Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Johannesburg

+6

Beskrywing

Johannesburg het sy werkspak verruil vir 'n blink goue baadjie. Dié stad is al lankal nie meer 'n plek om net vir besigheid te besoek nie, maar is 'n vakansiebestemming met 'n lewendige kultuur en hope avontuur. Soos 'n Hoëveldse weerligstorm dreun die stad met energie, en waar die stadskern eens 'n plek was wat jy liefs sou vermy, is dit vandag 'n moet-besoek vir avontuurlustige toeriste. Wanneer jy in Johannesburg aankom, kan jy dadelik aanvoel hoekom Jozi die speelgrond van jongmense en entrepeneurs is. Johannesburg maak 'n opskudding – hierdie is immers Afrika se New York. Kom beleef die polsende energie saam met LekkeSlaap.

Johannesburg is 'n indrukwekkende plek. Dié wat nog nie in Johannesburg was nie, verbeel dikwels 'n vaal grys stad, maar Johannesburg is die grootste stedelike woud ter wêreld – daar is meer as 10 miljoen bome en 600 parke in die stad! Wanneer jy op die hoogste gebou in Afrika staan, die Carlton-wolkekrabber, dan sien jy eindelose boomtoppe wat tussen die geboue groei. Kapenaars vermeld maklik Johannesburg se misdaadreputasie, maar in hierdie vinnige stad vat dit vir die polisie ongeveer 60 sekondes om op 'n misdaadtoneel te reageer. In Johannesburg loop die pas op volspoed en wolkekrabbers en inkopiesentrums word byna oornag gebou. Al wat langer vat in Johannesburg as in die res van die land, is dat eiers langer gekook moet word (ook maar net 'n minuut langer), omdat die stad so ver van die see geleë is. Johannesburg is terloops die grootste stad in die wêreld wat nie langs 'n rivier, meer of kus lê nie.

Johannesburg het 'n interessante geskiedenis van stof en goud. Daar is in 1886 goud in dié area ontdek, wat 'n goudstormloop en stad veroorsaak het. Duisende mense wou in die rykdom deel en het na Johannesburg getrek om in die myne te werk en hierdie massamigrasie vind steeds plaas. Johannesburg is Suid-Afrika se sakekern en die speelgrond van jong entrepeneurs en magnate. Die stad se rol in die goudjare en Apartheidsjare het 'n boeiende erfenis geskep en hier is baie historiese plekke en museums vir nuuskierige agies. By die Apartheids-museum word besoekers begroet met 'n “Slegs Blankes” ingang, en dit is een van die beste plekke om meer te leer van Suid-Afrika se politieke geskiedenis.

Kunsliefhebbers kan die Wits-kunsmuseum besoek, 'n jong kunsgalery wat alreeds 'n leier is in moderne en kontemporêre Afrika kuns. 'n Begeleide toer deur Soweto sal vir jou 'n blik gee op kontemporêre Johannesburg kultuur, en hier sal jy 'n smakie kry van sy kleurryke en dinamiese straatlewe. In Vilakazistraat het Nelson Mandela en Desmond Tutu gebly – twee Nobel-pryswenners wat bure was! Vir 'n omvattende kulturele ervaring kan jy die Maponeng-wandellaan stap, waar talle kunsgalerye en unieke winkels winskopies bied.

Johannesburg is nie net 'n stad van goud en staal nie – soos reeds vermeld is daar talle parke en natuurreservate in die omgewing. Wanneer jy moeg is vir die lewe in die stad, volg die M16 na Emerentiadam, waar jy kan ontspan met 'n visstok in die hand. Johannesburg is op sy groenste tussen November en April, maar dié dam is veral 'n fotograaf se droom tydens herfs, wanneer die bome langs die dam na oranje en rooi verkleur. Aan die dam se westelike oewer lê die Johannesburg Botaniese Tuine. Gaan maak gerus 'n draai by die unieke Shakespeare-tuin, waar elke krui waarna Shakespeare in sy toneelstukke verwys het, geplant is. In die aanliggende rosetuin is daar meer as 4500 roosbosse geplant.

Ry nog 'n bietjie verder na Kloofendal, waar jy by die Walter Sisulu Nasionale Botaniese Tuin 120 voëlspesies en die enigste broeipaar witkruisarende in Johannesburg sal aantref, of stap 'n voetslaanpad in die Suikerbos-natuurreservaat. As jy slegs 'n dag in Johannesburg spandeer en die stad se vinnige pas jou tyd kortknip, moet jy 'n besoek aflê by Johannesburg se dieretuin. Dit is veral 'n lekker plek om te besoek na 'n lang vlug en hier kan jy wit leeus sien!

Johannesburg het restaurante en kuierplekke vir elke smaak en ouderdom. Of jy nou 'n jong werkende is wat na 'n harde dag by die kantoor 'n drankie wil geniet, of 'n gesin is wat die naweek met pizza's wil ontspan – daar is talle plekke. Bambanani in Melville is 'n restaurant met 'n wonderlike speelarea en oppassers wat verseker dat die grootmense én kroos 'n lekker tyd het. Op Beyers Naude-rylaan kan jy naweke gaan na die Lifestyle Garden Centre. Kinders kan na hartelus speel terwyl die ouers met groenvingers inkopies doen. Studente en jong werkendes sal Braamfontein se lewendige naglewe waardeer. Randlords is 'n dakkroeg wat 'n asemrowende uitsig oor die stad bied en die ideale plek is vir skemerkelkies na werk.

Kitchener's Carbery is die tweede oudste kroeg in die kontrei en The Guildhall bedien Portugese kos saam met plaaslike biere. Gaan maak jou keel nat by Gilro-mikrobrouery in Muldersdrif of doen 'n behoorlike biertoer by die SAB World of Beer. Afrikaners sal dol wees oor 'n maaltyd by Zietsies, 'n intieme restaurant waar Elsabe Zietsman kosmaak en die gaste vermaak. In die suide van Johannesburg is daar 'n uitstekende Portugese restaurant genaamd Parereirinha. Gaan maar na die rokersafdeling en sien die dasse wat honderde tevrede gaste daar gehang het.

LekkeSlaap het slaapplekke in en om Johannesburg – van Sandton tot Alberton en van Boksburg tot Roodepoort. Jy kan in 'n kostelike gastehuis bly wat wêrelde verwyder is van die stad se rumoer of in 'n kosmopolitiese hotel in die hartjie van die sakekern. Ons het ook rugsakreisigerlosies wat ideaal is vir studente en avontuurlustiges. Trek ook jou goue baadjie aan, ontdek Johannesburg en slaap salig saam met LekkeSlaap.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Johannesburg te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Johannesburg te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.