Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Eastern Cape

+22

Beskrywing

Langs 'n ellelange Strand kronkel voetspore alleen in die sand. 'n Visstok bewe teen die branders wat breek. Rondom 'n rondawel strek die groen heuwels tot doer onder by die see. In die binneland vlieg 'n Knysna loerie met sy rooi vlerke oor die digte Tsitsikammawoud, en olifante wei luilekker in die Addopark. Vêr in die agtergrond lê die sneeubedekde Drakensberge en die misterieuse Uilhuis van Nieu-Bethesda. Die Oos-Kaap is 'n beeldskone wildernis, 'n plek waar die ongerepte natuur Vryheid bied. Wanneer jy oor die Stormsrivierbrug ry, los jy bekommernisse oor paaiemente en dividente aan die ander kant - hier is jy vry. Opeens is die gras groener, die water blouer en die strande witter. Dit is een van die seldsame plekke waar dit vir jou dikwels voel of jy die enigste persoon op aarde is. Kom ontdek die Oos-Kaap se sorgeloosheid saam met LekkeSlaap!

Besoekers aan die Oos-Kaap word begroet met diverse en prentjiemooi natuurskoon. Daar is sewe verskillende ekologiese gebiede in die provinsie – van die voet van die Drakensberge, die Karoo-landskap in die binnelandse weste, tot die 800 km-lange Wildekus. 'n Indrukwekkende verskeidenheid voëlspesies en die Groot 7 (die Groot 5 op die land en die witdoodshaaie en walvisse wat vanaf die kus gesien kan word) kom ook hier voor. Avontuurlustiges kan talle roetes deur die provinsie aanpak: daar is 'n kusroete van Port-Elizabeth na Grahamstad, 'n Stormbergroete van Moleteno tot by Aliwalnoord en 'n Baviaansroete van Uniondale tot by Patensie. Elkeen bied 'n unieke ervaring en vertoon die provinsie se diversiteit en saligheid. Van kaalvoet-rugsaktoere tot luukse safari's – in die Oos-Kaap wag daar 'n vakansie vir elke sak en smaak.

'n Desember-toer deur die Oos-Kaap se Sonskyn- en Wildekus is 'n absolute droomvakansie. Pak 'n branderplank op die motor se dak en skop jou skoene uit, want dis 'n roete wat jy kaalvoet moet aanpak. Die Sonskynkus strek vanaf Tsitsikamma tot by Oos-Londen, en ten spyte van die toeriste wat jaar na jaar meer word, het die oorspronklike ongerepte onopgesmuktheid behoue gebly. Avontuurlustiges kan in die Tsitsikamma-natuurreservaat gaan klouter en klim, of gaan rekspring by die brug bokant die Bloukransrivier. Jeffreysbaai is 'n gewilde vakansieplek met uitstekende golwe vir branderplankryers. Selfs al sit jy nie voet in die warm see nie, kan jy steeds die feestelike vakansie atmosfeer beleef. Elke Desember is daar talle Afrikaanse musikante wat die vakansiegangers op Jeffreysbaai vermaak. Vakansiegangers wat na 'n stiller alternatief soek, kan gerus 'n draai gaan maak by St. Francis, Kenton-on-Sea en Port Alfred.

Die Wildekus bied 'n luisterryke landskap aan rugsakreisigers - dit is waarlik een van Suid-Afrika se mooiste plekke. Die Wildekus het sy naam gekry by sy ongereptheid, skeepswrakke en verteekte strandmere. In hierdie streek kan jy 'n tradisionele Xhosa-gemeenskap teëkom, waar die vrouens kleurvolle klere dra en langsteelpype rook. LekkeSlaap het akkommodasie by Koffiebaai, waar besoekers op begeleide uitstappies na die Mthatha-riviermonding, Mapuzi-hange en Hole in the Wall kan gaan. Die laasgenoemde natuurwonder is nie net asemrowend om te aanskou nie, maar ook die geboorteplek van misterieuse stories en legendes. Die Xhosa-naam daarvoor is esiKhaleni, wat “plek van klank” beteken, en volgens die plaaslike mense is dié sandsteenformasie die ingang tot die geestelike wêreld.

