Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Bloemfontein

+6

Beskrywing

“Wys my jou naweeklyfie, jy is in vir 'n groot partytjie, dit maak nie saak hoe jy lyk nie ... Bloem bied 'n lekker tydjie!” Bloemfontein het die status van 'n groot stad, maar die atmosfeer van 'n plattelandse dorpie. Dié lekke plek is Suid-Afrika se hart se punt. Dit is die geregtelike hoofstad, die Rosestad en die studentestad. Hier is duisende doendinge, belangrike geskiedkundige monumente en pragtige natuurreservate. Maar dit is ook 'n dorpie in baie maniere met 'n permanente reuk van braaivleisvure. Die mense groet jou vriendelik in die verby-ry en wanneer die motor nie meer wil ry nie dan stop hulle ook om te help. Kom ervaar die Vrystaatse gasvryheid en skop sommer dadelik jou skoene uit.

Bloemfontein is die geboorteplek van groot name. J.R.R. Tolkien, die skrywer van "Lord of the Rings" en "The Hobbit", is hier gebore, maar ook 'n hele paar ander bekendes. Ryk Neethling, Hansie Cronje, Os du Randt, Zola Budd, Leon Schuster en Coenie de Villiers noem Bloemfontein hulle geboorteplek – dis omtrent 'n indrukwekkende lys van Suid-Afrikaanse legendes! Bloemfontein is ook die geboortestad van twee van Suid-Afrika se grootste voormalige politieke rolspelers, die ANC is in 1912 en die Nasionale Party is in 1914 in Bloemfontein gestig. Vandag is Kovsies, die Universiteit van die Vrystaat, een van die top-universiteite in die land. Groot skole soos Grey College en C&N Sekondêre Meisieskool Oranje kan in Bloem gevind word. Bloemfontein is propvol studente en jongmense, vanweë die klomp skole en universiteit, wat 'n groot bydra lewer tot die feestelike atmosfeer van die stad.

Bloemfontein het baie museums en gedenktekens wat stories vertel van Suid-Afrika se verlede. Die stad was deel van die onafhanklike Boere Republiek, dit was gekoloniseer deur die Britte en dit word beskou as die hartland van die ou Suid-Afrika. Leer meer oor die Anglo-Boereoorlog deur die museum en Vrouemonument te besoek. Laasgenoemde is opgerig as gedenkteken vir die vrouens en kinders wat gesterf het in die konsentrasiekampe tydens die oorlog. Hierdie gedenkteken was gebou na die Oorlog, en dit kon net gebeur te danke aan die klein finansiële bydraes van baie Suid-Afrikaners. Dit was moeilik in die Depressie-jare, maar selfs die armste gesinne het 'n muntstuk gegee sodat die gedenkteken opgerig kon word.

Kry 'n blik op Suid-Afrika se kunstalent deur die Oliewenhuis-kunsmuseum te besoek. Hierdie museum is sommer 'n kunswerk op sy eie, want dit is geleë in 'n pragtige neo-Kaap-Hollandse huis. Die mooiste skilderye van Pierneef kan hier besigtig word. As jy meer van Pienaar as Pierneef hou, moet jy gaan na die Choet Visser-rugbymuseum. Bloemfontein is die huis van die Cheetahs en die inwoners is besonders lief vir rugby. As jy dié liefde deel kan jy 'n afspraak maak en hierdie pragtige versameling van rugby-gedenkwaardighede sien.

Bloemfontein is die Rosestad, en daar is talle natuurreservate in die omliggende omgewing. Die Vrystaatste Botaniese Tuine is 'n moet. Die tuine is gestig in 1968 en behalwe vir die natuurskoon, is dit ook van geskiedkundige belang. Die opsigter se huis is gebou deur Italiaanse krygsgevangenes, die ou steenmure was gebou deur Britse troepe en prehistoriese ontdekkings kan gesien word in die Opvoedkunde Sentrum. Terwyl jy die tuine verken moet jy mooi kyk waar jy loop, want daar is meer as 50 reptielspesies in die tuine. Dit is die perfekte plek om heen te gaan as jy wil wegbreek van die stad se rumoer – maar hou ingedagte dat Bloemfontein een van die mees rustige stede in Suid-Afrika is.

Bloemfontein is die tuiste van die Cheetah-rugbyspan, en jy kan gaan rugby kyk by die Vrystaat-stadion. Vrystaters is oor die algemeen passievolle rugbyondersteuners, en dit is 'n heerlike ervaring om op 'n Saterdag saam in die gees te deel. In Bloemfontein kan jy egter ook regte jagluiperds sien! Die Cheetah Experience is 'n rehabilitasiesentrum wat 'n gewilde bestemming is vir besoekers. Hier kan jy stap saam met jagluiperds, leeus, muskejaatkatte en selfs wolwe. Besoek die Cheetah Experience deur op die R64 uit Bloem te ry en regs te draai in Du Preezstraat. Na 'n dag saam met die groot katte, kan jy sowat 20 km buite Bloemfontein gaan sterrekyk by die Boyden-sterrewag.

Daar is nie 'n tekort aan kuier- en eetplekke in Bloemfontein nie! Alhoewel Bloemfontein soms 'n reputasie het as 'n konserwatiewe plek, weet die Vrystaters hoe om partytjie te hou. Vir 'n behoorlike sokkiejol kan jy 'n langarm-draai gaan maak by Wiesbaden, 'n lekker kuierplek waar die mense lief is vir Afrikaanse musiek. As jy eerder 'n meer aweregse plek verkies, moet jy 'n bier drink by die Mystic Boer of die Aasvoëlklub. Albei hierdie kuierplekke word gereeld besoek deur alternatiewe musiekgroepe en kunstenaars. Mystic Boer word gereeld beskryf as die Langstraat (met verwysing na Kaapstad) van Bloemfontein.

Kom beleef jou eie episode van “Villa Rosa” en maak 'n bespreking by 'n gastehuis in Bloemfontein. Die stad is ideaal as 'n rusplek wanneer jy toer van noord na suid, maar dit is ook 'n plek wat verdien om verken en behoorlik ervaar te word. Wanneer jy in Bloemfontein aankom, word jy dadelik begroet met 'n vriendelike atmosfeer, en wanneer jy terug huis toe gaan dan kry jy 'n “dankie vir die kuier, maar kom gou weer!”

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Bloemfontein te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Bloemfontein te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.