Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Garden Route

+7

Beskrywing

“O as die windjie waai hier op Mosselbaai ... ek het my hart gaan los daar op Hartenbos,” sing Jakkie Louw. Ja Jakkie, dit is maklik om halsoorkop verlief te raak op die Tuinroete. Die streek tussen Stilbaai en Stormsrivier is immers een van die gewildste vakansiebestemmings in Suid-Afrika. Hier is avonture en landskappe wat jou tone laat omkrul van plesier. Die Tuinroete kronkel deur skouspelagtige natuurskoon en strek verby dorpies met spogstrande en 'n magdom aktiwiteite. Van Stilbaai se feestelike atmosfeer tot die magiese aantrekkingskrag van Daleen Matthee se Knysnawoud, hier is iets vir jonk en oud. Wanneer jy van Heidelberg af ry en die langpad begin draai net voor Mosselbaai, raak die horison ewe skielik see. Dan weet jy – dis vakansie.

Die Tuinroete is geleë in die Wes- en Oos-Kaap en strek vanaf die Indiese Oseaan tot by die berge van die Klein Karoo. Die Tuinroete, wat altesaam tien natuurreservate insluit, het sy naam gekry vanweë die streek se prentjiemooi en diverse natuurskoon. Hierdie stuk aarde spog met die ideale vakansieklimaat, en volgens die Guiness Book of Records, het die streek die mees gematigde temperatuur in die wêreld, kort op die hakke van Hawaii. Die somers is nie te warm nie en die winters is nie te koud nie, wat impliseer dat die Tuinroete regdeur die jaar besoek kan word. Kom reis saam met LekkeSlaap deur die Tuinroete. Skop jou skoene uit in Riversdal en maak jou hare los in Hartenbos. Maak jou voete nat in Grootbrak en gaan rus in Wilderness. Gaan soek vir Grootvoet in die Knysnabos en verloor jou hart in Tsitsikamma.

Feesgangers en sosiale vlinders sal floreer in die Tuinroete. Stilbaai is 'n opwindende, gemaklike en heerlike bestemming vir Desembervakansies. Families en jongmense is lief vir die dorpie se lewendige atmosfeer en strandmeer. Deur die dag is daar kinders met fietse in die strate, swemmers in die see, en snags word Stilbaai gevul met die reuk van braaivleisvure. Hartenbos is ook 'n besige vakansiebestemming, en weens sy ATKV-strandoord, 'n gewilde keuse onder Suid-Afrikaners. In Hartenbos is daar 'n vermaakprogram en waterwurm, om nie eers te praat van die onvergeetlike oliebolle by die markie nie. Vakansiegangers wat na iets anders smag, kan gerus 'n draai gaan maak in Knysna. Hierdie dorpie het 'n pragtige strandmeer en daar is talle aktiwiteite om jou vakansie mee te vul. Geniet 'n bootrit op Knysna se waters en proe sy gewilde oesters. Plettenbergbaai, die gunsteling-bestemming onder matrikulante, bied asemrowende uitsigte weens die dorp se ligging op 'n heuwel.

Dinge kan woelig raak in die Tuinroete, maar tussen die bogenoemde vakansiebestemmings is daar egter ook dutjiesdorpe wat rus en vrede bied. Die ligging van die meeste van hierdie dorpies impliseer dat ma en pa die stilte kan koester, terwyl die kinders steeds in die aanliggende dorpe kan sosialiseer. Jongensfontein is 'n pragtige dutjiesdorpie wat net 'n swemstrand en roomyskroeg bied, en dit is slegs 10 minute se ry uit Stilbaai uit. Na Stilbaai is Vleesbaai, 'n pragtige dorpie met asemrowende uitsigte oor die Indiese Oseaan. Vakansiegangers wat stil dorpies verkies kan ook Kleinbrak, Grootbrak, Heroldsbaai en Buffelsbaai besoek. Hierdie dorpies spog met pragtige swemstrande en uitstekende akkommodasie. Die Tuinroete bied soveel verskillende plekkies, jy kan altyd in 'n dorpie bly en daguitstappies na die natuurreservate of aanliggende strande onderneem. Op ontydige, reënerige dae kan jy met 'n boek in jou strandhuis ontspan of 'n fliek gaan kyk in Mosselbaai of George.

Die Tuinroete se natuurskoon slaan jou asem weg. Ry maar net die pad tussen George en Wilderness en kry 'n vlugtige blik op die pragtige, woudagtige vallei. In Wilderness is daar die Kaaimanskloof, 'n plek waar die klippe al rond gespoel is deur die seewater. Hier kan jy heeldag in die kloof ontspan en swem. Die avontuurlustiges kan 'n kano huur en die Touwsriver, wat kronkel deur Wilderness se pragtige wildernis, roei. Mense dink dikwels die bosse weerskante van die N2 tussen Knysna en Plettenbergbaai is Dalene Matthee se bos, maar die woud strek egter tot ver na Diepwalle. Hierdie geheimsinnige area het reuse geelhoutbome, varings en skim-olifante. In die aand word die reënwoud plek-plek verlig met vuurvliegies. Verken die droomplek van Kringe in 'n bos en Fiela se kind met 'n bergfiets-, stap- of 4x4-roete. Nature's Valley vervoer mens ook na 'n ander wêreld. Staan maar net kniediep in sy strandmeer en ervaar die Europese landskap. Branderplankryers moet die golwe beleef by die Gamkanna-natuurreservaat, of ten minste net die gewilde branders van Victoriabaai.

Toeriste van regoor die wêreld vlieg dae lank om die Tuinroete te beleef. Toer die N2 tussen Stilbaai en Plettenbergbaai, stap deur die natuurreservate en trap deur die Outeniekwaberge. Rus in 'n dutjiesdorp of vier fees by een van die gewilde vakansiebestemmings. Ruik die seelug, hoor die Knysna-loerie se geroep en voel die sagte seesand onder jou voete. Die Tuinroete weet hoe om die heuningkwas te gebruik – die landskap betower vakansiegangers en die ervaring bekoor besoekers. Besoek die Tuinroete saam met LekkeSlaap, jy gaan jou hart verloor en dalk nooit die plek wil verlaat.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Garden Route te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Garden Route te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.
World Travel Awards
Stem vir ons in die World Travel Awards!
Stem vir ons in die World Travel Awards!
stem
stem