Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Cape Winelands

+2

Beskrywing

“Klein bietjie wyn, klein bietjie wyn, klein bietjie wyn vir my, en ook vir jou …” wanneer ons vakansie in die Kaapse Wynlande gaan hou! Hier kan jy van Paarl tot in Robertson wynproe by die mooiste wynplase wat al eeue lank pronk en Afrikaners plesierig maak. Wyn word al vanaf Jan van Riebeeck se dae hier gemaak, en van toeka tot nou staan dit trots langs Europese eweknieë op die winkelrakke. Ons Suid-Afrikaners weet egter die Kaapse wyn is die lekkerste in die wêreld! Die Kaapse wynlande het nie net dié vloeibare saligheid nie, maar ook 'n gepaste prentjiemooi landskap, ryk geskiedenis en ontspanne atmosfeer. Besoekers kan een van 18 amptelike wynroetes aanpak en langs die pad talle vermaaklikhede en smaaklikhede geniet. Kom kuier by die Kaapse Wynlande en sien – en proe – waarom dié kontrei maar breëbors mag spog.

Die Kaapse Wynlande strek vanaf Constantia in die Kaap, tot anderkant die berge na Riebeek-Kasteel en Ceres. Die bekendste dorpe is Franschhoek, Stellenbosch en die Paarl. Al die dorpies het 'n gemeenskaplike liefde vir wyn, pragtige geboue en berge, maar elkeen het wel 'n unieke karakter. Vir elke plattelandse inwoners is hulle dorpie die lieflikste, so jy moet maar self toer en kyk waar jou hart vinniger begin klop. Franschhoek word dikwels vergelyk met die Franse platteland, maar hier praat die mense teminste Afrikaans. Stellenbosch se omliggende omgewing spog met van die beste wynkelders in die land en die Paarl het sommer wynplase langs die hoofstraat. Die wingerde langs die straat is nie so verbasend as jy in ag neem dat die Paarl se hoofstraat die langste van sy soort in die land is nie!

'n Vakansie in die Kaapse wynlande kan op 'n rustige of opwindende pas verloop. Jy kan 'n uitgebreide toer doen deur die verskillende plekke of die beeldskone natuur vanaf 'n plattelandse huisie se stoep geniet. Die vakansie-aktiwiteite hoef egter darem nie net wynproe te behels nie! Daar is talle avontuur en doendinge vir mense van enige ouderdom. Die Kaap het 'n oorwegende Meditereense klimaat wat geskik is vir wynverbou, maar dit impliseer ongelukkig nie jaarlange sonskyndae nie. Die wintermaande is dikwels nat, koud en winderig en die wingerd is kaal. Die proelokale is egter dan nie so beknop met vakansiegangers nie en die landskap is pragtig met grasgroen heuwels, sneeu-bedekde berge en valleie gevul met varkore. Jy kan ook voor 'n warm kaggel inskuif met 'n boek en glas Merlot. In die somermaande hang die druiwetrosse swaar aan die wingerd en die weer is sonnig, maar partykeer snikkend warm. In die somer kan jy afkoel langs 'n swembad met 'n yskoue Sauvignon Blanc byderhand.

Wynproewers en fynproewers sal die Kaapse wynlande as die sewende hemel ervaar. Stellenbosch en die Paarl spog albei met topklas-restaurante, maar Franschhoek is ongetwydeld die kulinêre Mekka van Suid-Afrika. Stellenbosch het Suid-Afrika se oudste amptelike wynroete, maar dit is eers in 1971 ingehuldig. Een van die oudste kelders by die Spier-wynplaas is egter al vanaf 1767 in werking! Stellenbosch is 'n studentedorp en gevolglik is daar 'n goeie balans tussen spogwynplase met duur wyne en wynplase met 'n ontspanne atmosfeer en kuierplek. Gaan gerus na Morgenhof-wynplaas op die R44 vir 'n luukse ervaring of maak 'n draai by Beyerskloof-wynplaas vir 'n lekke kombinasie van wyn en hamburgers. Gee die kleiner plattelandse dorpies 'n kans ... hulle is die versteekte skatte van die wynlande. Tulbagh, Riebeeck-Kasteel en Rawsonville is kostelike plekke met hope karakter.

Die lekke’ste lekke is 'n fees in die Kaapse wynlande en hier is 'n paar wat die langpad werd is. Robertson hou jaarliks 'n Whacky Wine-fees, en net soos die naam aandui is dit 'n prettige uitstalling van die omliggende omgewing se kelders. Tydens die Bastille-fees in Franschhoek word daar ook behoorlik gepronk met die beste wyne. In die pragtige Riebeeck-Kasteel is daar 'n jaarlikse olyffees wat aan feesgangers die kans gee om hulle lippe af te lek en die dorpie van nader te leer ken. Kosliefhebbers en sosiale vlinders stroom na die jaarlikse Kaasfees toe waartydens daar meer as 17 ton kaas geëet word. Na oestyd aan die begin van die jaar, hou tientalle wynplase 'n oesfees waar jy druiwe met jou kaalvoete kan pers en die heerlike vrugte kan geniet. Die mense van die Kaapse wynlande weet hoe om behoorlik te ontspan en behoorlik partytjie te hou.

Die Kaapse wylande het egter twee betekenisse aan die naam – daar is wyn, maar ook 'n pragtige landskap wat vir besoekers wink om al die avontuur te kom geniet. Gaan klim 'n berg, spring van 'n waterval af, ry met 'n trekker. Een van die beste aktiwiteite in die Kaapse wynlande is fietsry. Die paaie is oor die algemeen redelik rustig, en tussen die dorpies kronkel die teer deur asemrowende natuurtonele. Indien jy 'n dapper muis is kan jy die Hottentots Holland-berge buite Grabouw aandurf of nog beter – die Suicide Gorge buite Villiersdorp. Laasgenoemde behels vreesaanjaende rotsspronge, 'n uitdagende staproete en koele bergpoele. Die mense wat koele bergpoele soek, sonder die hartkloppings, kan altyd 'n draai gaan maak by Bainskloof buite Wellington. Hier is pragtige bergstrome en rustige plekke waar mens heeldag kan afkoel.

Kom kuier by die Kaapse Wynlande en ry luilekker met 'n trekker tussendeur die wingerde of doen iets so eie aan die Kaapse leefstyl ... gooi vir jou 'n yskoue glasie witwyn en sit ure lank op 'n stoep. Die Kaapse Wynlande het geskiedenis, heerlike wyn en pragtige natuurtonele wat jou asem sal wegslaan. Daar is darem niks soos 'n Bolandse wynplaas nie! LekkeSlaap sorg vir die akkommodasie, kom proe jy net die internasionaal-bekroonde wyn en verken die talle skatte van die omgewing. Hier is nie net 'n klein bietjie wyn nie, hier is kelders vol!

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Cape Winelands te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Cape Winelands te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.
World Travel Awards
Stem vir ons in die World Travel Awards!
Stem vir ons in die World Travel Awards!
stem
stem