Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Gqeberha (Port Elizabeth)

+7

Beskrywing

Gqeberha het 'n vrolike atmosfeer wat jy aanvoel soos 'n laatmiddag sonnetjie wat op jou vel bak. Hier teen die Ooskus van Suid-Afrika sonbaai die “vriendelike stad” met sy voete in die Indiese Oseaan en sy kop tussen die olifante van Addo. Lekker strande, mense en aktiwiteite skep 'n permanente vakansie-gevoel en 'n kombinasie van klomp klein dingetjies maak PE spesiaal. Kom skubaduik by die St Croix-eiland, besoek 'n unieke geskiedkundige roete en drink 'n skemerkelkie saam met die locals. Jy gaan terug kom met 'n huppel in jou stap en 'n glimlag op jou gesig – dié plek laat 'n stadsbesoek soos 'n somervakansie voel.

Gqeberha is geleë in Algoabaai, wat al vir duisende jare bewoon is deur die Xhosa. Die eerste Europeërs het honderde jare voor Jan van Riebeeck by PE 'n pitstop gemaak – Bartholomeus Diaz het op St Croix-eiland in 1488 ankergegooi en Vasco de Gama het in 1497 na Bird Island verwys. Honderde jare daarna was PE 'n plek op kaarte waar matrose vars water kon kry en met die VOC se aankoms het PE en Algoabaai deel gevorm van die Kaapkolonie. Die destydse goewerneur van die kolonie, Sir Rufane Donkin, het die stad vernoem na sy vrou, Elizabeth. Gqeberha is egter nie die enigste plek in die wêreld met dié naam nie – een van New Jersey se voorstede dra ook dieselfde naam!

Gqeberha is demografies een van die grootste stede in Suid-Afrika, maar dit is egter net vyfde op die lys van stede met die grootste bevolkings. Dit beteken dat daar meer as genoeg plek is vir inwoners en vakansiegangers om die sonnige stad te geniet. PE het altyd bekend gestaan as die 10-minute-stad, omdat jy binne 10 minute by enige plek kon uitkom. Ongelukkig het die stad so uitgebrei dat dit deesdae 15 minute is! Buiten die spog-akkommodasie, vermaak en historiese geboue wat PE bied, is die middelpunt van belangstelling die 40 km lange ongerepte kuslyn. In dié stad heers daar heeltyd 'n vakansie-gevoel – mense ken PE as die “vriendelike” of “winderige” stad, maar ons hier by LekkeSlaap beskryf dit as die “lekkestad.”

Geskiedenisboffins se tone sal omkrul van plesier in PE. Die vrou waarna Gqeberha vernoem is, het tragies gesterf nadat sy geboorte gegee het aan 'n seuntjie. Haar man, Runfane Donkin, het 'n piramiede gebou as 'n gedenkteken vir Elizabeth. Die volgende verskyn op die plaatjie op die piramide: “In herinnering van een die perfekste mense, waarna hierdie stad vernoem is.” Hierdie stukkie geskiedenis en monument is een van 51 historiese plekkies op die Donkin-roete. Die roete kan te voet aangepak word en die kaart lei besoekers verby talle Victoriaanse huise en standbeelde. Jy kan die kaart by die toerismekantoor afhaal en dan teen jou eie pas stap.

Roete 67 is 'n interessante kuns- en geskiedenisroete, en is een van die mees opwindende stedelike ontwikkelings. Die roete kombineer moderne kuns en Oos-Kaapse geskiedenis op 'n unieke manier. Gaan na die Donkin-natuurreservaat se lighuis – hier begin die roete. Op die heuwel is die grootste Suid-Afrikaanse vlag in die wêreld en daar is verskeie kunswerke op die roete wat PE en Suid-Afrika se geskiedenis simboliseer. 'n Pragtige mosaiek lê aan die voet van Rufane se piramide, gekleurde trappe lei besoekers verby kunswerke en 'n muurskildery beeld verskillende Suid-Afrikaners uit. Een van die wonderlikste kunswerke op die roete is 'n stel pype wat die winderige stad se wind gebruik om musiek te maak.

Gqeberha is 'n speelgrond vir die avontuurlustige reisiger. Die hoofbesienswaardigheid is ongetwyfeld die strande! Kingsstrand is 'n lekker plek om te ontspan terwyl Hobiestrand ideaal is vir watersport en strandfeeste. Branderplankryers sal mal wees oor die branders by Pollockstrand en verliefde paartjies kan romantiese wandelinge langs Humewoordstrand en Blouwaterbaai geniet. As jy die strand ten volle wil waardeer, moet jy verkieslik douvoordag opstaan en in die oggend gaan – PE staan bekend as die winderige stad en die suidwestewind maak gewoonlik in die namiddag sy verskyning. Wanneer die Indiese Oseaan se horison jou naam roep, antwoord met 'n besoek aan St Croix-eiland. Dié eiland is sowat 20 km van PE se kus af, en omdat visvang verbied word, kan jy na hartelus skubaduik.

Besoek die Kaap Recife-natuurreservaat waar die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Mariene Rehabilitasie en Opvoeding (Samros) geleë is. Hier kan jy sien hoe gerehabiliteerde pikkewyne weer vrygelaat word en ook meer leer oor Suid-Afrika se diverse seelewe. Die Kaap Recife-natuurreservaat is slegs 'n paar minute buite Gqeberha en bied aan besoekers pragtige, stil strande en rotspoele – 'n uitstekende alternatief wanneer jy die besige strande wil vermy. Indien jy droë land verkies moet jy mik na die Swartkopsvallei-natuurreservaat. Hier wag daar 'n 22 km lange bergfietsroete. Nadat jy die roete aangedurf het, kan jy trap na die 23 km lange Baakensrivier-roete.

Wanneer jy bietjie wil ontspan sonder om jou tekkies of swembroek aan te trek, kan jy maar net in Gqeberha rondstap en die vriendelike atmosfeer waardeer. Gaan maar net na 'n kuierplek toe om 'n skemerkelkie te drink, of smul aan seekos in 'n spogrestaurant. Die inwoners is besonders gasvry en vrolik. Alhoewel daar verskeie uitstekende plekkies is waar jy kan knibbel en knaag, is daar 'n paar wat nogal opskudding veroorsaak. Die Bridge Street-brouery in Baakensvallei maak baie lekker bier en dit gons van die stadsjapies. Daar het onlangs 'n Brazen Head oopgemaak wat groot borde kos bedien. Albei dié kuierplekke is uitstekende bestemmings vir jongmense en mense wat jonk van hart is. 'n Ou en getroue kuierplek in PE is die Boardwalk Casino and Entertainment World. Dít is nie jou algemene kasino nie – die hele kompleks is gebou in 'n Victoriaanse styl en dit verskaf nie net hope vermaak aan besoekers nie, maar het ook 'n prettige atmosfeer en mooi voorkoms.

Daar is só baie opwindende dinge in Gqeberha dat jy verseker moeg gaan wees wanneer jy die aand gaan slaap. Maar moet nie bekommerd wees nie – LekkeSlaap het die beste beddens vir 'n salige nagrus in die vriendelike stad. Hier is gastehuise, selfsorg-eenhede en selfs hotelle waarvan jy kan kies. Kuier in die hartjie van die stad of rus in die buitewyke. Kom ervaar die kombinasie van stad en platteland, geboue en natuur – soos wat jy nét in Gqeberha kan kry.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Gqeberha (Port Elizabeth) te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Gqeberha (Port Elizabeth) te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.