Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Durban

+18

Beskrywing

Voel die wit sand onder jou voete terwyl dolfyne op die horison baljaar. Ry op 'n riksja langs die promenade en drink 'n skemerkelkie by 'n kosmopolitaanse kuierplek. Ruik die geur van kerrie en smul aan 'n bunnychow, terwyl jy rustig raak in Durban se vriendelike en ontspanne atmosfeer. Hardloop op die maat van Zoeloe-dansers se voetslag en dans op die ritme van stedelike vibrasies. Durban is 'n kaleidoskoop van kleure en geure. Hier teen ons land se kus ontmoet die Ooste, Weste en Afrika in 'n smeltkroes van kulture en avonture. Kom kuier by Durban en begroet Suid-Afrika se tropiese stad met 'n vriendelike “Sawubona!”

Durban moes vir baie jare terugstaan vir Kaapstad, maar in 2015 het die New York Times “Durbs” gelys in een van die top-10 moet-besoek-plekke in die wêreld. In dié gesogte vermelding word daar verwys na Durban se heerlike strande en netjiese infrastruktuur. Durban het die 9de besigste hawes in die wêreld. Hierdie hawe is 24 uur per dag en 365 dae per jaar in rep en roer. As Johannesburg Suid-Afrika se New York is, dan is Durban ongetwyfeld Miami. Durban se middestad het nagklubs, inkopiesenstrums en kunsgalerye. In die noorde lê daar gesogte woonbuurte met pragtige see-uitsigte en gholfbane. Die prentjiemooi Vallei van 'n Duisend Heuwels is geleë in die weste, terwyl Amanzimtoti se eindelose strande vir jou in die suide wag. Durban se subtropiese weer maak dit 'n jaarlange vakansiebestemming. In die somermaande raak dit baie warm, maar in hierdie wêreld word somerdae in elk geval in die see deurgebring. Durban staan nie verniet as Surf City bekend nie. Hier het jy nie eers 'n duikpak nodig nie – dis 'n tropiese plek dié en die water is heerlik matig.

Wat sal 'n besoek aan Durban wees sonder 'n dag by uShaka Marine World? Jy kan heeldag op die massiewe glybane baljaar, 'n dolfyndans aanskou en kennis maak met 'n haai. uShaka Marine World is vyfde op die lys van grootste akwariums in die wêreld. Benewens al die opvoedkundige vermaak en mallemeule, is daar ook 'n strand reg voor uShaka wat ideaal is vir snorkelduik, kajak en branderry. Durban het talle ander strande wat geskik is vir verskillende watersporte. Thompsonsbaai (30 km noord van Durban) het 'n veilige getypoel wat geskik is vir kinders, Umdloti-strand is ideel vir perdry en Bay of Plenty is gemaak vir besoekers wat net wil sosialiseer en ontspan.

Wanneer die noordoostewind in die middag sy verskyning maak en jy die sand van jou voete afwas, is daar duisende aktiwiteite wat in die stad wag. Herleef jou kinderdae met 'n besoek aan die Wave House Skate Park, wat ontwerp is deur die legendariese skaatsplankryer Tony Hawk. As jy meer hou van rolskaats, kan jy altyd jou ou paar uit die kas grawe en op die promenade gaan skaats. Maar as jy besef jou bene het die truuks van jou kinderjare vergeet het, kan jy rustig op 'n riksjafiets gaan sit en die bedrywige atmosfeer en uitsig oor die Indiese Oseaan geniet. Mik ná 'n dag van pret en plesier na die Durban Botaniese Tuine, waar die filharmoniese orkes rustig in die agtergrond speel.

Die Moses Mabhida-stadion is ook 'n plek waar jy 'n hele dag kan bestee. Die stadion is gebou vir die 2010 FIFA-sokkerwêreldbeker en vandag is dit 'n argitektoniese ikoon. Ná die sokkerwêreldbeker het die stadion 'n gewilde vermaakbestemming geword. Die gebou is nie net 'n leë dop nie, elke aspek daarvan word gebruik – selfs die massiewe boog wat bo die dak uittroon. Jy kan met 'n kabelkarretjie oor die boog ry en pragtige uitsigte geniet. Adrenalienvrate kan selfs van die boog afspring – 'n allemintige 220 m na benede en die hoogste sprong van sy soort in die wêreld! Die stadion pronk selfs in die Guinness Book of Records. Besoekers kan inkopies doen in die omliggende winkels en 'n lekker middagete geniet by een van die restaurante.

Durban bied 'n hele nuwe kulinêre wêreld, jy moet jouself net oopstel vir nuwe ervarings. Afro's Chicken en Surf Rider's Cafe is twee van die bekendste restaurante in Durban. Afro's Chicken bedien hoender soos wat 'n hoender moet proe – sag, sappig en propvol geur. Surf Rider's Café het 'n klomp heerlike disse op die spyskaart, en alles teen sakpaspryse. Jy kan nie Durban toe gaan en nie 'n bunnychow geniet nie, en House of Curries maak die lekkerstes. Wanneer die disko-ligte jou naam roep, kan jy maar antwoord, want in die middestad is daar baie nagklubs. Gaan maak 'n draai by die Oyster Box Hotel vir 'n spoggerige skemerkelkie op pad na Umhlanga. Maar kam jou hare voor jy gaan – dit is een van die deftigste hotelle in Suid-Afrika.

LekkeSlaap sal sorg dat jy darem 'n behoorlike nagrus kry terwyl Durban se kleur en geure jou betower. Ons weet van al die beste gastehuise in al die voorstede van Durban. As jy 'n plekkie soek waar jy nie net slaap nie, maar ook kan ontspan, kan jy gerus kyk na een van die lodges in dié kontrei. Kom beleef die lekke sonskyn, see en samesyn van Suid-Afrika se tropiese stad!

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Durban te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Durban te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.
World Travel Awards
Stem vir ons in die World Travel Awards!
Stem vir ons in die World Travel Awards!
stem
stem