Die Dwesa-natuurreservaat is ook in die Wildekus geleë, en hier tref jy die mooiste natuurtonele aan. Ellelange strande, groen graslande en woude bied 'n habitat vir verskeie dierspesies. Krokkodille kan in die rivier aangetref word, sebras en elande wei op die vlaktes en skaam blouduikers bly in die woud. Wanneer jy hier op die strand stap, voel jy waarlik soos die laaste (of eerste) mens op aarde. Die natuurreservaat is een van die oudste beskermde gebiede in Suid-Afrika, dit was eers 'n wegkruipplek vir Xhosa-koninklikes, maar dit is vanaf 1800 staatsgrond. Buite Graaff-Reinet is die pragtige Samara-wildreservaat waar besoekers saam professionele gidse die ontwykende Aardvark kan probeer opspoor, of bekend gestel kan word aan die hoogs beskermde jagluiperds. LekkeSlaap het ook 'n kliphuis naby die Baviaanskloof waar natuurliefhebbers kan rus.

Natuurliefhebbers moet definitief 'n draai gaan maak by die Addo-olifant Nasionale Park, naby Port Elizabeth. Dit word beskou as een van dié plekke op die kontinent om kennis te maak met grootvoete. Die park is in 1931 gestig om die lewens van 16 olifante te beskerm, en deesdae word meer as 600 olifante hier aangetref Benewens olifante, bied die park ook 'n truiste vir leeus, buffels, luiperds en renosters. En as geluk aan jou kant is en jy gewaard witdoodshaaie en walvisse, kan jy trots sê dat jy die Groot Sewe al in lewende lywe gesien het. Van die kus af kan jy ook die tweede grootste kolonie Afrika-pikkewyne op Bird Island sien. LekkeSlaap het spog-akkommodasie in die omgewing rondom die Addopark, en ook in Port Elizabeth. Terwyl jy in dié vriendelike en winderige stad kuier, kan jy gerus aanklop by al die kunsgallerye, musuems en winkels. Min mense weet dat Port Elizabeth die tweede oudste stad in Suid-Afrika is, en gevolglik met 'n kleurryke geskiedenis spog.

In die Oos-Kaapse binneland is daar verskeie versteekte juwele. Suid-Afrika se grootste kultuurfees word in Grahamstad gehou, en elke jaar stroom duisende vakansiegangers na dié pragtige dorp. Geskiedenis-liefhebbers kan gaan aanklop by Queenstown, 'n dorp met verskeie geboue wat dateer uit die Britse koloniale era. Die dorpie Nieu-Bethesdae is geleë in die Oos-Kaapse gedeelte van die Groot Karoo. Die Uilhuis, 'n onverwagse oase vir kunssinniges met unieke sementbeelde wat die werf vol staan, is geleë in hierdie dorpie sonder teerpaaie. Hierdie beelde is die handewerk van Helen Martins en haar assistent, Koos Malgas. Haar kluisenaarsbestaan op hierdie afgeleë dorpie, het 'n unieke erfenis agtergelaat. Martins het in 1976 haar eie lewe geneem, en die Uilhuis het 'n misterieuse, maar onheilspellende hartseer atmosfeer. Koos Malgas se kleinseun onderhou die beelde tot vandag toe, en dit is 'n iets wat mens moet sien om te verstaan.

Los jou bekommernisse en stadsjapie-klere aan die anderkant van die grens, pak 'n branderplank op jou motor se dak en reis deur die Oos-Kaapse wildernis. LekkeSlaap het orals langs die pad akkommodasie – van bekostigbare selfsorg-huisies tot luukse hotelle. Kom kuier by die Oos-Kaap – en sommer jou skoene by die huis!

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Eastern Cape te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Eastern Cape te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.