes-Kaap is die somer, maar die winter het egter ook sy voordele. Dié wat bereid is om verby die reën te kyk sal beloon word met grasgroen landskappe (veral in die Swartland.) Gedurende Julie tot September spog die Namakwaland met blommetyd wanneer hierdie luisterryke omgewing met 'n swetterjoel blomme spog.

Die Wes-Kaap is egter nie 'n provinsie wat in wit-en-swart uitgedruk kan word nie. Prentjies en foto's vertoon haar skoonheid, maar nie haar persoonlikheid nie. Gaan drink 'n wyntjie by die Wes-Kaap, ruik haar soutwaterparfuum en bewonder haar kleurvolle rok. Sy het 'n vermoë om vakansiegangers van regoor die land te lok.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Western Cape te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Western Cape te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.