Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Drakensberg

+19

Beskrywing

In die somermaande lig die draak haar kop heel omgekrap op, daar is 'n donderstorm en mens hoor haar grom in die gerammel. In die wintermaande is haar rugwerwels wit van die sneeu. Hier waar berge en dale mekaar ontmoet, word besoekers met avontuur begroet. Die Drakensberge se asemrowende landskap vertel 'n oeroue storie. Kostelike dorpies rus in die skadu van die berg, en opwindende staproetes kronkel op na die kruine. Kom rus in 'n romantiese berghut en slaap op die draak se rug. Herlaai jou batterye in die wonderskone natuur en skoon berglug. Wanneer jy weer terug is in die rustelose stad, bly hierdie prentjiemooi wêreld by jou, en laataand hoor jy die draak wat roep: “Kom terug!”

Die Drakensberge verdeel die land min of meer in twee dele – dit is nie net die grens tussen verskeie provinsies nie, maar vorm ook die natuurlike grens tussen Suid-Afrika en Lesotho. Die draak is ellelange rug vleg en draai deur KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Oos-Kaap. Die Drakensberg se platorand strek tot in Limpopo, waar dit in Makopane bekend staan as die Strydpoortberge. Dit is 'n streek van geografiese wonders – soos die tweede hoogste waterval in die wêreld en die hoogste punt in Suidelike Afrika. Die Drakensberge is die perfekte vakansiebestemming – beeldskone natuur, avontuur en om elke hoek en draai, 'n stukkie kultuur.

Wanneer is dan nou die beste tyd om by die draak te gaan kuier? Somermaande is die heuwels grasgroen, maar dit is ook die reënseisoen. Smiddae sal jy soms beloon word met 'n angswekkende, maar pragtige donderstorm. Die wintermaande is droog en gematig, maar saans kan die kwik daal tot ver onder vriespunt - mense kom nie verniet hierheen om sneeu te kyk nie! Besluit wat jy wil doen en kies dan die gepaste tyd om te gaan. Dit gaan egter nie 'n maklike besluit wees nie, want die doendinge is byna ontelbaar. “Foefieslaaid” oor boomtoppe en dryf met 'n trekkerbinneband by 'n rivier af. Vlieg met 'n helikopter oor die ontsagwekkende landskap, of trek jou tekkies aan en verken self die skilderagtige terrein. Onthou net om die bergpad fiks en goed toegerus aan te pak – die Voortrekkers het hom met osse aangedurf, maar die draak is nog lank nie getem nie! Laat ons nou eers die draak denkbeeldig aanpak – van kop tot stert.

Brandwagrots is die kop van die draak, wat stil oor die Golden Gate Nasionale Park in die Vrystaat waak. Fossiele van dinosourus-eiers is al in dié omgewing ontdek, wat dalk aandui dat die draak oor haar kroos waghou. Die park is 'n fantastiese bestemming vir natuurliefhebbers en avonturiers – benewens die pragtige natuurtonele is daar ook talle staproetes. Roetes kronkel en klim na versteekte grotte soos die Cathedral-grotte. Kombineer hierdie natuurlike speelgrond met 'n besoek aan Clarens, 'n kunstenaarsdorpie net oos van Golden Gate. Clarens word toenemend besoek deur stadsjapies wat smag na 'n blaaskans, en baie van dié moeë siele raak sommer permanente inwoners en lekker mense as hulle eers met Clarens se prentjiemooi omgewing en vreedsame atmosfeer kennis maak.

As jy dit regkry om nie lewenslank vas te haak in Clarens nie, sal jy beloon word met die bekoorlike KwaZulu-Natalse dorpies wat soos pêrels in die draak se nek sit. Bergville is 'n klein, rustige dorpie met die Drakensberg wat kolossaal in die agtergrond troon. Dié dutjiesdorp is halfpad tussen Johannesburg en Durban geleë, en staan bekend as die toegangspoort tot die Noordelike Drakensberg. Bergville is 'n uitstekende blyplek vir besoekers wat die omliggende omgewing wil verken. Gaan na die Retiefklip - die plek waar Piet Retief se dogter sy naam en geboortedatum op 'n rots geverf het. By die Retiefklip is daar ook 'n standbeeld van 'n kaalvoet vrou – 'n herinnering aan die Voortrekkers. Vat die R74 uit Bergville, ry verby Oliviershoekpas en draai regs by die bordjie as jy hierdie besienswaardigheid wil besoek. Stop by Winterton, as jy suidwaarts ry, en luister na die wêreldbekende Drakensberg Seunskoor.

Met die pragtige sang van die seunskoor wat weerklink in jou ore, kan jy verder reis na die uKahlamba Drakensberg-wêrelderfenisgebied. Dit is die eerste plek in Suid-Afrika wat as 'n kulturele én natuurlike wêrelderfenisgebied verklaar is. Hier hoor mens net die lied van die natuur en die duisende rotstekeninge vertel geluidloos van 'n oeroue geskiedenis. Die uKahlamba Drakensberg staan nie verniet bekend as die grootste buitelug-galery in Suider-Afrika nie. Sluit aan by 'n begeleide staptoer en gaan kyk na al die rotstekeninge – die bekendste een is in die Game Pass-skuiling in Kamberg-natuurreservaat – 'n beeld van 'n sjamaan wat 'n sterwende eland vashou. Avonturiers kan selfs in 'n grot slaap, maar vir die res het ons gerieflike en pragtige akkommodasie in die omgewing.

Die stert van die draak kronkel verby Himeville en Underberg, al die pad tot in die Oos-Kaap. Underberg is 'n plaasdorpie waar die boere in die omgewing hul kruideniersware kom koop. In die kroeë, padstalle en uitmuntende slaapplekke sal jy mede-reisigers teëkom wat ook hier is vir die natuur en die avontuur. Hengelaars stroom na die Mzimknulurivier om forel te vang en daar is staproetes vir besoekers van alle fiksheidsvlakke. Gaan op 'n saalsafari en aanskou die wonderskone uitsigte van 'n perd se rug af as jy nie kans sien vir die sweet nie. As jy baie murg in jou pype (en 'n 4x4!) het, kan jy gerus ook die beroemde Sanipas aandurf en 'n drankie gaan nuttig by die hoogste kroeg in Suid-Afrika. Diegene wat hou van partytjie, kan 'n draai gaan maak by die jaarlikse Splashy Fen-musiekfees, vir vier dae se dans, eet en jolyt.

LekkeSlaap het vir jou 'n lêplekkie orals om en op die Drakensberge. Bespreek blyplek in hierdie pragtige omgewing vir 'n blaaskans en hope avontuur. Maak kennis met die draak – jy gaan geheg raak!

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Drakensberg te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Drakensberg te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.
World Travel Awards
Stem vir ons in die World Travel Awards!
Stem vir ons in die World Travel Awards!
stem
stem